Jeremia 1: 4-19
Jeremia is nog bloedjonk en nou praat die God van hemel en aarde met hom oor hoe hy lank voor sy geboorte reeds afgesonder is vir ’n groot profetiese werk. Hy is bestem. Is dit ’n groot uitsondering dat God hierdie spesifieke gedagtes vir Jeremia gehad het? Of beteken dit dat God miskien vir u en my van die begin af ’n plan het?
Jeremia is bekend as die lydende profeet. Hy was in konstante worsteling. Die las wat God hom opgelê het, was swaar. Maar ten spyte van sy konstante protes, is Jeremia enduit gehoorsaam. Dit is nie asof God hom belowe dat die mense na hom gaan luister nie. God sê vir hom dat hulle teen hom sal veg, maar hom nie sal vernietig nie. As Jeremia sou terugdeins in vrees, sou God hom wel vernietig. Jeremia het werklik nie veel van ’n keuse gehad nie. Hy word gelukkig baie sterk gemaak om weerstand te kan bied. Hy word ’n vestingstad, ’n ysterpilaar en ’n bronsmuur genoem. Op hom sou enigiemand kon reken.
Is ons dalk bestem tot iets hoër? Is ons so spesiaal? Ja. Wanneer geloof in ons harte is en ons in verhouding staan tot die Drie-enige God, is ons geroep en gestuur. Ons is bestem om ons priesterskap en profeetskap op te neem en met groot verantwoordelikheid die evangelie uit te dra en uit te leef in elke faset van ons bestaan. Elkeen van ons hoef nie ’n predikant te word of in die kerkraad te dien nie, maar sommige moet. Ons word geroep en gestuur om die werk wat ons wel doen, aan die Here te wy en dit tot sy eer, op sy manier, te doen.
Dit is noodwendig stroomop. ’n Mens sal in en buite die kerk teenkanting beleef, soms felle swaarkry en emosionele worsteling. Maar ons is bestem, uitverkies, en gestuur. Is ons getrou en gehoorsaam soos Jeremia? Mag elkeen van ons vir die kerk en vir die samelewing ’n vestingstad wees, ’n ysterpilaar en ’n bronsmuur.
Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad
