Ons dink hierdie Erfenisdag aan een van die bouers van ons Kerk, ds Johannes Beyer.

Johannes Beyer (jr) sterf op 24 September 1929 om 10:30 in Nunspeet, Ermelo in die provinsie Gelderland, Nederland. 72, zonder beroep volgens die sterfregister, omdat hy al sedert 1907 op 50 jaar met emeritaat was. Die dood was vir hom ’n verlossing van ’n swaar lyding, want hy het gely aan ’n voortdurend toenemende verlamming

Groot vreugde was daar egter om 23:00 op 30 Junie 1857 toe Johannes Beijer Junior gebore is in sy pastorieouerhuis in Leeuwarden, Friesland. Sy pa was ds Johannes Beijer sr (1822-1876) en sy ma Hendrika, gebore Louman (1826-1860). Hy was die vierde kind uit die vyf van sy ma en pa; die oudste seun. Vernoem na sy pa, oupa en oupagrootjie. Van nederige afkoms: grootjie ’n straatmaker, oupa ’n skoenmakerskneg, tot predikantspa sou hierdie kleine Johannes ook dominee word. Tot in ons eie Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika!

Ds Beijer (sr) was predikant van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Nederland (afgeskei in 1834 van die Nederlandse Hervormde Kerk). In 1860 sterf mev Beijer en haar vyfde kind, ’n seuntjie, tydens die geboorte, en in 1861 neem ds Beijer ’n beroep aan na die Gereformeerde Kerk Reddersburg in Suid-Afrika. Die herder en sy vier jong kindertjies vestig hulle saam met Beitske van der Heide, hul huishoudster uit Nederland, in die Republiek van die Oranje-Vrystaat.

Ds Beijer (sr) was die tweede predikant van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika naas ds Dirk Postma. Tydens die eerste sinode van die GK in Reddersburg in Maart 1862 bevestig ds Postma vir Beitske en ds Beijer in die huwelik. Uit hierdie huwelik word gebore ’n dogtertjie wat jonk sterf en ’n seun Hendrikus Louman – vernoem na Beijer se oorlede eggenoot. Hendrikus word predikant in die Gereformeerde Kerk in Nederland.Hierdie huwelik was ongelukkig en dit was een van die redes waarom die gesin in 1869 na Nederland terugkeer.

Ná eervolle emeritaat op 10 September 1873 deur sy kerkraad en klassis (ring) word hy egter van sy amp onthef deur die provinsiale sinode weens onvermoë om sy huis te bestuur na aanleiding van sy vrou se swak gedrag. Volgens hom het Beitske ’n slepende kwaal.

Johannes (jr) het oorgegaan na die Nederlandse Hervormde Kerk en aan die Universiteit van Utrecht teologie gaan studeer. Hy tree op 12 Januarie 1881 te Groningen in die huwelik met Alberdina Wilhelmina Catharina Alting (* 09.02.1855 † ná 24 September 1929). Hulle het drie dogters wat al drie in Nederland gebore is: Hendrika Johanna 1886 (x Schoenmaker 1909), Johanna Catharina Alberdina 1892 (x Franken 1915 xx Wagenaar Hummelinck 1928) en Alberdina Wilhelmina Catharina 1898 (x Haga 1922, skei 1931).

In 1881 het hy predikant geword en 17 jaar lank gedien in gemeentes Lemele 1881, Ijsselmuiden 1883, Hierden 1886, Harderwijk 1888 en Eemnes Binnen 1890. In 1898 is ds Jac van Belkum van Rustenburg met vakansie na Nederland en moes hy ’n aflos- en hulppredikant soek. Prof Van Veen van die Nederlandse Utrecht het daarvan te hore gekom en met sy hulp is ds Beyer (jr) gevind om na die Wes-Transvaal in die Zuid-Afrikaansche Republiek te gaan. ’n Beroep na Zeerust (toe nog genoem Marico) het Johannes aangeneem. Die kansel van Zeerust waarop ds Beijer gepreek het, is te sien in die SP Engelbrecht-museum. Johannes se vroeëre verbintenis met Suid-Afrika het ongetwyfeld daartoe bygedra dat hy bereid was om oor te kom. As jong seuntjie was hy mos hier waar hy ’n deel van sy kinderjare deurgebring het in Reddersburg en saam op reis met sy pa in die hele Vrystaat, na Burgersdorp in die Kaapkolonie en omstreke, asook Rustenburg in Wes-Transvaal. Hy kon byvoorbeeld goed onthou hoe hul gesin tydens die 1865 Basoeto-oorlog in die OVS na die Kaapkolonie toe moes vlug.

Na sewe maande in Wes-Transvaal het hy in 1899 ’n beroep aangeneem na die destyds gekombineerde Gemeentes Pretoria, Middelburg en Standerton. Hy is in Mei 1899 bevestig. Sy woning was op Standerton. Gedurende 1900 midde-in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, is hy en sy gesin terug na Nederland. ’n Tyd lank het hy toe onder die Boere-krygsgevangenes wat in Portugal geïnterneer was, gearbei. In 1902 werk hy in Gemeente Beek. Na afloop van die oorlog is hy weer terug na wat toe die Transvaal Colony was. Hier het hy in 1903 en 1904 ’n tyd lank in Pretoria-gemeente gewerk voor die koms van prof dr Pieter J Muller; sonder dat hy ’n vaste beroep daar gehad het. Toe het hy vir oulaas teruggekeer Europa toe. Van 1905 tot 1907 was Nuenen sy laaste gemeente.

(Bronne: Almanak 1968 p 106; Album vir die geskiedenis van die NHKA, SP Engelbrecht, 1965, HAUM, Pretoria, foto, p 57; De Hervormer 1 Oktober 1929, doodsberig, p 84; De Hervormer 15 Oktober 1929, “Ds J Beyer +”, vermoedelik geskryf deur die redakteur SP Engelbrecht, foto p 86; Eeufeesalbum NHKA 1842-1942, SP Engelbrecht, 1942, Wallachs, Pretoria, foto, p 48; Geskiedenis van die NHKA 1953, SP Engelbrecht, HAUM, Pretoria, pp 364 en 365; LDS – Familysearch: Nederlandse geboorte-, huweliks- en sterfregisters, asook stamboom (voor- en nageslag) van Johannes Beijer en aangetroude familie; SA Biografiese Woordeboek Deel III, Beijer Johannes, B Spoelstra, RGN, pp 58 en 59)

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap