Kolossense 1: 20:

Die Christelike sanger en skrywer Carolyn Arends skryf dat Paassondag die Christelike geloof se goue medalje oorwinningsrondte is – die gelukkige einde. Goeie Vrydag is egter die teenoorgestelde. Die beelde van marteling en lyding, die somber musiek, die verskriklike uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat? Dit is ook altyd ’n uitdaging om te preek in die Lydenstyd. Die kruis is so ’n tragiese en vernederende gebeurtenis. As dit van my afgehang het, het ek heel waarskynlik Goeie Vrydag oorgeslaan. As ek dit egter doen, sal Paassondag hol word. Ek sal vergeet hoeveel my redding gekos het. Ek sal by die leuen inkoop dat Christus se oorwinning oor die dood – en my navolging van Hom – beteken dat my lewe van moeilikheid gevrywaar sal wees.

Die Bybelse skrywers moedig ons aan om Christus se lyding te oordink en bied ’n geleentheid om met Christus te identifiseer en ons kruis op te neem. Tog, wanneer ons ons werk verloor, die gewas kwaadaardig is of die vriendskap verraai is, rou ons nie net oor die wond nie, maar ook oor die feit dat ons gewond kan word. Ons kan selfs voel dat Jesus ons in die steek gelaat het. Ons sien dit nie as vreugde nie, maar as mislukking.

Hoe word ons dus Paas-Christene? Wanneer ek ’n aaklige Goeie Vrydag-ervaring kry, probeer ek vashou aan die hoop dat God se definisie van hoop my eie beperkte verstaan daarvan oorskry! As jy sukkel om die goeie in jou situasie te sien, lees die volgende: Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen (verse 18-20).

Ds Janine Fourie, Wonderboom-Suid / Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap