Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

U weet dat ons by twee verskillende geleenthede die name afgekondig het van die broers en susters wat as diakens van die gemeente verkies is, ten einde te verneem of iemand ‘n beswaar het teen hulle bevestiging in die amp. Aangesien niemand iets wettigs teen hulle ingebring het nie, gaan ons nou in die Naam van die Here tot hulle bevestiging oor. Vir hierdie doel moet u, broers en susters wat bevestig gaan word, en ook almal wat hier teenwoordig is, eers uit die Woord van God ‘n kort uiteensetting aanhoor van die instelling van die amp van diaken en wat hierdie ampswerk behels.

 

Instelling

Die amp van diaken het nie sy oorsprong by die mens nie, maar by God. Dit is immers nie ‘n barmhartigheidsgevoel by die mens wat die grondslag daarvan vorm nie, maar God se barmhartigheid, soos geopenbaar in Jesus Christus. Omdat God eerste deur Jesus Christus aan ons barmhartigheid bewys het, word ons ook geroep om barmhartigheid te bewys. Die barmhartigheid van God deur Jesus Christus bestaan primêr uit die verlossing van die mens uit sy grootste nood en ellende, naamlik die sonde en die dood. Die roeping van die kerk met betrekking tot sy barmhartigheidsdiens is daarom in die eerste plek dat hy Christus sal verkondig, deur wie die mens alleen barmhartigheid kan ontvang. Met die oog op hierdie dienswerk het God in die besonder bepaal dat daar dienaars van die Woord en ouderlinge moet wees. God se verlossing uit sonde en dood omvat egter ook die belofte van die mens se redding van die gevolge van die sonde. Op grond hiervan is dit God se wil dat sy kerk ook die mens in sy aardse nood moet bystaan. Daarom het God van die vroegste tye af mense geroep om hierdie dienswerk in sy kerk te verrig. God roep nie alleen hierdie dienaars nie, maar skenk self ook deur die Heilige Gees aan hulle die bekwaamheid om hierdie dienswerk te verrig.

In die vroeë kerk het die apostels self die versorging van die armes behartig. Maar toe daar ontevredenheid ontstaan het omdat die weduwees van die Griekssprekendes afgeskeep is, is daar op aandrang van die apostels persone gekies wat spesifiek die armes moes versorg, sodat die apostels al hulle aandag aan gebed en aan die bediening van die Woord van God kon bly gee. Hierdie instelling is van daardie tyd af in die kerk gehandhaaf, soos blyk uit Romeine 12:8 waar die Skrif van hierdie diens sê: ‘As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees.’ En waar op ‘n ander plek (1 Kor 12:28) van die helpers gepraat word, word bedoel diegene wat in die gemeente gestel is om die armes en alle ander hulpbehoewendes in hulle nood by te staan.

 

Ampswerk

Uit hierdie tekste is dit duidelik wat die amp van die diakens alles behels.

Ten eerste moet hulle met getrouheid die medegelowiges, maar ook alle mense in nood, versorg — die armes, die siekes, die bejaardes, die bedroefdes, die weduwees, die weeskinders, ja elke mens in nood en ellende. Aangesien ons alleen in Jesus Christus ware troos en verlossing kan vind, moet die vertroosting en bemoediging uit die Woord van God steeds sentraal in hulle dienswerk staan. Hierdie dienswerk moet ook altyd in noue samewerking met die ander ampte gedoen word.

Ten tweede moet die diakens getrou en ywerig die offergawes wat vir die hulpbehoewendes en vir die instandhouding van die kerk en die Woordverkondiging gegee word, insamel en bewaar. Hulle moet ook saam met die ander ampsdraers die lidmate só toerus dat hulle uit dankbaarheid hulle gawes mildelik sal gee.

Ten derde moet hulle, soos die naam diaken aandui en soos dit van die vroegste tye af in die kerk gedoen is, by die tafel van die Here diens doen. Hierdie diens kan alleen uit dankbare gehoorsaamheid teenoor die Here van die kerk gedoen word. Dit vereis onder alle omstandighede van die diaken gereelde bywoning van eredienste, getroue huisgodsdiens en ‘n lewe in toewyding aan God.

 

Die voornemende diakens word nou opgeroep om op die volgende vrae te antwoord:
 
Vrae

Sodat elkeen, geliefde broers en susters, kan hoor dat u bereid is om hierdie diens te aanvaar, moet u op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste: Is u daarvan oortuig dat u wettig deur die gemeente van God en daarom deur God self tot hierdie diens geroep is?

Ten tweede: Glo u dat die Ou en Nuwe Testament die enigste Woord van God en die volkome leer van die redding is, en verwerp u alle leringe wat

daarmee in stryd is?

Ten derde: Beloof u om u amp, soos dit aan u voorgehou is, getrou in ooreenstemming met hierdie leer te vervul? Beloof u ook om ‘n Christelike lewe te lei en u aan die kerklike vermanings en tug te onderwerp as u u (miskien) misdra, in leer afwyk, of u amp nie getrou vervul nie?

Hierop vra die dienaar van die Woord: NN, wat is hierop u antwoord?

Dan moet hulle antwoord: Ja.

Daarop moet die dienaar sê: Mag die almagtige God u sy genade gee dat u in hierdie diens getrou en vrugbaar werksaam mag wees.

Amen

 

Verder moet hy/sy hulle, sowel as die hele gemeente, soos volg toespreek:

Onthou die Skrifwoord: ‘En Hy sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”’ En ook: ‘Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself ‘n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Jesus Christus.’ En die gemeente moet hierdie Skrifwoord onthou: ‘Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar…’, ‘…en toets My hierin, sê die Here, die Almagtige. Toets My of ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.’

 

Gebed

Maar omdat ons uit onsself nie daartoe in staat is om hierdie dienswerk te verrig nie, laat ons nou die almagtige God aanroep!

Barmhartige God en Vader, ons dank U dat U deur Jesus Christus die allergrootste barmhartigheid aan ons bewys het — U het deur Hom ons sonde vergewe en die dood vir ons oorwin. Ons dank U dat ons op grond van hierdie barmhartigheid wat U aan ons bewys het, uit dankbaarheid nou ook aan ander barmhartigheid kan bewys. Ons dank U dat u self hierdie dienswerk in die kerk onderhou, deurdat U naas die ampte van dienaar van die Woord en ouderling, ook die amp van diaken ingestel het.

Uit barmhartigheid het U nou ook aan hierdie gemeente mense gegee oor wie daar goeie getuienis gelewer kan word. Wil U hulle self deur u genade vir hierdie diens bekwaam maak. Gee dat hulle in hulle dienswerk getrou sal wees en sal besef dat hulle in u diens staan en nie in die diens van mense nie.

Skep ook by die gemeente die regte gesindheid teenoor hulle. Gee dat die gemeente hulle sal aanvaar asof hulle deur U self gestuur is. Maak U self almal se hand oop, sodat hulle uit dankbaarheid net so mildelik sal gee as wat U aan hulle gegee het.

Vertroos en bemoedig almal wat bystand nodig het en deur u kerk versorg word. Laat elkeen van ons besef dat ons alleen van u genade leef, want u genade is vir ons genoeg.

Gee dat u Naam deur alles wat ons doen, geëer en geprys word en dat alle mense hulle aan die heerskappy van u Seun, Jesus Christus, sal onderwerp.

In sy Naam sluit ons ons gebed af met die woorde:

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredinge

soos ons ook dié vergewe

wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie

maar verlos ons van die Bose.

Aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid

tot in ewigheid.

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap