Twee emerituspredikante en ’n proponent is van 25 Junie tot 11 Julie vanjaar oorlede.

Prop EJM (Mathilda) Sharp (55) is Vrydagoggend 25 Junie in Moot-hospitaal oorlede weens Covid-19. Sy het ongeveer ’n maand tevore ’n galblaasoperasie ondergaan, en het ook ander gesondheidsrisiko’s gehad. Mathilda het al die jare in die administrasie van Steve Biko-hospitaal gewerk, ook tydens haar studiejare. Sy is op 30 November 2017 gelegitimeer en was beroepafwagtend. Mathilda word oorleef deur onder meer haar dogter, twee seuns, vyf kleinkinders, haar ma, suster en twee broers. Die begrafnisdiens het Woensdag 7 Julie plaasgevind en is gelei deur ds Frikkie van Wyk van Montana-Oos. Ons innige meelewing gaan aan Mathilda se familie.

Ds JMC (Chris) de Beer (siekte-emeritaat) van Middelburg is Sondagoggend 11 Julie oorlede. Hy was 63 jaar oud. Hy is vroeër met kanker gediagnoseer en is in die hospitaal positief getoets vir Covid-19. Ds De Beer was predikant in Waterval Boven, Koornfontein en Middelburg-Noord. Die roudiens het Donderdag 15 Julie plaasgevind in Gemeente Middelburg en is gelei deur ds Etienne Fourie van Kempten. Ons innige simpatie gaan aan mev Issie de Beer en hul familie.

Emerituspredikant ds JH (Buks) van Heerden (75) is Sondagaand 11 Julie oorlede weens keelkanker. Ds Van Heerden was predikant in Otjiwarongo/Outjo, Premiermyn, Phalaborwa, Turffontein, Swartkop, Zimbabwe en Harrismith, en was ook Weermagkapelaan op Voortrekkerhoogte. Ons innige simpatie gaan aan mev Alta van Heerden en hul familie.