Prof Yolanda Dreyer het onlangs haar 25-jaar-jubileum by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg gevier.

Op 8 Augustus 1994 word Yolanda Dreyer bevestig as predikant in die Nederlandssprekende gemeente. Op 18 Augustus 2019 vier sy saam met dié geloofsgemeenskap wat haar baie na aan die hart lê, 25 jaar waarin hulle saamleef en saam dien in God se koninkryk.

Wanneer sy vertel van haar aankoms in die Nederlands-sprekende gemeente, waarin sy elke Sondag in Nederlands preek, hoor ek die klank van tuiskoms. Sy het grootgeword in ’n gemeente waarin meer as die helfte van die lidmate Nederlanders was. Binne die ritme van haar lewe,  haar werk by die Universiteit van Pretoria, haar posisie in die Kerk en die ekumeniese wêreld, is hierdie besondere geloofsgemeenskap haar veilige hawe. Die gemeente is die enigste Nederlandssprekende gemeente in Afrika, en hier word daar elke Sondag in Nederlands gepreek.

Tydens die feesgeleentheid is op eg Nederlandse manier fees gevier, eers die koek en dan die kos. Een van die lidmate, Rob Calmer, het ’n lettervers van Yolanda se naam gemaak om te beskryf wat sy vir die gemeente beteken:

“Y = Yolanda die staat in de kerk, O = Onze Vader de bron van haar werk, L = de liefde die zij wekelijks predikt, A = de ander aan wie nu niets meer ontbreekt, N = de taal van de Nederlanders hier, D = de dominee die wijdt met plezier, A = het altaar waarvandaan ze ons zent, dank uw wel Yolanda, dat jij ons voorganger bent.”

Na 38 jaar in die bediening, 25 jaar in die gemeente, preek Yolanda – wat op vierjarige ouderdom die vraag Wat gaan jy word as jy eendag groot is? geantwoord het met Ek wil preek soos my oupa – steeds elke Sondag. Haar voorbeeld, wysheid, liefde vir God, is vir hulle wat elke Sondag na haar luister ’n bron van krag en inspirasie.

’n Woord van dank aan die gemeente is ook van pas. Dankie dat julle ’n verskil maak binne die samelewing waar julle geplaas is. Dankie dat elkeen wat by julle kom met besoek, by julle God se hart wat oop is vir alle mense ervaar. Dankie vir jul liefde en sorg vir Yolanda, dat julle dit vir haar moontlik maak om haar roeping te leef.

(Dr Annelie Botha is leraar in Gemeente Mafeking)

Prof Yolanda Dreyer met ’n wit en met ’n rooi band. Tydens die diens het sy bande geruil omdat dit by die tema gepas het. Sy het met wit begin.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap