In die skadu’s van die prominente narratiewe van die Bybel vind ons iemand wie se verhaal, hoewel minder bekend, resoneer met die stryd en uiteindelike triomf van die menslike gees. Hierdie onbesonge heldin, Rahelia, tree uit obskure onbekendheid om ons te inspireer met haar merkwaardige reis van veerkragtigheid, hoop en onwrikbare geloof.

Dit is die inleiding van ChatGPT se verhaal vol intriges en drama in reaksie op my versoek: Skryf iets oor ’n minder-bekende Bybelfiguur met ’n inspirerende lewensverhaal.

Die geselsbot borduur voort: Rahelia se verhaal ontvou teen die agtergrond van ’n onstuimige era, ’n tyd van omwenteling en onsekerheid. Sy het in ’n arm woonbuurt aan die buitewyke van ’n groot stad grootgeword. Ten spyte van die aanhoudende droogte, hongersnood en ander ontberings was Rahelia bekend vir haar vriendelikheid, medelye en onwrikbare optimisme. Maar haar karakter word tot die uiterste beproef toe ’n tragedie haar gesin tref. En dan word daar uitgewy oor al Rahelia se wedervaringe en die “vonk van hoop” wat sy te midde van al die uitdagings aangesteek het.

Baie dankie, skryf ek vir die bot, dit is sowaar ’n inspirerende verhaal, en vir my beslis onbekend. Waar in die Bybel kan ek van Rahelia lees? (Ja, ek praat met die blikbrein asof dit ’n mens is…)

Die bot antwoord: Ek vra om verskoning vir enige verwarring of misverstand, maar Rahelia is nie ’n Bybelse figuur nie. Die verhaal wat ek voorsien het, is ’n kreatiewe en fiktiewe weergawe van ’n minder bekende karakter, geïnspireer deur temas en narratiewe wat dikwels in Bybelverhale gevind word. Die bot kon netsowel gesê het: Lesers trek gewoonlik niks wat ek skryf in twyfel nie en daarom skryf ek net wat ek wil. Ek het immers geen idee wie jý beskou as bekende of minder-bekende Bybelfigure nie, so ek dink sommer self een uit.

Die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) het onlangs gewaarsku dat vals inligting gedryf deur kunsmatige intelligensie (KI) tans die grootste bedreiging vir die globale ekonomie inhou. Nogal ’n mondvol as in ag geneem word dat dit selfs die gevare van klimaatverandering en internasionale konflikte troef.

Die lande wat vanjaar nasionale verkiesings hou, verteenwoordig 60% van die globale BBP. Die WEF is veral bekommerd oor die verband tussen vals inligting en maatskaplike onrus in die aanloop tot die verkiesings. Ook hier te lande moet ons ons vanjaar maar staal vir ’n oormaat fopnuus, halwe waarhede en leë beloftes. Ons gaan wysgemaak word dat 20 000 mense ’n politieke byeenkoms bygewoon het, maar op lugfoto’s gaan kwalik 500 gesien word. Ons gaan gebombardeer word met die werkbaarheid en voordele van voorgestelde nuwe wetgewing, terwyl diegene wat beter weet daaroor gaan kopkrap. Ons gaan verseker word van konstruktiewe samewerking tussen politieke vennote, maar vanuit binnekringe gaan berigte van onverkwiklike konflikte en magstryde gereeld aan die media gelek word.

Ds Hannes van der Merwe toon in die voorbladartikel aan hoe mense vandag smag na egtheid en opregtheid in ’n wêreld vol valsheid waarvan die tentakels ver en wyd strek. Daar is byvoorbeeld tans video’s in omloop waarin Johann Rupert en Elon Musk oënskynlik beleggers werf vir die een of ander skema waarmee hulle in werklikheid niks te make het nie. Die handgebare is effens uit pas uit met die klank, maar die tegnologie raak daagliks meer gesofistikeerd.

Disinformasie is natuurlik allermins die uitsluitlike domein van KI – en dit is veel meer as die ekonomie wat in gedrang is. Terwyl ek hier skryf, sien ek op sosiale media skokkende tonele van ’n veerboot wat besig is om te sink en passasiers met reddingsbaadjies wat die boot ontruim en in die see in spring. Dit word aangebied asof dit pas aan die kus naby Durban gebeur het. Dit is egter videogrepe van ’n seeramp jare gelede in die Bahamas! Die foto van ’n ernstig beseerde kind in intensiewesorg na ’n beweerde motorongeluk op die N3 word na jare steeds versprei. Die oorspronklike foto van ’n jong meisie in Oklahoma, VSA, wat vyf jaar gelede reeds uit die hospitaal ontslaan is, kan met ’n eenvoudige soektog gevind word.

En hoeveel loutere bog oor die Bybel word die wêreld ingestuur? So lees ek onlangs ’n brokkie oor die pous wat kwansuis aangekondig het dat hy die Bybel gaan vervang met ’n ander heilige boek. Die nuus het flink versprei, want daar is mense wat daarvoor geval het – vergesog soos wat dit is.

As die evangelie maar so vinnig soos vals gerugte en fopnuus versprei het, was die sendingopdrag lankal afgehandel. Die veiligste is om alles wat jy sien en hoor eers met ’n knippie sout te neem. Wees veral baie versigtig vir boodskappe wat begin met: Dit is so pas amptelik bevestig…

Ons kan baie leer by die eertydse inwoners van Berea in Griekeland. In Handelinge 17 is Paulus en Silas in die Joodse sinagoge in hierdie dorp ongeveer 65 km suidwes van Tessalonika. In vers 11 (AFR1983) lees ons: Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.

Dit geld vir alle nuus en inligting: Wees ontvanklik en luister met belangstelling, maar doen dan jou eie ondersoek en toets dit wat jy hoor aan die oorspronklike bron – of minstens aan ’n ander betroubare bron. Die waarheid is immers nie heeltemal so relatief en vloeibaar as wat sommige ons wil laat glo nie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap