Oktobermaand is nie net die mooiste, mooiste maand nie, maar ook die maand waarin ons die Kerkhervorming herdenk. Is dit nog die moeite werd om na te dink oor die geskiedenis wat vyf eeue gelede in Europa afgespeel het? Het dit nog waarde om ’n “Hervormer” te wees?

Miskien kan ’n mens die vrae antwoord deur die storie van Johannes Calvyn te vertel. Baie beskou hom as die “kerkvader” van die Hervormde/Gereformeerde tradisie in Suid-Afrika, hoewel ons hom nie tot die letter navolg nie. Die geskiedenis van die Hervormde Kerk gaan om meer as net Calvyn.

Tog is en bly Calvyn ’n formidabele en invloedryke figuur in die geskiedenis van die Hervormde Kerk. Te dikwels is dit wat ons van hom hoor en lees, ’n karikatuur van ’n begaafde mens wat sy hele lewe aan die kerk en die evangelie van Jesus Christus gewy het. Calvyn se persoonlike leuse, wat in ’n sekere sin ook tiperend van sy persoonlike geloofslewe was, het gelui: Cor meum tibi offero Domine, prompte et sincere. Hierdie leuse word met illustrasies in verskeie van sy publikasies uitgebeeld, onder andere die Franse vertaling van die Institusie van 1566. Dit kan vertaal word met My hart offer ek aan U Here, sonder huiwering en met oortuiging. Dit verwoord die oortuiging dat ’n mens sy hele lewe in diens van God moet opoffer.

Calvyn se skryfwerk spreek van ’n diep en persoonlike geloof, van toewyding aan God. Dit is iets anders as die streng, rigiede en veroordelende beeld van Calvyn wat dikwels geskep word. By Calvyn is daar ’n inherente spanning te bemerk: ’n warm, mistieke ingesteldheid, getemper deur ’n analitiese en logiese verstand. Laasgenoemde is te begrype teen die agtergrond dat Calvyn voor sy bekering ’n hoogaangeskrewe regsgeleerde was, reeds op jong ouderdom geoormerk om in een van Frankryk se belangrike howe as regter te dien.

Calvyn was 26 toe sy neef, Pierre Robert d’Oliviet (Olivétanus), se Franse vertaling van die Bybel verskyn het. Calvyn het die voorwoord vir die vertaling geskryf. Dit was ook Olivétanus wat Calvyn aangemoedig het om die Bybel noukeurig te bestudeer, en só tot groter insig te kom en te onderskei tussen ware en valse leer. Van die begin is reformatoriese spiritualiteit gekenmerk deur respek en liefde vir die Woord van God. Dit is kort en kragtig geformuleer in die slagspreuk sola Scriptura. As teoloog van die Woord het Calvyn moeite gedoen om noukeurig eksegese van die hele Bybel te doen en te kommentarieer.

Calvyn se unieke benadering tot die Woord van God kan geïllustreer word vanuit sy kommentaar op Psalm 1. In hierdie gedeelte onderskei Calvyn tussen teoloë wat hulle met God se Woord besig hou omdat hulle daartoe gedwing word (dit is hul werk…) en diegene wat met vreugde die Woord oordink omdat dit vir hulle lekker is. Om vreugde in God se Woord te vind, is nie iets waartoe enigiemand gedwing kan word nie, maar dit vloei vanuit ’n innerlike oortuiging en geloof wat deur die Heilige Gees opgewek word.

Calvyn se liefde vir die Woord het nie beteken dat hy ’n rigiede fundamentalis was nie. Vir Calvyn is die Woord dinamies, wat in en deur Christus en die Heilige Gees aan ons geopenbaar word. Dat Calvyn nie ’n fundamentalis was nie, blyk uit sy waardering vir deeglike uiteensetting van die leer gegrond op histories-grammatiese eksegese van die teks. Daarvan is die eksegese in sy kommentare ’n sprekende voorbeeld. Hierdie verbintenis tussen Woord en Gees verwoord Calvyn se kritiek teen Roomse verbintenis tussen Woord en kerk, asook die anabaptiste se verbintenis tussen die Gees en Geesvervulde mens wat beteken dat God se wil buite die Woord geopenbaar word. Die Gees openbaar geen nuwe leer aan die gelowiges nie, maar lei elke gelowige om te onderskei wat God in sy Woord sê en wat Hy van ons verwag.

Vir Calvyn was die kern van die verhouding tussen die gelowige en Christus om in Christus (Rom 6: 11) te leef. Emil Brunner was van mening dat Calvyn se verstaan van uitverkiesing, sakramente, die kerk en heiligmaking gegrond was op sy verstaan van die eenheid met Christus, om “in Christus” te wees. Vir Calvyn was één saak baie duidelik: Christenwees beteken dat die gelowige deur die krag van die Heilige Gees één is met Christus en Hom daarom ook moet liefhê.

Calvyn het selde oor homself geskryf. Tog is daar enkele tekste waarin ons ’n blik kry op sy geloof en bekering. In sy Brief aan Sadoleto maak hy die opmerking dat hy nie vir God gekies het nie; dat God hom gekies het en geroep het om in sy diens te staan. Dit het gebeur deur die “verligting van die Heilige Gees” en deur God se Woord wat ’n lewendige lig in sy hart gegee het. Deur die Woord en die Gees kon hy “onderskei waarop dit aankom”. Dit is verder opvallend dat Calvyn ’n baie spesifieke inhoud aan bekering gee, naamlik dat dit ’n “bekering tot leerbaarheid” is. Om Christen te wees, beteken om te luister na die Here Jesus; om te onderskei wat God se wil is; om elke dag met jou oor naby die mond van die Here Jesus te leef. Bekering beteken dat jy Jesus Christus as Leermeester het, luister na sy woorde en daarvolgens leef. Bekering impliseer dissipelskap, ’n leergierigheid. Luister, leer en doen, lei tot die lewe (Matt 7: 24-29).

As ’n mens die woorde lees wat Calvyn bykans 500 jaar gelede geskryf het, dan besef jy net: Hier in 2023 het dit nog niks aan aktualiteit verloor nie. Dit is steeds die moeite werd om ’n Hervormer te wees; om steeds met jou oor naby die mond van die Here Jesus Christus te leef. Dit vra kritiese vrae oor kerkwees vandag, oor die manier hoe ons Bybels-reformatoriese teologie beoefen en hoe dit in die prediking verwoord word. Dit help ons om sinvol te lewe, met hoop vir die toekoms omdat ons weet: In lewe en in sterwe behoort ons aan ons enigste Verlosser, Jesus Christus (Heidelbergse Kategismus Sondag 1).

(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en professor in UP se Departement Sistematiese en Historiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap