Markus 10: 46-52
In die Ou Testament word daar vertel van die Messias wat gaan kom. Hy sal uit die nageslag van koning Dawid wees. Boonop sal hierdie Messias iemand wees wat kom om die blindes te laat sien, en die dowes te laat hoor. Hy sal iemand wees wat nie met ’n ysterhand oor sy volk regeer nie, maar eerder met deernis. Daarom sal hierdie persoon die goeie herder wees, iets waarvoor koning Dawid eerste bekend was. Met sy geroep na Jesus as die seun van Dawid, beroep Bartimeus hom op Jesus se herderlike sorg en hulp.
Jesus vra dan vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Bartimeus kon vra vir enigiets haalbaar soos ’n geldjie, kos of klere, maar hy vra doelbewus die onmoontlike van Jesus. Hy vertrou dat Jesus ’n werklike verandering aan sy situasie kan bring. Daarom huiwer hy nie om te vra vir die onmoontlike nie – dat ek kan sien. Hy vertrou heeltemal op die Here. Hier gaan dit nie oor ’n wens wat hy vir Jesus sê wat Hy moet doen nie. Nee. Hy vra eerder dat Jesus ’n verskil in sy lewe maak. Jesus maak toe ’n aansienlike verskil! Bartimeus kon weer sien en daarmee saam kon hy deel van die samelewing word.
Na sy genesing kon Bartimeus kies om enigiets te doen, want nou sou die samelewing hom sien as iemand wat kan werk en ’n inkomste verdien. Dit sou iets wees waaroor hy gedroom het, maar hy kies om vir Jesus te volg. Nadat Jesus vir Hom gesê het dat hy maar kan gaan, kies hy vir Christus. Hy kon nie anders nie as om hierdie Jesus van Nasaret, wat sy lewe verander het, te volg. Die groot wonder wat Jesus vir ons aan die kruis verrig het, beweeg ons om dieselfde te doen. Laat ons die Here volg.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
