1 Petrus 1: 1-25
Wat doen ons in moeilike omstandighede? Wat het ons nodig in sulke tye? Dit is belangrik dat mense in moeilike omstandighede hoop ontvang en dat hulle in die geloof versterk word.
Petrus wou gelowiges wat onverdiende lyding ervaar, bemoedig en versterk. Hy wil hulle ook perspektief op hul swaarkry gee. Dit is belangrik dat hulle besef dat hul geloof gelouter en gesuiwer word. Soos goud deur vuur gesuiwer word en die egtheid daarvan getoets word, so gebeur dit met gelowiges se geloof. Jesus Christus het uit die dood opgestaan en hulle het daarom ’n erfenis wat vir hulle in die hemel bewaar word en deur niks en niemand vernietig kan word nie. Dit bevestig dat hulle ’n toekoms het.
Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom en jubel julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele (1 Pet 1: 8 en 9, AFR2020).
Petrus het hulle herinner dat hulle uitverkies is. Die Heilige Gees help hulle om aan God gehoorsaam te bly ten spyte van wat gebeur. Petrus beklemtoon dat die Here altyd genadig is en selfs in die moeilikste tye vrede kan gee. Hul geloof en hoop moet op God gerig bly. Selfs uit onverdiende lyding sal die Here uitkoms gee.
Mag dit ons ook hoop gee as daar vandag vir ons gesê word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word! (1 Pet 1: 2b, AFR2020).
Met geloof en dankbaarheid sê ons dan: Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! (1 Pet 1: 3a, AFR2020).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus
