Die begrip fopnuus is vandag danksy mense soos Donald Trump deel van ons woordeskat. Die kuns van fopnuus is om die waarheid en die werklikheid so te omvorm dat die boodskap of nuus steeds na die waarheid klink, maar eintlik niks anders is nie as vals. Sosiale media en platforms maak die verspreiding van fopnuus soveel makliker en meer toeganklik.
Die misbruik van inligting is niks nuuts nie. Reeds in Genesis bied die slang aan Eva fopnuus aan oor die eet van die vrugte in die tuin van Eden. Ons lees in die Bybel dat daar van die vroegste tye af valse boodskappe deur bedenklike figure verkondig is. In die Nuwe Testament word lidmate van die kerk gewaarsku teen valshede wat oor Jesus Christus versprei is en sal word. Die Kerkhervorming vind plaas juis in reaksie op die fopnuus wat die Roomse Kerk van daardie tyd verkondig het. Die Woord van God word gewoonlik misbruik om die een of ander ideologie of beweging te bemagtig.
Metodes van misbruik is aan ons bekend. Die sogenaamde “pikmetode” is alombekend. ’n Vers of verse word buite konteks aangehaal om bepaalde standpunte te ondersteun en gesag daaraan te verleen. ’n Interessante voorbeeld hiervan is Matteus 18: 20. Ons lees: …waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Lidmate gebruik soms hierdie teks as verdediging waarom hulle nie eredienste hoef by te woon nie. As “huisgesin” kan hulle ook kerk wees, en dit is op die oor af waar. Lees ’n mens die teksvers in konteks, handel dit hier oor die opsiggesprek met ’n lidmaat wat gesondig het.
Verder is daar ’n opbloei van die fundamentalisme, wat in wese die meganiese inspirasieteorie ondersteun, terwyl hulle dit hewig ontken. Net sekere vertalings mag gebruik word, byvoorbeeld: Die 1983-vertaling word verwerp en die 1933/53-vertaling in Afrikaans word tot die enigste gesaghebbende vertaling verhef. Die grondtale waarin die boeke van die Ou Testament en die Nuwe Testament geskryf is, te wete Hebreeus/Aramees en Grieks, word bloot geïgnoreer.
Die verskillende literatuursoorte en genres word nie in hul verstaan van die Skrif verdiskonteer nie. Daar word byvoorbeeld nie onderskeid gemaak tussen die profetiese literatuur en verhalende gedeeltes in die Ou Testament nie. ’n Fundamentalistiese lees van die Bybel neem ook nie in ag dat die Evangelies ’n eiesoortige literatuursoort is en onderskei moet word van die briewe in die Nuwe Testament nie. Die Bybel is, kom ons sê: “vanuit die hemel gedikteer”.
Die wetenskaplike omgang met die Skrif word as verdag afgemaak en die akademici word beskou as ongelowiges. Die letterlike lees en verstaan van die Bybel word voorop gestel, en dit lei tot ’n teologie wat maar weer eens ’n ideologie van die een of ander aard ondersteun. ’n Voorbeeld hiervan is misbruik van 1 Korintiërs 14: 34-35, om die rol van vroue in gemeentes te bespreek. Die toekoms sal nog aandui of die 2020-vertaling byval by die fundamentaliste sal vind of nie.
Tydens ’n onlangse gesprek met ’n bekende Springbok het ek ook weer besef dat sommige Christene, wanneer hulle oor sake uit die Skrif en die kerk dink en praat, eerstens staatmaak op hul eie geloofservarings en sogenoemde openbarings wat aan hom of haar die waarheid bekend gemaak het. Hierdie persoonlike belewenis verleen aan hulle die gesag om uitverkose gedeeltes in die Bybel te interpreteer. Tweedens word die Skrif misbruik om hul eie beskouings oor die tradisionele kerke en selfs die sakramente te ondersteun. Die verstaan en gesag van die Bybel word misbruik as ’n vorm van buikspraak.
’n Ander faktor wat aanleiding gee tot die misbruik van die Skrif, is die internet wat toegang tot onmeetbare inligting verleen. Enige persoon met ’n slimfoon word nou ’n deskundige rondom die verstaan en uitleg van die Heilige Skrif. Mense sonder kundige opleiding in die onderskeie dissiplines in die teologie word nou teoloë wat sonder voorbehoud die evangelie kan verkondig. ’n Gebrek aan lesers en luisteraars is daar ook nie. Sosiale media en sosiale platforms verskaf aan hulle ’n gehoor van ongekende omvang.
Dit blyk ook uit navorsing oor hierdie saak dat Jesus die Christus, en juis die goeie nuus van die Nuwe Testament, in fopnuus verswyg word. Klem word gelê op die profetiese uitsprake van Jesus en die Openbaring van Johannes, en Jesus, die Gekruisigde en Opgestane Heer, word byna genegeer. God, die liefdevolle Vader, is meestal afwesig. Die begrip kerk word ook aangepas om die bepaalde ideologie te dien. Die werking van God, die Heilige Gees en die ervaring van die mense, word oorbeklemtoon.
Vanuit ’n teologiese perspektief kom twee sake dus aan die orde: Skrifbeskouing en Skrifverstaan. Biblioteke vol is reeds oor hierdie onderwerpe geskryf. In ’n reformatoriese kerk mag die gesprek hieroor nooit eindig nie. Albei sake is gekoppel aan die epistemologie van die tyd, en ook hierdie gesprek sal moet voortgaan in reformatoriese kerke. Hierdie gesprek is ook wesenlik binne die teologiese raamwerk waarbinne die NHKA kerk van Christus moet wees.
Watter riglyne kan die lidmaat gebruik om fopnuus en die misbruik van die Skrif te identifiseer? Hoe behoort ek die Bybel te lees?
- Wanneer ons in gesprek tree oor die misbruik van die Bybel, moet lidmate hulself twee belangrike vrae afvra: Wat is die Bybel en waar kom die Bybel vandaan?
Die Bybel is God se Woord in mensetaal. Die Bybel of versameling van 66 boeke of geskrifte in die Bybel het oor tyd ontstaan, in die taal, woorde en begrippe van die mense van hul ontstaanstyd. Die Bybelskrywers het nie as robotte los van die konkrete situasie en tyd waarin hulle hulle bevind het, gefunksioneer nie.
Die “skrywers” was gewone mense, sondaars, in diens van God, en het binne ’n bepaalde verhouding met God geleef. Hulle was ook nie bo-tydelik nie, hulle het aanbid en geleef volgens die gebruike en gewoontes van hul tyd. Elkeen van hulle het uit ’n bepaalde ekonomiese klas en agtergrond gekom. Die Bybelskrywers en die oorleweraars van Bybelse tradisies was mense met gawes en talente en is deur die Heilige Gees gebruik en geïnspireer om die handelinge van en die verhouding tussen God en mense neer te pen. Ons kán die Bybel dus as God se Woord in mensetaal beskryf.
- Die gesag van die Skrif word deur Paulus aan Timoteus in 2 Timoteus 3: 16 beskryf. Die Heilige Gees oortuig die mens dat dit God se Woord is wat gesag op ons lewens uitoefen en ons geloof (ook ’n gawe van die Heilige Gees) verdiep. Lees gerus ook 2 Korintiërs 3: 1-6.
- Hierdie 66 geskrifte of boeke van die Bybel word ook deur die kerk as kanoniek Die ontstaansgeskiedenis van die boeke van die Bybel is ingewikkeld en die kanongeskiedenis is interessant, maar dit kan nie in hierdie artikel bespreek word nie. Sekere kriteria is gebruik om te bepaal watter geskrifte deel sal wees van die Ou en die Nuwe Testament. Ander geskrifte kan gelees word, maar besit nie dieselfde gesag as dié wat in die Bybel opgeneem is nie. Wat mense vandag byvoorbeeld meestal glo en sê oor engele, kom hoofsaaklik uit die apokriewe.
- Ons moet nie net die verse van ’n boek nie, maar ook die Bybelboeke binne konteks Ons moet rekening hou met die kultuurhistoriese konteks van die Bybelskrywer, die teks en die konteks van die oorspronklike lesers en die lesers van vandag.
- Ons moet probeer om die Bybel onbevooroordeeld te lees en oop te wees vir oortuiging deur die Skrif. Ons moet eerlik met onsself en die Bybel omgaan.
- Ons moet besef dat ’n oppervlakkige lees van en uitsprake gegrond op die Bybel tragiese en persoonlike gevolge vir ander mense kan teweegbring.
- Jesus Christus staan sentraal wanneer ons geloofsuitsprake maak oor die Woord van God, Hy is per slot van sake die Woord wat mens geword het.
- Ons moet die werking van die Heilige Gees erken en onsself beskikbaar maak vir oortuiging, veral wanneer ons besef dat ons standpunt oor ’n saak kan of moet verander.
Gegewe al die inligting in hierdie artikel, kan lidmate ontmoedig voel om self, op hul eie, die Bybel te lees. Die Reformasie leer ons een belangrike ding oor die lees van die Bybel. Gelowiges is nooit leke wat nie die Bybel kan lees en verstaan nie. Vandag is daar baie hulpmiddels beskikbaar. Ons moet erns maak met Bybelstudie, en die predikante se deure is altyd oop om leiding oor die verstaan van ’n bepaalde saak te gee. Kom ons waak teen fopnuus, veral voor ons sonder voorbehoud dit aanstuur. Die soeke na die waarheid in die Skrif mag nooit ophou nie!
(Ds Marius Venter is ’n emerituspredikant van die Kerk)
