Matteus 26: 20-25

Daar is min tonele in die Bybel wat kunstenaars se verbeelding so aangryp soos die toneel van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels. Deur die eeue was daar al verskeie kunstenaars wat die toneel op doek vasgelê het. Die gewildste skildery van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels, bly egter Leonardo da Vinci se weergawe wat in die 15de eeu geskilder is. Da Vinci het in 1490 met die skildery begin, en dit eers sewe jaar later voltooi. In dié weergawe hou Judas met sy een hand die sak geld vas waarvoor hy Jesus verraai het; sy ander hand is egter uitgestrek na die brood. Judas hou reeds die sak geld vas, maar met ’n vroom gesig vra hy of hy dalk die verraaier is. Judas, man van twee gesigte.

Dalk wil die skildery van Da Vinci ons vandag ook ’n kykie gee in ons eie harte. Ons is dikwels vinnig om vir Judas te oordeel. Hoe kon hy met homself saamleef? Hoe kon hy homself in die oë kyk? Maar dalk moet ons stadiger wees met ons oordeel. Dalk moet ons ook ons eie harte en motiewe ondersoek. Sit ons nie ook dikwels met die spreekwoordelike sak silwer op ons skoot terwyl ons met die ander hand na die brood reik nie? Reik ons nie ook soms aan die een kant uit na Jesus, die brood van die lewe, maar aan die ander kant klou ons steeds vas aan ons eie lewe, ons eie planne, en ons eie besluite nie? Is die gekruisigde Jesus soms ’n vreemdeling in ons lewe, of leef ons werklik in die voetspore en in die kruisspore van Jesus?

In Johannes 6: 35 sê Jesus: Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie. Mag ons daagliks die brood van die Lewe eet en mag ons daagliks ons harte ondersoek. Watter sakke silwer hou ons steeds op ons skote vas, terwyl ons gelyktydig uitreik na die Brood van die Lewe?

Lees Gesang 393: 2.

Ds Lydia Miller, Villiers

Share via
Copy link
Powered by Social Snap