Johannes 6: 16-21
Die inligting wat beide Matteus en Markus oor hierdie wonderwerk van Jesus gee, is verhelderend tot ons verstaan van die Johannes-weergawe. In al drie Evangelies volg dié wonderwerk op die wonderbaarlike vermeerdering van die brood. Matteus eindig sy vertelling met: Dié in die boot het voor Hom neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!” (Matt 14: 33, AFR2020). Markus sê dat hulle uitermate verbaas was oor Jesus wat op die water geloop het, maar dat hulle nie die wonders wat hulle so pas beleef het, in verband gebring het met die vermeerdering van die brood nie. Johannes maak nie melding van enige reaksie van die dissipels nie. Het die dissipels so gewoond geraak aan die wondertekens van Jesus dat dit hulle nie meer geraak het nie? Jesus voed ’n geweldige skare met vyf brode en twee visse. Die skare het gesien dat iets buitengewoon gebeur het. Hoe kon die dissipels so onaangeraak gebly het?
Jesus ken sy dissipels. Hy het geweet hoe eiegeregtig, hoe selfversekerd en hoe arrogant hulle kon wees en hoe hulle op hul eie krag en insig staatgemaak het. Hy is in beheer van die ganse skepping en daarom kan Hy op die water loop en bedaar die see en wind in sy teenwoordigheid. Jesus plaas hulle in daardie boot in die storm – daar waar hulle nie wou wees nie – sodat Hy opnuut sy heerskappy oor die natuur aan hulle kon toon en dit wat hulle nie op hul eie kon bereik nie, tot stand kon bring: geloof. Daardie nag red Jesus hulle van hulself. Hy toon aan hulle die impak van sy Goddelike teenwoordigheid.
Beleef ons nie dikwels dieselfde as die dissipels nie? Ons eie pogings bring ons eenvoudig nêrens. Die moeilikhede van die wêreld slaan soos golwe teen ons lewensbootjie en dreig soms om dit te vernietig. Die teenwoordigheid van Jesus maak altyd die verskil. Mag ons nooit gewoond raak aan die grootheid, die genade, die mag en majesteit van Jesus nie. Mag ons elke dag in verwondering uitroep: My Here en my God. U is die Christus!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
