Die 94ste viering van die Wêreldbiddag vir Vroue vind plaas op Vrydag 1 Maart 2024. Hierdie ekumeniese biddag vir vroue vind jaarliks regoor die wêreld plaas op die eerste Vrydag in Maart. Ongeveer 175 lande vorm ’n gebedsketting waar vroue in plaaslike gemeentes en gemeenskappe oral in die wêreld bymekaarkom om die voorgestelde program te volg en saam te bid.

Die tema word elke jaar bepaal deur vroue van verskillende lande. In 2024 het die vroue van Palestina die tema Ek dring aan… Verdra mekaar in Liefde gekies – die tweede keer dat hulle hierdie eer te beurt val in 30 jaar.

Efesiërs 4: 1 tot 7 vorm die agtergrond vir 2024 se verrigtinge met vers 2 wat lui: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

Die brief aan die Efesiërs is geskryf deur Paulus terwyl hy in die tronk was in Rome tussen 60 en 61 nC. Paulus wou met hierdie brief die mense se geloof versterk in die Here en hulle aanmoedig om as geheiligdes te lewe in diens van God.

Wanneer ons kyk na die geskiedenis van Palestina, weet ons dat hierdie klein landjie drie monoteïstiese godsdienste, naamlik Islam, Judaïsme en die Christendom, huisves.

Palestina is ook strategies belangrik, want die land dien as toegang tot drie kontinente: Afrika, Asië en Europa.

Die kunstenaar wat die tema uitgebeeld het met ’n olieverfskildery, is ’n 25-jarige kunsstudent van Palestina, Halima Aziz, wat tans in Duitsland studeer. Haar inspirasie kom van die natuur, kunsmuseums, boeke en haar land Palestina. Sy beeld graag die Palestynse identiteit, erfenis, lewe en kultuur, geskiedenis en tradisie uit. Haar kunswerke is al drie keer internasionaal uitgestal.

Die kunswerk Praying Palestinian Women beeld drie Palestynse vroue uit wat saambid in ’n rustige, natuurlike omgewing. Die simbole en motiewe wat Aziz in die kunswerk uitbeeld, dui op die oorsprong en samehorige gevoel van die drie vroue.

Olyfbome is ’n teken van ewigdurende en oorvloedige lewe – hulle kan tot 1 500 jaar oud word, met ’n gemiddelde lewensduur van 500 jaar. Die Palestynse mense is diep gewortel in hul land en dit word uitgebeeld deur die goue wortels van die bome wat diep wortelskiet.

Die rooi papawerblomme is volop en dui op die baie mense wat hul lewens gegee het vir hul land. Die tradisionele rokke met die geborduurde tatreez, die thobe-rok en die wit serpe simboliseer hul kreatiwiteit en ryk geskiedenis. Die sleutels simboliseer hoop om terug te keer na Palestina.

Die program wat saamgestel is vir hierdie jaar roep ons as Christenvroue en alle Christene wêreldwyd op om mekaar te verdra in liefde, ten spyte van moeilike omstandighede en onderdrukking – volg die skakel https://worlddayofprayer.net/palestine-2024.html#

Alhoewel Palestynse vroue toegelaat word om invloedryke rolle in die samelewing te hê, is daar steeds ruimte vir verbetering. Onlangs het van die Protestantse kerke geslagskwessies in die kerk aangeroer en is die eerste vroulike pastoor in Palestina aangestel.

Op 2 Desember 2023 het die vrouekomitee van Palestina, wat die program vir die Wêreldbiddag vir Vroue saamgestel het, gesprek gevoer oor hul ondervinding met die skryf en ontwikkeling van die program vir 2024 en ook die huidige omstandighede in Palestina uitgelig. Volg hierdie skakel vir inligting hieroor: https://www.youtube.com/watch?v=PW9LuDdTAuE&t=28s

Wanneer ons as Christene in die wêreld ons Christelike roeping uitleef, verg dit geduld, om ander se behoeftes bo jou eie te stel (met ander woorde, selfverloëning), en vra dit liefde vir God en jou medemens.

Paulus herinner die Efesiërs daaraan om met die hoop in Jesus Christus verenig te wees en daardie hoop te versprei in die wêreld deur mekaar te verdra in liefde ten spyte van ons verskillende agtergronde.

Hierdeur versterk ons ook ons geloof en bemoedig ons ander om gelowiges in Jesus Christus te word. Ons is die draers van geloof, hoop en liefde in ’n stukkende wêreld. Daarom die oproep aan elke gelowige: Ek dring aan… Verdra mekaar in Liefde!

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Voorsitter: NHSV Hoofbestuur

Share via
Copy link
Powered by Social Snap