Dr Johan Bester het die graad PhD in Praktiese Teologie met die titel ’n NLP-modelleringsproses vir gemeenteontwikkeling en -begeleiding aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In die vorige uitgawe van Die Hervormer het die probleemstelling van sy proefskrif verskyn. Hierdie maand word aan die praktiese implikasies vir gemeentes aandag gee.

Uit die navorsing blyk dit dat Richard R Osmer se teorie van die vier take binne die hermeneutiese sirkel predikante en ander fasiliteerders van gemeenteontwikkeling kan help om te bepaal wat in die gemeente aan die gebeur is. Dié inligting word met die beskrywend-empiriese taak ingesamel. Die interpreterende taak verwerk die versamelde inligting en stel vas waarom die gebeure plaasgevind het. Aan die hand van die normatiewe taak kan vasgestel word wat behóórt te gebeur. Op hiérdie punt behoort daar ’n interdissiplinêre gesprek met ander wetenskappe plaas te vind, om ander moontlikhede deel van die gesprek te maak.

Met behulp van neurolinguistiese programmeringsteorieë en -tegnieke word predikante nie net in staat gestel om te bepaal wat op die oomblik besig is om met die betrokke gemeente te gebeur nie. Hulle behoort ook by ander gemeentes te gaan leer watter prosedures en handelinge moontlik kan plaasvind. Die modelleringsproses is ’n handige stuk gereedskap wat gemeentes in staat stel om meer missionaal en volhoubaar te leef, terwyl ander gemeentes in agteruitgang vasval. Daar moet altyd met die werking van die Heilige Gees rekening gehou word. Dit is immers God self wat sy kerk op aarde in stand hou en laat groei. NLP-tegnieke kan leiers en fasiliteerders bemagtig om gemeentes, in veranderende omstandighede, te ontwikkel en te begelei om missionaal te leef.

Volgens Arnold Smit (Meetings that matter) behoort gemeentes in hul soeke meer geloofsonderskeidend te werk te gaan om vas te stel waartoe God die betrokke gemeente roep en stuur. Gemeentes ontdek in hierdie ontwikkelings- en begeleidingsprosesse nie alleen hul eie identiteit nie, maar ook hul unieke spiritualiteit. Die spiritualiteitsvraag is altyd: Vir Wie lewe of bestaan die gemeente? The shift that goes with this aspect is from religious official to spiritual guide.

Gemeentes wat op God en die missio Dei fokus, vra in die eerste plek dat gemeentelike leierskap die lidmate voortdurend sal herinner aan die teenwoordigheid van God by sy mense op aarde. Efesiërs 1: 19 verseker ons dat dieselfde krag waarmee God Christus uit die dood opgewek het, in ons aan die werk is. God se teenwoordigheid is dus ’n werklikheid ín die lewe van sy gemeente en hoef nie eers deur spiritualiteitsvorming tot stand gebring te word nie. Dit is elke predikant se taak om sy of haar lidmate daaraan te herinner. ’n Coram Deo-bestaan vereis dat gelowiges begelei word om gerig op die werklikheid van die teenwoordigheid van God te leef.

Hierin kan intensionele interimbediening (gefokusde brugbediening) van onskatbare waarde wees. Intensionele interimbediening se uitgangspunt is juis dat ’n vakantskap in ’n gemeente die beste tyd vir verandering is. Die interimpastor moet hiervan kennis neem wanneer hy of sy in ’n interimgemeente begin werk. Dit is anders as strategiese beplanning. Met die voltooiing van die navorsing is besef dat daar nie een proses is wat alle gemeentes ewe goed sal pas nie. Elke gemeente se omstandighede sal in aanmerking geneem moet word voordat op ’n teoretiese benadering vir die spesifieke gemeente besluit word. Dit kan alleen gebeur as daar voortdurend geloofsonderskeidend gewerk word.

Reggie McNeal (Missional Renaissance) is van mening dat ons weg van die ABC-metingsmetode (Attendance; Buildings; Cash) na ’n MRI-meting (Missionaal; Relasioneel; Inkarnerend) beweeg. Volgens hom behoort gemeentes dus ’n ander telkaart vir/van meting te kry. Daarom is daar die afgelope tyd ’n paar vraelyste ontwikkel wat help om vinniger te bepaal wat in die hart van die gemeente leef. Wanneer hierdie vraelyste verwerk is, kan dit help om die bediening in die spesifieke gemeente te beplan. Die eerste vraelys sluit vrae in soos die volgende: Watter gebeure in die verlede het die gemeente positief beïnvloed? Watter gebeure beïnvloed die gemeente tans? Glo jy die leierskap kan die gemeente na ’n nuwe toekoms lei? Watter verandering in die gemeenskap beïnvloed die gemeente? Watter nuwe dinge, dink jy, doen God in die gemeente? Wat is jou hoop vir die toekoms van die gemeente?

Verder is ’n volhoubaarheidsindeks in samewerking met ’n bedryfsingenieur ontwikkel om gemeentes te help om insig in en begrip van hul konteks te kry – juis omdat gemeentes nie wil of kan besef wat die erns van die situasie werklik is nie. Die indeks dra daartoe by dat gemeentes met die werklikheid van hul situasie gekonfronteer word. Die klem word in die indeks nie op finansies gelê nie, maar wel op die missionale aard van die gemeente. Die missionale vrae is aangepas uit die telkaarte van McNeal se voorgestelde verandering in gemeentes, en sluit die volgende in:

  • Hoeveel lidmate is in die gemeente?
  • Wat is die gemiddelde bywoning van die oggenderediens?
  • Hoeveel ure per week word die kerkkompleks deur die gemeenskap gebruik (nie eie aksies nie)?
  • Hoeveel ure per week bestee die gemeente aan gemeenskapsaktiwiteite?
  • Watter % van die gemeentebegroting gaan vir nie-kerklike aksies/projekte?
  • Vir hoeveel mense is daar die afgelope week by die naam gebid?
  • Het die gemeente: Skuld? Beleggings?
  • Maandelikse finansies (die meeste maande) ’n oorskot of ’n tekort?
  • Kerkgebou en saal?
  • Predikant – voltyds of deeltyds?
  • Pastorie?
  • Hoe ver is die naaste buurgemeente?
  • Waarvoor word die eiendomme rondom die kerk gebruik?

Die proses word begin met ’n uitnodiging aan die gemeente na ’n gemeente-praat-saam-geleentheid (GPS). Dit word in die vorm van ’n werkwinkel aangebied. Hier word die verwerkte inligting van die vraelyste met die gemeente gedeel. Niemand is toegelaat om kommentaar op ander se antwoorde te lewer nie. Die antwoorde is gefiltreer deur middel van dialoog, genotuleer, en waar daar nie konsensus oor ’n antwoord was nie, is albei genotuleer. Hierdie verwerkte antwoorde is ná die oggenderediens aan die gemeente gekommunikeer, en gesprek daaroor is toegelaat.

Die gemeente se spiritualiteitstipe is aan die hand van Corinne Ware se model (Discover your spiritual type) vasgestel. Haar proses is eenvoudig vertaal en met ’n PowerPoint-aanbieding tydens ’n GPS-geleentheid vertoon, en elke lidmaat het ’n gedrukte spiritualiteitswiel-antwoordstel ontvang waarop elkeen se antwoord gemerk is. Daar is ook aandag gegee aan die gemeente se voetspoor in die wêreld.

Bevinding

Gemeentes wat missionaal begelei word, ontdek nie alleen hul eie identiteit en spiritualiteit nie, maar ’n nuwe roeping word gevestig. Die gemeentes kom opnuut tot die besef dat hulle die eiendom van die Here Jesus Christus is en dat Hy self sy kerk hier op aarde in stand hou. Dus gaan alles nie meer net oor die eie gemeente nie, maar oor God se koninkryk. Wanneer daar ’n koninkryksverstaan en -visie is, leef en bestaan die gemeente nie meer ter wille van hulself nie, maar ter wille van God en sy koninkryk. Gevolglik is die instandhouding van die strukture nie meer die belangrikste fokus nie, maar die diensbaarheid in die koninkryk wel. Só het die gemeente se nuwe identiteit en nuwe spiritualiteit ’n nuwe roeping tot gevolg. Die gemeente herdefinieer haar sukses in terme van getrouheid aan God se roeping. Sodoende leef die gemeente God se voorkeur en beloofde toekoms tegemoet.

(Dr Johan Bester is ’n spesialis-brugpredikant en gemeenteprosesfasiliteerder en bedien tans Gemeente Pretoria-Noord)

af
af
Deel met behulp van
Copy link