Markus 15: 27-39
My medegelowige: Die priesterhoofde en skrifgeleerdes kon spot, maar in hul eie woorde lê die erkenning van Jesus as die Christus, die Koning van Israel. Daar kan gejuig word. Die woord wat vooruit aangekondig is, het in vervulling gegaan (Mark 8: 31-33). ’n Oorwinning vir Hom en ’n nederlaag vir dié wat gedink het hulle kan so van Hom en die leer wat Hy verkondig, ontslae raak.
Indien ’n mens na die lewe en werk van Jesus kyk en dit as ’n loopbaan moes beskryf, sou ons kon sê dat Hy in alles geslaag het. Sy doel is bereik. Daarom kan Hy in die woorde van Johannes 17: 4 bely: Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Hy het dit duidelik laat word dat Hy as Koning met gesag heerskappy oor lewe en dood voer. Hy het die volk geleer en so die woorde wat God Hom gegee het, verkondig om die volk tot geloof in Hom te laat keer. Hy het die pad van smarte enduit gestap om aan die einde uit te roep: Dit is volbring! Só suksesvol was die boodskap wat Jesus verkondig het, dat dit daartoe gelei het dat daar reg voor die kruis ’n belydenis ontlok is. Dié van die offisier: Hierdie man was werklik die Seun van God!
Dit mag vir die ongelowiges, dié wat hulle met die spreekwoordelike vyeblaar wil bedek, na onsin klink. Maar vir diegene wie se oë geopen is dat God se beloftes wat Hy vooruit al laat aankondig het nou ook daar aan die kruis in vervulling gaan, is dit die bevestiging van God se mag en krag.
Nou word u en ek geroep om toe te laat dat God se woord, sy bedoeling met elkeen van ons, in vervulling gaan. Met blydskap kan ons die toekoms binnegaan. Ons Koning is die gehoorsame Oorwinnaar (Mark 15: 32).
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)
