Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Ons as gelowiges het die voorreg om God se kinders te kan wees. En die God van wie ons kinders is, is nie ‘n veraf God nie. Dit is ‘n God van wie ons bely dat Hy elke dag, elke oomblik, in ons lewens teenwoordig is.

Ja, al is ons lewe soms vol swaar en leed, soos julle **** en **** vandag hierdie swaarkry en leed intens ervaar, bely ons tog dat die God in wie ons glo, op sy manier ons lewens stuur, ons dae sinvol maak, ons vrede na binne gee en vreugde na buite laat uit uitstraal.

Maar wie is hierdie God wat so in ons lewens teenwoordig is? Wie is hierdie God wat in Jesus Christus ons kom toon het hoe lief Hy ons het? Wie is hierdie God wat aan ‘n kruishout gehang het, wat van God verlaat moes leef, sodat ons nooit weer sonder sy teenwoordigheid sou wees nie? Nie in hierdie lewe, of die lewe hierna nie?

Eksodus 3 antwoord vir ons hierdie vrae op ‘n treffende manier. Wanneer Moses vir God vra wat hy aan die volk moet sê wanneer hulle vra wie hierdie God is wat hom gestuur het, wat hierdie God se Naam is, antwoord God deur te sê dat sy naam is ‘Ek is wat Ek is’. Dit moet jy vir hulle sê: Ek is die God van julle voorvaders, Ek is die God wie se Naam is ‘Ek is wat Ek is’.

Wat, broers en susters, wou God hiermee sê? Wat bedoel God, wat impliseer God, wanneer Hy aan Moses sê my Naam is ‘Ek is wat Ek is’? Uit die gedeelte kan ons dit pragtig aflei.

Ek wat jou God is, Ek wie se naam is ‘Ek is wat Ek is’, sê God, is die God van my volk se verlede. Want Ek het die ellende van My volk in Egipte gesien en die noodkrete van My volk gehoor. En Ek het hulle lyding ter harte geneem. Dit is wat Ek gedoen het, sê God.

Maar, gaan God verder terwyl Hy met Moses praat, Ek is ook die God van my volk se hede. Daarom het Ek afgekom om my volk nou te bevry. Daarom praat Ek nou met jou, Moses, en daarom stuur Ek jou nou na Egipte toe.

Maar, sê God hier — by implikasie — Ek is ook die God van my volk se toekoms. Daarom sal Ek by jou, Moses, wees wanneer jy gaan om my volk te bevry, en jy sal die volk uit Egipte bevry. Ek sal hulle laat trek na ‘n land van melk en heuning. Die bewys daarvan sal wees dat die volk my een dag weer by hierdie berg sal aanbid.

Met ander woorde, broers en susters, die God van wie ons kinders genoem kan word, die God wat sê dat sy Naam is ‘Ek is wat Ek is’, is die God van ons verlede, hede en toekoms. Dit is die God wat altyd by ons was, altyd by ons is, en altyd by ons sal wees. Of anders gesê: dit is die God in wie se teenwoordigheid ons kon leef, nou leef, en altyd in sal kan leef.

Met ander woorde: God, wie geken wil word onder die Naam ‘Ek is wat Ek is’, is ‘n ewige God. Dit sê Eksodus 3:15 pragtig. Ek is wat Ek is, dit is my Naam vir ewig. Met ander woorde, Ek is ewige. Daarom weet Ek van elkeen se verlede, daarom handel Ek in die hede, en daarom is daar vir julle elkeen ‘n toekoms.

En was dit nie, ****, in **** se lewe presies so nie? Toe hy siek geword het, was hy nie alleen nie. Dit het Hy immers telkens vir baie mense, maar dikwels ook aan my, gesê. Maar nog meer: God het ook sy se lyding gesien, en dit ter harte geneem. Hy het die swaarkry gesien wat nog sou kom, en dit ter harte geneem.

Daarom het God besluit om in die hede te handel. Hy het besluit om **** na Hom toe terug te neem, Hy het besluit om sy lyding te verkort. Hy het gehandel, Hy het hom kom haal.

Maar nie daar gestop nie. Hy het, wat **** se toekoms betref, hom laat gaan na die spreekwoordelike land van melk en heuning. Hy het ook vir sy toekoms gesorg. Daarom het hy hom na Hom geneem, vir ewig, by God, waar daar ewige rus is.

Ewige rus, omdat God ewig is. Ewige rus, omdat God vir ewig bestaan. Ewige rus, omdat God ons nooit alleen laat nie. En kom ons let maar ook op die pragtige parallel wat hier in Eksodus 3 na vore kom wat iets vir ons wil sê van hierdie ewige rus: God stuur vir Moses, en Moses bevry God se volk uit slawerny. Hulle sou egter weer onder die juk van ander nasies kom, die Assiriërs hier in 587 vC.

Vir ons egter, en vir ****, het God, toe Hy ons nood gesien het, vir Jesus Christus gestuur. So het Hy gekom en ons van ons nood, ons sondeskuld voor God, kom bevry. Ons sal egter, anders as die volk Israel, nooit weer onder die juk van die sonde staan nie. Want daardie kruisdood het vir ewig, soos God ewig is, omdat God se naam ‘Ek is wat Ek is’ is, ons skuld kom wegneem.

En omdat Jesus Christus opgestaan het, sal ons vir ewig lewe, ewig soos God se Naam ewig is. Omdat God se Naam is ‘Ek is wat Ek is’.

Maar ook wat julle vandag betref, sien hierdie God van ons wat ewig is, julle nood raak. Daarom het Hy reeds, en sal Hy ook na julle afkom om hierdie leemte en verlies in julle lewens op te vul. Ook julle sal weer, ja, in julle omstandighede, sonder ****, vrede en vreugde ervaar. Hoe kan ons dit sê? Want ons God is ewig. Sy Naam is ‘Ek is wat Ek is’. Wat beteken dat God ons nood sien, iets daaraan doen, en vir ons ‘n blye uitkoms en toekoms sal gee. Want Hy is ewig. Dit sê sy Naam.

Vergun my om op ‘n persoonlike noot af te sluit. Ons harte gaan vanoggend uit na julle. Ons weet watter verlies julle gelei het. Want ons het **** mos geken. Julle verlies is immers ook ons verlies. Daarom kry ons saam met julle swaar. En net soos julle, neem ons swaar van hom afskeid.

Maar ook ons weet, saam met julle: ons God is ewig. Hy was, is en sal altyd by ons wees. En ons by julle. Dankie daarom vir die geleentheid om hierdie diens te kon lei. Dankie vir die geleentheid dat julle ons toegelaat het om ook deel van **** se lewe te kon wees. En dankie vir die geleentheid om ook vorentoe saam met julle hierdie lewenspad te kan stap.

Ons bid dat die ewige God, wie se Naam is ‘Ek is wat Ek is’, vir julle goed sal wees. Hy sal, want Hy is ewig. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap