Johannes 19: 38-42
Die Evangelies vertel vir ons dat Jesus eers gegesel en daarna gekruisig is. Hierdie beskrywing van Jesus se dood is deur verskeie mediese wetenskaplikes ondersoek. Hulle bevestig dat sy wonde baie waarskynlik vir sy dood verantwoordelik was. Selfs al was Jesus net bewusteloos aan die kruis, sou die swaard wat in sy sy ingesteek is, sekerlik die dood veroorsaak het. Mediese kundiges aanvaar dat die bloed en water wat uit Jesus se wond gekom het, waarskynlik bloed en die helder vloeistof was wat om die hart is. Hulle aanvaar uit hierdie beskrywing dat Jesus waarlik dood was.
Die gebruik was verder om die liggame van die dooies te balsem. Jesus se dooie liggaam is ook met mirre en aalwyn gebalsem en in doeke toegedraai (Joh 19: 40). Speserye is gewoonlik in ’n tipe pasta gemaak (ongeveer 25 kg daarvan), en reg rondom die liggaam aangewend. Die liggaam is dan met verskeie lae doeke toegedraai. Die implikasie hiervan is dat geen persoon wat net bewusteloos was, lank sou kon oorleef terwyl hy toegedraai is in al daardie speserye en doeke nie.
Al die getuienis dui dus daarop dat Jesus werklik gesterf het. Selfs indien Hy nie aan die kruis gesterf het nie, en mense net gedink het dat Hy dood was, sou die metode waarop Hy begrawe is, sy dood veroorsaak het. Dit is dus verregaande om te dink, soos skeptici al voorgestel het, dat Jesus na ’n tydjie in die koelte van die graf uit sy beswyming bygekom het en Homself ten spyte van sy beserings toe uit al die grafdoeke gewoel het. Jesus sou in sy beseerde toestand selfs nog meer moes doen. Hy sou die groot klip voor die graf moes wegrol en dan een of meer van die Romeinse soldate moes oorrompel om weg te kom.
Ds Juanita du Preez, Pierneef
