Soms kom ’n mens ’n uiters seldsame uitdrukking in die Bybel teë waarvan die betekenis nie presies duidelik is nie. Dan maak argeoloë ’n ontdekking van ’n artefak wat skielik lig werp op die bedoeling van so ’n uitdrukking.
’n Sprekende voorbeeld hiervan is die verwysing na die πολιτάρχης (politárgēs) in Handelinge 17: 1-9 wat die wêreld vir ene Jason, een van die vroeë Christene in Thessalonika, baie moeilik gemaak het. Wie dié politárgēs was, was vir eeue lank onduidelik, totdat ’n inskripsie op ’n steen in die stadspoort van Thessalonika ontdek is waarop die woord voorkom. [Foto: ’n Kunstenaar se voorstelling van hoe die ingangspoort van Thessalonika moontlik kon gelyk het. © The British Museum]
Die Bybelse vertelling
Net eers iets oor die Bybelse vertelling oor dié politárgēs wat die lewe vir een van die eerste Christene so moeilik gemaak het.
Lukas vertel in die boek Handelinge dat Paulus en Silas in Thessalonika met ’n woordverkondiging oor Christus Jesus besig was, toe ’n klomp Jode wat op die markplein leeggelê het, oproerig geraak en die stad op horings geneem het. Hulle het na die huis van Jason opgeruk waar Paulus en Silas skynbaar oorgebly het, en toe hulle die twee apostels nie daar kry nie, het hulle die arme Jason, en sommer ook nog ’n paar ander manne saam met hom, na die politárgēs toe gesleep om hulle van aanhitsing teen die keiser te beskuldig (Hand 17: 6, 8).
In die Afrikaanse Bybelvertalings word die uitdrukking politárchēs met “stadsowerhede” (1933/53; 2020) en “stadsbestuur” (1983) vertaal. Hierdie Griekse woord kom egter slegs twee keer, en ook net hiér in Handelinge 17: 6-8, voor. Vanuit die konteks is dit duidelik dat die begrip betrekking het op iemand in ’n gesaghebbende hoedanigheid. Die feit dat die woord nie ’n bekende uitdrukking is nie, het meegebring dat sommige geleerdes skepties begin staan het oor die egtheid van die woord en die betekenis daarvan.
Die gebruik van hierdie vreemde woord in die boek van Handelinge het verder meegebring dat sommige mense getwyfel het oor die feitelike korrektheid van die terminologie in Lukas se tweede boek.
Beskrywing van die Vardar-inskripsie
In 1877 het argeoloë egter ’n gegraveerde steen in die stadspoort van die stad Thessalonika gevind waarop dié woord wél geskryf staan. Dié vonds het daarmee alle twyfel oor die gebruik en bedoeling van die woord uit die weg geruim. [Foto’s: Die inskripsie, wat in Griekse hoofletters geskryf is, kon met gesofistikeerde tegnologie herkonstrueer word om die inhoud daarvan deeglik te kan lees. Die steen word tans in The British Museum in Londen bewaar en werp veral lig op die Masedoniese titel van wie of wat ’n politargés is. © The British Museum]
Die woord πολιτάρχης (politárgēs) of πολιτάρχας (politárgas meervoud) is ’n Hellenistiese uitdrukking wat gedurende die Romeinse tyd slegs in Masedonië as titel gebruik is vir iemand wat tot die bestuur of raad (ἀρχον – argon) van die stad (πολις – polis) verkies is. Die politarge het elkeen ’n portefeulje beklee wat aan hulle ’n beherende verantwoordelikheid oor die inwoners van die stad gegee het.
Die inskripsie is in Griekse hoofletters geskryf en noem die name van ses politarge wat in beheer van die stad was, te wete:
- Sosipatros, die seun van Kleopatra en Lukios Pontius Sekundus.
- Aulos Auios Sabeinos.
- Demetrios, die seun van Phaustos.
- Demetrios, die seun van Neikopolis.
- Zoilos, die seun van Parmenion en Meniskos.
- Gaius Agilleos Poteitos.
Dié ses mense het saam met die tesourier van die stad, naamlik Tauros, die seun van Ammia en Reglos, en die gimnasiarg (die direkteur van hoër onderwys), naamlik Tauros, seun van Tauros en Reglos, die uitvoerende raad gevorm.
Waarde van die Vardar-inskripsie
Die ontdekking van hierdie Vardar-inskripsie is van uiters groot waarde.
Eerstens bevestig die inskrywing op die steen die amptelike bestaan van offisiële amptenare wat in die beheer van die stad Thessalonika gestaan het. Lukas, wat ook die boek Die Handelinge van die Apostels geskryf het, het dus van amptelike terme gebruik gemaak om die owerhede van die stad by wie Jason verkla is, te beskryf.
Tweedens werp die begrip politárgēs groot lig op die administratiewe en politieke bestuur van die Masedoniese stad van Thessalonika. In praktyk het die owerhede van Masedoniese stede nie net na die effektiewe bestuur van die stad omgesien nie, maar ook na die welsyn van die inwoners daarvan. Hulle was verantwoordelik vir die opvoeding en opleiding van die stad se inwoners, die versorging van weduwees en wese in gevalle waar mans in oorloë sou omkom, en vir optrede teen potensiële bedreigers van vrede in die stad. Dit is waarom die politarge onmiddellik opgetree het toe die Jode vir Jason by hulle gaan verkla het as sou hy betrokke wees by verset of opruierigheid teen die keiser.
Derdens bevestig die literêre struktuur van die Griekse inskripsie ’n hoë gesofistikeerde gebruik van die taal en gevolglik ook ’n besondere hoë peil van beskawingsontwikkeling en intelligensie.
Vierdens bevestig die Vardar-inskripsie die historisiteit van Paulus en Silas se optrede in Thessalonika. Nuwe Testamentiese teoloë bereken dat Paulus Thessalonika van Desember 50 nC tot Mei 51 nC besoek het. Lukas is daarvoor bekend dat hy feite deeglik en akkuraat gebruik het. Die uitsonderlike gebruik van ’n titel wat in Masedonië in gebruik was, bevestig dat hy goed vertroud was met die terminologie en strukture van die stad.
Vyfdens val dit op dat drie van hierdie ses name wat in die inskripsie voorkom, toevallig identies ooreenstem met die name van mense wat met Paulus bevriend was. So word byvoorbeeld na Sopater (Sosipatros) van Berea verwys (Hand 20: 4), Gaius van Macedonië (Hand 19: 29), asook Sekundus van Thessalonika (Hand 20: 4). Of hierdie mense dieselfde persone is as dié wie se name in die Vardar-inskripsie genoem word, is nie seker nie. Indien hulle dieselfde mense sou wees, sou ’n mens seker kon wonder waarom Jason dan nie met groter simpatie en begrip behandel is nie. Miskien sal dit veiliger wees om te aanvaar dat die ooreenkoms van die name eerder bevestig dat daardie klasgroep name goed in Masedonië bekend was en meer algemeen gebruik is.
Die politarg, luidens die Vardar-inskripsie wat in die stadspoort van ou Thessalonika gekry is, dien dus as ’n eksterne getuienis dat Lukas se verwysing na die politarge tegnies die bedoeling het dat die vroeë Christen Jason voor die stad se gesagsowerhede gebring is om aangekla te word.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)