Johannes 11: 28-37 (AFR2020)
In Jesus se lewe en bediening op aarde was daar verskeie openbarings wat Hy gebring het oor die koninkryk van God. So het Jesus ook mense se verstaan van die wet en wil van God ’n paar keer oopgebreek en hulle met nuwe oë en ’n nuwe hart daarna laat kyk. In hierdie teks sien ons wel hoe Jesus vir ons iets wys oor die gebruik van God se gawes. Reeds vanaf vers 1 lees ons al hoe Jesus die nuus van Lasarus se dood ontvang en reeds te kenne gee dat Lasarus se dood nie ’n werklikheid gaan bly nie. Tog lees ons in vers 33 hoe Jesus diep bewoë geword het toe Hy sien dat Maria saam met die Jode huil. Jesus het self begin huil toe hulle Hom wys waar Lasarus neergelê was. In daardie oomblik lees ons die Jode se besondere getuienis: Kyk hoe lief het Hy hom gehad! Liefde vorm dikwels die hart van die wyse waarop ons reageer op die lewe rondom ons. Liefde vir ons naaste laat ons reageer op die lot van ons naaste. Liefde vir God laat ons reageer op die lot van die koninkryk van God.
Die wonderlike is dat die Here in al sy mag ook vir ons ’n geskenk gegee het waarmee ons kan reageer in en uit liefde. Hierdie geskenk is emosies. Dit help ons om aan ons liefde uitdrukking te gee en daarom is daar ’n belangrike plek daarvoor, soos ons selfs by Jesus sien. Ons moet wel onthou dat ons uit liefde moet optree eerder as uit emosies. ’n Werkende motorvoertuig laat rook uit, maar dit kan nie ry met rook in die brandstoftenk nie. Mag ons daarom ook by Jesus leer hoe en waar ons die emosies wat God ons geskenk het, kan gebruik om uiting te gee aan liefde vir ons naaste en ons God.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
