Dr André Ungerer se artikel oor ontwrigting in die kerk (Die Hervormer, Januarie/Februarie 2019) het my laat dink aan ’n artikel van Anja van den Berg in die Somer 2018-uitgawe van Taalgenoot oor geleentheidsekonomie.
Volgens Anja se navorsing gaan die geleentheidsekonomie die hele werkswêreld transformeer. Dit is vir my duidelik dat die kerk dit nie gaan vryspring nie – veral gegewe die feit dat talle gemeentes van die kerk finansieel swaar trek.In die sogenaamde gig economy, of geleentheidsekonomie, is onvoorspelbaarheid, veerkragtigheid en nonkonformiteit die nuwe normaal in die werkswêreld. Dis ’n arbeidsmark wat gekenmerk word deur vryskutwerk op projekbasis, aanpas-bare kriteria, pasmaak-opdragte en werk-op-aanvraag.
Ek weet die konsep van vryskutwerk is so oud soos die berge, so waarom nou die ophef? Of is die geleentheidsekonomie net ’n sinoniem vir ad hoc– of stukwerk? Volgens prof Lené Jorgensen, adjunkdirekteur van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur aan die Noordwes-Universiteit, is tegnologie die belangrikste verskil. Die internet was die katalisator vir alles waarvoor die geleentheidsekonomie staan. Die arbeidsmarkverdeling word juis gedefinieer deur die gebruik van aanlyn platforms en toepassings (apps). Dink hier veral aan Uber en Airbnb.
Volgens navorsers sal sekere industrieë vinniger tot die geleentheidsekonomie toetree as ander, byvoorbeeld die inligtingstegnologie, finansiële bestuur en kunsmatige intelligensie. Volgens Lené sal meer tradisionele beroepe kort op hul hakke wees. Mettertyd sal die hindernisse om deel te neem aan die gig-ekonomie verdwyn. Selfs die gesondheidsorgsektor, wat ’n hoë vlak van kundigheid, kwalifikasie en registrasie verg, is in ’n mate reeds deel van die gig-ekonomie in die vorm van dokters en aptekers wat as locums werk. Uit Anja se artikel is dit duidelik dat werksekerheid soos ons dit ken, totaal op sy kop gekeer gaan word.
In ’n sekere sin is die Kerk reeds besig om die gig-ekonomie te implementeer met brugbediening. Dit is waar die brugpredikant met ’n spesifieke opdrag vir ’n bepaalde tyd-perk in die gemeente werk. Vanuit die brugbedieningservaring sal dit dus vir gemeentes moontlik wees om dié beginsel op ander bedieningsvelde ook toe te pas, byvoorbeeld bejaardebediening, of jeugbediening, of watter bediening ook al in die gemeente nodig mag wees.
Gegewe die feit dat voltydse en soms deeltydse werkruimtes onbekostigbaar vir die meeste gemeentes is, kan daar van gig-predikante gebruik gemaak word. Dit is predikante met opleiding en belangstelling in ’n bepaalde bedieningsveld van die Kerk. Die gemeente kontrakteer die predikant met ’n spesifieke opdrag, byvoorbeeld jeugbediening, vir ’n bepaalde tydperk waarin hy/sy die bediening vestig en die nodige toerusting en opleiding aan die lidmate gee. Wanneer sy/haar opdrag en tydperk voltooi is, neem die betrokke gemeentelede die verantwoordelikheid vir die bediening oor en gaan daarmee voort sonder dat daar ’n predikant in die gemeente werk. Vir die bediening van die sakramente van die Doop en die Nagmaal en vir belydenisaflegging kan gewoon van rondreisende predikante gebruik gemaak word. So verstaan, kan die ontwrigting wat die Kerk tans beleef deur die gig-ekonomie omgeskakel word in ’n bedieningsgeleentheid vir beroepafwagtende en ander predikante.
(Dr Johan Bester is ’n spesialis-brugpredikant en bedien tans Gemeente Pretoria-Noord)