Matteus 26: 69-75

Gedurende Jesus se aardse optrede is Petrus die uitgesproke een. Hy onderneem om altyd by die Here te bly. Hy is die een wat die daad by die woord voeg en Malgus se oor afkap en by ’n ander geleentheid op die water na Jesus toe loop. Petrus praat namens die dissipels wanneer hy sê dat Jesus die Christus is. Petrus voel heftig daaroor dat Jesus nie gekruisig sal word nie: Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie (Matt 16: 22). Petrus is die een wat grootmoedig verklaar dat hy bereid is om iemand sewe keer te vergewe. Onmiddellik wys Jesus hom tereg dat hy sewentig maal sewe keer moet vergewe. Aan die tafel tydens die instelling van die Nagmaal is Petrus die een wat sê al doen al die ander dit, sal hy wat Petrus is, Jesus nie verraai nie. Jesus wys Petrus op die gevaar: Wat jy sê, gaan verkeerd bewys word! Jy gaan My drie maal verloën. Daardie nag, terwyl die verhoor van Jesus aan die gang is, gebeur dit. Drie maal verloën Petrus vir Jesus met sy heftige ontkenning: Ek ken die man nie!

In ons belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van God, moet ons ook baie versigtig wees met wat ons sê. Ons belydenis is ’n oorweldigende saak wat nie anders kan nie as uitloop op die uitleef van ons belydenis. Belydenis word as’t ware ’n aktiewe daad. Elkeen wat sê dat Jesus die Christus is, moet sy en haar belydenis bevestig met ’n lewe wat daarvan getuig.

Hier is waar ons versigtig moet wees met ons woorde. Verloëning volg op belydenis. Dit beteken nie dat dit beter is om eerder nie te bely nie. Jesus het gewaarsku: Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt 7: 21).

Sê wat jy glo, en glo wat jy sê!

Gebed

Ek glo, Here! Help my in my ongeloof.

Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Share via
Copy link
Powered by Social Snap