So sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here. … Ek is by julle, sê die Here.  (Haggai 1: 7-8 en 13, AFR1983)

Lees Haggai 1: 1-15

By Haggai is daar nie oorloë en politieke moeilikheid nie. Net tuiskoms in die geliefde land. Dan is jy mos geneig om op jouself te fokus. Die volk sê: Dis nie nou die tyd vir tempelbou nie. Daar’s ander goed wat eerste aan die beurt moet kom.

Maar die volk is onder druk. Die oeste misluk, en die kos en inkomste bly uit. God sê: Ek het die oes, die geld en die genoegsaamheid laat verdwyn. Die Here sê dis oor sy huis in puin van verwaarlosing lê, terwyl elkeen net werk aan sy eie huis. Dis hul eie skuld.

Serubbabel, die goewerneur, neem Haggai se boodskap ter harte, en die volk begin om ’n nuwe tempel te bou. God sê: Ek is by julle!

Maar die eindproduk laat die volk voel dat dit aan die heerlikheid van God nie naastenby gestand doen nie. Dis soos ons oor die kerk voel: Dis nou nie juis die soort kerk waarin jy dink die almagtige God gemaklik sit nie, nè?

Dog, die Here dink anders daaroor. Skep moed! sê Hy. Dit beteken: Die ding voldoen seker nie aan julle verwagtinge nie, ouens, maar begin met die werk en doen wat julle kan. Dit sal goed genoeg wees, julle sal sien!

Want, sê die Here, my Gees sal altyd by julle bly. “Ek” en “my Gees” is uitruilbaar. Die een is soos die ander. Die een is die ander. God, die Here die Almagtige, is hier by ons!  Hy is vir altyd by ons en los ons nooit nie! Hy’s in hierdie verskoning vir ’n kerk. Julle sal Hom nog agterkom. Sy nabyheid sal wys uit die werk wat julle gedoen kry.

Hier sal Ek vrede gee, sê die Here. Die waarde van hierdie tempel gaan nie afhang van sy goud en silwer nie. Dis die roemrykste ding van elke kerk en plek waar God en mense mekaar teëkom: dat daar vrede is; mense met God, en mense met mekaar.

Nie die tempels en die kerke wat julle bou, is regtig God se blyplekke nie. Julle is. Bekeer julle en julle sal sien watter verskil dit maak. Ek gaan die wêreld skud, sê die Here. En of God dit nou doen met oorlogstuig, of met spykers en ’n kruis, met die sonde gaan God finaal afreken. Dit het mos klaar gebeur met die kruisiging van Jesus Christus. Die Gees van God het in ons ingekom, en soos reën ’n landery vrugbaar maak, kan ons mense nou die vrugte dra van God wat in ons woon.

Juda kry vrede met God, Hom wat aan vrede uitgeken word. Kan ons dit van ons ou klein kerkie ook maar sê? Ja, ons verwaarloos hom, en self leef ons luuks. Dalk skaam jy jou vir die ou klein kleurlose kerkie wat ons is. Maar nie God nie, hoor! Hier roem ons ons op die vrede wat God met ons maak in Jesus Christus, en op die vrede wat dit tussen ons en ’n sondige wêreld bring. Hier vuur God ons met sy Gees aan.

Ons werk is vrede wat gemaak moet word. Daaraan moet ons uitgeken word. Nie aan weelde nie, maar aan bekering, moet hulle ons kan uitken. Ons moenie vir die goud en silwer wat ons insamel, bekend wees nie. Ons moet beroemd word oor ons vrede met God aan mense uitdeel. Dis waartoe die God van Juda en Haggai, en die Vader van ons Here Jesus Christus, ons deur die Heilige Gees aanvuur. Gee vir mense God se vrede.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap