In Maart 2020 gebeur die onvoorsiene in Suid-Afrika, en die meeste werkplekke sluit hul kantore en stuur hul werknemers huis toe.

Wonderlik! juig baie. Minder petroluitgawes, ontslae van stresvolle padverkeer, buigbare kantoorure, minder onderbrekings gedurende werktyd…

Ander se kele trek toe. Daar is nie veselverbindings in my area nie, my rekenaarstelsel is nie gesofistikeerd genoeg nie, daar is nie ’n kamera by my rekenaar nie, groter selfoonuitgawes…

En dis nie lank nie, of ons begin besef: Nou kan enigeen jou enige tyd bel of e-pos of van jou verwag om die hele tyd kiertsregop voor jou rekenaar te sit. En familie, aanvanklik veral uitgehonger vir geselskap, kan enige tyd skakel, sonder om daaraan te dink dat jy eintlik “aan diens” is.

Om nie te praat nie van ouers met kinders op skool: Sommige werknemers moes voltyds dieselfde en méér werk as gewoonlik doen, én een of meer kinders tuis onderrig met groot hoeveelhede materiaal wat per e-pos by hulle beland het. Hoewel die meeste kinders nou terug is by die skool, moet ouers steeds help om agterstande uit te wis en meer as ooit voorheen emosionele ondersteuning gee. Om jou verval alles – die huis raak meer deurmekaar, word vuiler, en jy kan net magteloos toekyk. Want om die een of ander rede is jou werkdag nou soveel langer. Hoe vroeg jy ook al begin, lank na die normale sluittyd is jy steeds “op kantoor”.

As jy dan op ’n dag (Woensdag 22 September 2021) ’n artikel soos “PANDEMIE-PYNE VIR BASE: Mop, vee in werktyd?” lees in ’n andersins gebalanseerde koerant soos Beeld, voel jy hoe jou bloed begin borrel en kook. Vanuit ’n basiese kommunikasieperspektief, luister net na die gelade woorde: “Presies wat baie wantrouige bestuurders nou al die hele pandemie lank dink, is inderdaad waar: Baie werknemers vat meer gereeld ’n blaaskans en verrig huishoudelike take in werktyd wanneer hulle van die huis af werk.” … “Herman Warren, ’n ontleder van The Economist se korporatiewe afdeling … sê al hoe meer maatskappye ondersoek aktief maniere om mense te dwing om terug te keer kantoor toe. Hy verwys na ’n interne memorandum van Google wat uitgelek het waarin onder meer voorgestel word dat die salaris van mense wat van die huis af werk, met ’n enorme 15% gesny word.”

Die joernalis se ontleding van die navorsing vermeld darem dat daar heelwat teenstrydige antwoorde was van die 751 respondente wat aan die IPSOS-peiling deelgeneem het. Maar desnieteenstaande word feitlik ’n halwe bladsy van die grootformaat weekdag-uitgawe van die koerant aan die resultate gewy!

Klaarblyklik is dit veral ouer persone wat verkies om van die huis af te werk, en mense jonger as 30 jaar wat die kantooropset mis. Dit maak volkome sin, want hoe moet ’n jonger persoon, moontlik vars uit universiteit, die etos en kultuur van ’n werkplek leer ken, of kollegas se idiosinkrasieë leer peil, as daar min indien enige direkte interaksie is? En daarsonder, hoe ontwikkel ’n mens jou emosionele intelligensie?

Is tuiswerk hemel op aarde, of presies die teenoorgestelde? Dit verskil sekerlik van werknemer tot werknemer, en van aktiwiteit tot aktiwiteit. Maar dit het beslis tyd geword dat die volgehoue uitnemende werkverrigting van betroubare werknemers beloon of minstens aangeprys moet word, sonder klappe en beskuldigings van “wantrouige bestuurders” en alarmistiese beriggewing in toonaangewende publikasies. Want om daardie volgehoue uitnemende werk te lewer, het in die meeste gevalle êrens ’n tol geëis – daar is nog beswaarlik begin kyk na die impak van die isolering, oorlading en onnatuurlike nuwe werkwyse op ons mense se geestesgesondheid.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap