Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

U weet dat ons by verskillende geleenthede die tughandelinge met betrekking tot ons medelidmaat/medelidmate N, bekend gemaak het. Daarmee het dit ook onder u aandag gekom watter groot sonde hy/sy/hulle gedoen het en die groot aanstoot wat hy/sy/hulle daarmee gegee het. Ons het dit bekend gemaak, sodat u hom/haar/hulle kon vermaan en vir hom/haar/hulle kon bid, sodat hy/sy/hulle, hom/haar/hulle tot God sou bekeer van sy/haar/hulle sonde en hy/sy/hulle vry sou geraak het uit die vangstrik waarmee die duiwel hom/haar/hulle gevange gehou het, en hy/sy/hulle volgens die wil van God sou begin leef het.

Dit is egter met groot teleurstelling dat ons u moet meedeel dat nog niemand na vore gekom het wat kon getuig dat hy/sy/hulle tot enige berou gekom het of enige blyke gegee het dat hy/ sy/hulle, hom/haar/hulle van sy/haar/hulle sonde bekeer het nie. En dit nadat hy/sy/hulle baie keer afsonderlik, voor getuies en voor gemeentelede oor sy/haar/hulle sonde vermaan is. Inteendeel, hy/sy/hulle het sy/haar/hulle sonde wat nie gering is nie, deur hardnekkigheid daagliks nog groter gemaak. Die vorige keer het ons reeds bekend gemaak dat as hy/sy/hulle hom/ haar/hulle nie bekeer ná al die geduld wat die kerk met hom/haar/hulle gehad het nie, en ons so nog meer rede tot kommer gee, ons die uiterste tugmiddel op hom/haar/hulle sal moet toepas. Daarom is ons volgens die opdrag van die heilige Woord van God genoodsaak om hom/ haar/hulle van die gemeente af te sny, sodat dit, as dit nog moontlik is, hom/haar/hulle tot berou oor sy/haar/hulle sonde sal bring. So sal ook voorkom word dat hierdie lidmaat/lidmate met sy/haar/hulle volharding in die sonde die hele gemeente aansteek en die Naam van God gelaster word.

Daarom verklaar ons, die kerkraad van hierdie gemeente, wat in die Naam en op gesag van ons Here Jesus Christus optree, voor almal dat N, hom/haar/hulle self reeds uit die gemeente van die Here uitgesluit het en hiermee nou uitgesluit word. Verder verklaar ons dat hy/sylhulle géén deel het aan die gemeenskap van Christus, aan die sakramente en aan al die geestelike seëninge en weldade wat God aan sy gemeente beloof en bewys het nie. Daarom moet u hom/haar/hulle solank hy/sy/hulle so sonder berou hardnekkig in sy/haar/hulle sondes volhard, as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel. Christus het immers gesê dat alles wat sy dienaars op die aarde toesluit, in die hemel toegesluit bly.

Verder vra ons u, geliefde Christene, om hom/haar/hulle voortaan as ‘n buitestaander te behandel, sodat hy/sy/hulle daardeur tot inkeer kan kom. U moet hom/haar/hulle egter nie as ‘n vyand beskou nie, maar hom/haar/hulle voortdurend vermaan, soos met ‘n broer/suster gedoen word.

Terselfdertyd moet elkeen van ons uit hierdie en soortgelyke voorbeelde gewaarsku word dat ons die Here moet vrees. Ons moet ook daardeur aangespoor word om op ons hoede te wees dat ons nie val as ons meen dat ons staan nie. Terwyl ons in volle verbondenheid met die Vader en sy Seun, Jesus Christus, én met alle gelowiges lewe, moet ons daarin volhard tot die einde toe om so die ewige saligheid te verkry.

Geliefde broers en susters, u het gesien hoe hierdie lidmaat/lidmate wat afgesny is, begin afwyk het en algaande al meer in die sonde geval het. Let dan op hoe listig die Satan die mens tot die verderf lei en hom wegtrek van alles wat tot redding lei. Waak dan teen die geringste begin van die kwaad. Wees gehoorsaam aan die vermaning van die Skrif en gooi elke las af en ook die sonde wat ons so maklik verstrik. Hardloop met volharding die wedloop wat voor julle lê, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Wees nugter, waak en bid dat julle nie in die versoeking val nie. Vandag, as julle die stem van die Here hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, maar met eerbied en ontsag julle daarop toelê om soos verloste mense te lewe. Elkeen moet berou oor sy sonde hê sodat God ons nie weer straf en ons weer oor iemand van/ons gemeente moet treur nie. Ons moet eendragtig in die geloof volhard, sodat ons bekroning en blydskap in die Here mag wees.

Aangesien dit God is wat in ons werk om ons gewillig en bekwaam te maak om sy heilige plan uit te voer, laat ons sy heilige Naam met belydenis van ons sonde aanroep:

Gebed

Regverdige God, barmhartige Vader!

Voor U hoë majesteit treur ons oor ons sondes. Ons erken dat ons die droefheid en smart wat ons deur die afsnyding van hierdie medelidmaat/medelidmate ervaar het, terdeë verdien het. Ons almal verdien dit om vanweë ons baie oortredings deur U afgesny en verstoot te word as U ons volgens ons oortredings sou oordeel. Wees ons, o Here, om Christus ontwil genadig en vergewe ons ons sondes, want ons het van harte berou daaroor. Gee ons, al meer, ‘n gevoel van ware berou daaroor, sodat ons ons sal beywer om U in alles gehoorsaam te wees, want ons vrees U oordele oor die hardnekkiges. Maak ons waaksaam teen elke besmetting deur die wêreld en deur dié wat van die gemeenskap van die kerk afgesny is, sodat ons geen aandeel in hulle sondes sal hê nie. Gee ook dat hy/sy/hulle wat afgesny is, tot berou mag kom.

Here, U wil nie hê dat die sondaar deur sy of haar sonde moet sterf nie, maar dat elkeen van sy en haar optrede moet afsien en lewe. U kerk staan ook altyd oop vir dié wat hulle bekeer. Gee dan dat ons ywerig en met gepaste vermanings en ‘n voorbeeldige lewenstyl sal probeer om hierdie persoon/persone wat afgesny is, sowel as almal wat deur ongeloof of ‘n roekelose lewe afdwaal, weer op die regte pad te bring. Gee u seën aan al ons pogings, sodat ons weer bly kan word oor hulle oor wie ons nou moet rou. Gee dat u heilige Naam so geprys mag word.

Dit vra ons deur ons Here, Jesus Christus, wat ons geleer het om so te bid:

Ons Vader wat in die hemel is, 
laat u Naam geheilig word; 
laat u koninkryk kom; 
laat u wil ook op die aarde geskied, 
net soos in die hemel. 
Gee ons vandag ons daaglikse brood; 
en vergeef ons ons oortredinge 
soos ons ook dié vergewe 
wat teen ons oortree; 
en laat ons nie in versoeking kom nie 
maar verlos ons van die Bose. 
Aan U behoort die koninkryk 
en die krag en die heerlikheid 
tot in ewigheid. 

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap