Dit is met skok en ongeloof dat ek op YouTube na die video van die ontploffing in Beiroet kyk. Ek kyk nie net een maal nie, maar verskeie kere. Die skok van dit wat ek sien, word vir my so werklik dat ek amper die ontploffing se skokgolwe kan voel.

Miskien is dit wat Nehemia ook in ballingskap beleef het. Ver verwyder van die geliefde stad Jerusalem, is die nuus van die gebeure in Jerusalem tog vir hom so werklik dat hy vir dae lank net gesit en treur het. Verlam deur die gedagtes van dit wat mense daar moes beleef.

Beelde speel ’n kragtige rol in traumatiese gebeurtenisse. Beelde deel aan die een kant die boodskap mee van dit wat besig is om af te speel of wat gebeur het. My gedagtes spring terug na foto’s van baie jare gelede. Ek sien foto’s van Hirosjima voor en na die verwoesting van die atoombom. Dikwels het ek gewens ek kon ook nog ’n foto van die stad sien. ’n Foto van die fisiese herstel van die stad.

Die video van die ontploffing in Beiroet het die gedagtes in my laat opvlam van hoe mense in die stad en in die land daardeur geraak is. Ek kyk aan die begin van grendeltyd na ’n program wat afspeel in ’n Italiaanse hospitaal. Die verslaggewer maak die emosionele opmerking: They all died alone. Beelde vertel egter nie altyd die verhaal van die impak van die gebeure op mense se lewens nie. Ons mag dalk die beelde sien van die fisiese herstel na ’n katastrofiese gebeurtenis. Maar wat is die impak daarvan op die betrokkenes se menswees?

Die Covid-19-pandemie het skielik gekom. Die grendeltyd het baie mense swaar getref op verskillende terreine. Ook die Kerk, lidmate én ampsdraers, is geraak. Die gevolge van die pandemie en die impak daarvan gaan deel wees van baie se lewens, lank nadat die gevaar verby is. Dr Christo van der Merwe het onlangs daarna verwys in sy verduideliking van die SCARF-breinmodel. Die velde van menswees wat deur die model beskryf word, naamlik jou status, jou sekerhede, jou outonomie, jou verhoudings en jou idee van regverdigheid, word deur gebeure soos die Covid-pandemie aan flarde geruk. Die impak op jou menswees is gelykstaande aan die belewing van iets soos ’n gewapende roof of ’n motorkaping. Die impak van die Covid-19-pandemie op ons menswees mag daarom nie geringgeskat word nie. Elkeen van ons is in ’n mindere of meerdere mate daardeur verwond. Die littekens van hierdie wonde gaan vir lank nog sigbaar wees in mense se lewens.

Is daar hoop of iets om na uit te sien ná ’n pandemie, of is ons gedoem om vir die res van ons lewens met die wonde en littekens te worstel? Beelde vertel stories, maar beelde is nie maar net prentjies wat in ons geheue gestoor word soos foto’s op ons selfone of rekenaars nie. Ons koppel ook emosies aan daardie prentjies voordat ons dit stoor. Die genesing wat nodig is, vind vir my daar plaas.

Heelword, genesing – dit is nie om die prentjie te vergeet nie, maar om die emosies van die prentjie te hanteer. Nehemia is verpletter deur die nuus van die toestand in Jerusalem, maar hy bly nie sit en treur nie. Hy staan op en kies om sy gedagtes en handelinge te fokus op die herstel van die muur. So begin die herstel momentum kry. Soms was die proses stadig en vol slaggate, maar met God se krag en leiding is die bouwerk tog voltooi.

Die pad van heling is dikwels nie ’n kortpad nie, maar eerder ’n nuwe pad met nuwe moontlikhede wat geleef moet word. Die woorde van Romeine 12: 2 is dalk die begin van so ’n nuwe pad: …laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Opmerklik in die Nehemia-verhaal is hoe Nehemia telkens gebid het. So het hy dalk sy gedagtes nuut gemaak om sy optrede te fokus op God se wil en doel met hom en die volk. Jesus het die pad van heling vir elkeen van ons moontlik gemaak. Deur ons geloof in Hom word ons nuwe mense.

Heling ná ’n traumatiese gebeurtenis soos die Covid-19-pandemie wat hom in ons lewens afspeel, vra eerlikheid ten opsigte van ons emosies. Nehemia se roubeklag is vir my ’n voorbeeld daarvan. Maar dan kan ons genadiglik deur die krag van die Heilige Gees ook anders begin dink. Nuwe denke lei tot nuwe gevoelens en nuwe optrede. Ek kan kies om toe te laat dat die gebeure van die afgelope en dalk ook die volgende maande my lewe in ’n bepaalde rigting stuur. Of ek kan kies om God toe te laat om my gedagtes nuut te maak. Om anders te dink oor al die seer wat ek ervaar het en steeds ervaar, mag dalk my lewe in ’n nuwe rigting stuur.

Ek sluit af met die beeld van my niggie, Dorethea Brits. Sy en haar gesin is in 2012 deur haar seun en ’n medewerker in die pastorie op Harrismith aangeval. Sy het haar man, ds Willem Brits, en haar aanstaande skoonseun tragies verloor. Haar eie lewe is onherroeplik verander. Die beeld wat ek, met trane wat oor my wange loop, vir altyd sal onthou, is waar sy in die hof haar seun se gesig in haar hande vashou. Met ’n gesig wat liefde straal, prewel sy die woorde: Ek vergewe jou! Sy kies om ’n nuwe pad met haar kind te stap: Jesus se pad van vergifnis en liefde. So het haar pad van heling begin.

(Dr Willie Strydom is leraar in Eikenhof en Johannesburg-Suid)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap