Denise Ackerman, Suid-Afrikaanse teoloog, het die volgende oor Suid-Afrika gesê: …ons is ’n samelewing wat kritieke genesing in elke aspek van ons verhoudinge nodig het: met onsself, met ander, met God, en die dringendste, met die aarde (eie vertaling) (“Earth-healing in South Africa: Challenges to the church”, in Ecotheology 2, 1997).
Hierdie gebrokenheid en die noodsaaklike genesing was die fokus van my MTh-navorsing getitel Craving restoration: An ecofeminist theological perspective on Lily Mine. Hierin het ek gevra: Hoe is ons gebroke, wat het die gebrokenheid veroorsaak, en is daar ’n manier om weer heel te word? Om hierdie vraag te ondersoek, het ek gekyk na hoe verskillende mites, ideologie, teologie en geskiedenis (spesifiek dié van kolonialisme en apartheid) ons verhouding tot grond, mekaar en God beïnvloed het. Hierdie verhouding is uiteraard kompleks en word nog verder gekompliseer deur die feit dat die natuur en ons bestaan bedreig word deur klimaatsverandering. In hierdie ondersoek het na vore gekom dat sowel mense as die natuur vasgevang is in ’n sisteem wat uiteindelik albei sal vernietig.
Ekofeminisme se fokus is hierdie tweeledige vernietiging van sowel die natuur as mense, veral vroue. Ekofeminisme se uitgangspunt is dat die wêreldbeskouing wat onderdrukking gefundeer op ras, klas, geslag, seksualiteit en fisiese vermoëns toelaat, dieselfde wêreldbeskouing is wat die onderdrukking en vernietiging van die natuur toelaat. Ekofeminisme voer die fundamentele onderlinge verbondenheid van alle lewe aan. Dit is met hierdie idee van onderlinge verbondenheid wat ons primêre realiteit is (I Gebara in Longing for running water: Ecofeminism and liberation, 1999), dat die probleem van ons gebrokenheid nog verder uitgebrei word.
Ons vind ’n soortgelyke idee oor verbondenheid in die Bybel, in God se vrede, of shalom. Hiermee word verwys na ’n algehele heelheid en “reg”-heid in alle verhoudinge, insluitend die verhouding tussen God en sy mense, die verhouding van mense met mekaar, en die mens se verhouding met die skepping.
Kan ekofeminisme ons help om hierdie ontwrigting van ons onderlinge verbondenheid reg te maak? Ekologiese, feministiese en ekofeministiese skrywers was en is steeds baie krities teenoor Christelike teologie en klassieke godsdienste omdat hulle, volgens ekofeminisme, ’n patriargale wêreldbeskouing bevorder wat groot skade berokken het. In ag genome hierdie feit, is dit tog die moeite werd om te kyk na wat ’n ekofeministiese teologie sou behels en hoe dit ons in die Hervormde Kerk kan help.
Eerstens sou so ’n teologie se onderliggende beginsel die heiligheid van die aarde en alle lewende dinge wees. Mary Grey verwoord dit soos volg in “Ecofeminism and Christian Theology”, in The Furrow, 51(9), 2000: Ecofeminist Theology of Creation involves experiencing the world as sacred, as held by sacred being, by God. God is not extraneous to the world, but the power of life, energy, love, sustaining and energizing this web of life.
Binne hierdie raamwerk is “skepping” ’n insluitende term – dit sluit alle soorte lewe, mense, dinge en plekke in. Daar is geen plek waar God nie is nie. Dit sluit ook alle ruimtes in – van die sinkdakhuis in Khayelitsha, tot die sekuriteitkomplekse in Pretoria-Oos, die groot oop vlaktes van die Karoo, en die oopgroefmyne in Mpumalanga. Daar is geen plek waar God afwesig is nie, en nog meer, daar is geen plek wat sonder God se liefde is nie. Hierdie idee word verwesenlik in die inkarnasie van Jesus Christus. Met die inkarnasie sê ons die woord van God het vlees geword en onder ons kom woon. Hiermee sê ons God het nie net verskyn in die vorm van Jesus nie (modalisme), maar eerder dat God werklik teenwoordig was hier op aarde, en Jesus was werklik ten volle mens.
Dit beteken dat Jesus al ons menslike ervarings gehad het: pyn, vreugde, woede, hitte, sweet, siekte, liefde… Al die dinge wat ons mens maak, het God deur Jesus ook ervaar. Binne ons Christelike narratief glo ons nie dat God op ’n afstand is nie, maar eerder dat Hy so baie omgegee het oor die wêreld dat Hy self deel geword het daarvan. Deur Jesus wil God die wêreld – dit sluit die hele skepping in – met Hom en mekaar versoen. As ons die inkarnasie ernstig opneem, sal dit van ons vereis om anders te begin kyk na die wêreld waarin en waarop ons leef en ons verhoudinge. Om te dink aan God as teenwoordig en deelnemend besig in die skepping, is ’n bron van ryk oordenking.
Hiermee saam is die fisiese ervaring van mense – veral van die geringes – belangrik binne ekofeministiese teologie. Ons kan onsself nie losmaak van ons omgewing en ons liggame nie. Dit is hoe ons as mense is in hierdie wêreld. In hierdie verband behoort ons ’n besorgdheid te kweek vir die realiteit van ons gebrokenheid: Ons behoort om te gee oor droogtes, vloede, as ons moeilik asemhaal, as ons nie veilige drinkwater het nie, suurreën, ashope, as ons bosse, berge en velde omgedolwe word vir erts of ontwikkeling, slegte oeste, seevoëls verstrengel in plastiek, brande en so meer.
Ons as gelowiges behoort om te gee oor al hierdie dinge, want op verskillende maniere raak dit ons almal. Uiteindelik is die hoop dan dat dit ons sal dryf om anders te begin dink en droom oor wat ’n goeie lewe behels en hoe ons goed kan wees vir mekaar. Op ’n klein manier kan ekofeminisme ons hiermee help.
(Ds Erika Ferreira is leraar in Gemeente Bellville)