Hebreërs 10: 19-25
In die alledaagse gejaag van die lewe is ons voortdurend op soek na kitsoplossings. Ons wil nie sukkel nie en alles moet so vinnig en maklik moontlik wees. Dit is ongelukkig ook ’n beginsel wat in ons geloofslewe toegepas word. Ons kies om nie meer die samekomste van gelowiges by te woon nie, want Sondae is die enigste dag wat ek het om te rus en tyd saam met my familie deur te bring. Die Kerk vra my betrokkenheid nie net by aktiwiteite nie, maar ook by lidmate en ek sien nie kans vir nog mense nie. Eredienste en oordenkings is in elk geval nou vrylik op sosiale media, die televisie en radio beskikbaar sodat ek na God se Woord kan luister sonder om die gerief van my huis te verlaat.
Tog maan die Hebreërs-skrywer: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly, soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan. Waarom is dit nodig om gereeld kerk toe te gaan? Sodat ons saam met medegelowiges God kan loof en prys, maar ook om in die Woord van God onderrig te word sodat ons geestelik kan groei. Tydens die erediens word ons ook toegerus vir diens, want elkeen wat glo, is deel van die liggaam van Christus. God het aan elkeen van sy kinders ’n besondere taak gegee om te verrig binne sy liggaam. Party van ons is die hande, ander weer voete of ’n mond. Die kerk is ook ’n ruimte waar lede van die liggaam na mekaar kan omsien, mekaar kan ondersteun, aanmoedig en bemoedig in tye wanneer dit voel asof die lewenspad vir ons te swaar word.
Jesus ken ons en het ons op ’n bepaalde plek geplaas waar Hy ons nodig het. Mag ons binne daardie ruimte groei en ons volle potensiaal bereik in sy diens en tot sy eer.
Gebed
Dankie, Here, vir die voorreg wat U ons bied om eredienste openlik en vrylik te kan bywoon. Ons is bewus van soveel gelowiges wat nie dié voorreg het nie en dit in die geheim moet doen. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes