Eens op ’n goeie dag hoor jy ’n Bybelgedeelte asof vir die eerste keer. Al ken jy dit hoe goed, dit kry skielik nuwe betekenis. Soms omdat iets in jou lewe verander het en ’n ou bekende waarheid op ’n ander manier tot jou deurdring.
So kry tekste uit die Romeine-brief vir Martin Luther, die Bybelstudent, nuwe betekenis. In sy tyd het godsdiens hoofsaaklik gegaan oor alles wat ’n mens moes doen en of jy presteer – goeie werke. Luther is voortdurend bekommerd of hy goed genoeg is en genoeg doen in God se oë.
Sy ontdekking van die “nuwe nuus” uit die Romeine-brief gee ’n ander perspektief. Hy sien dit is andersom. Dit gaan nie oor goeie werke en prestasie nie. Geloof is nie iets wat jy moet verwerf nie. Sentraal staan God se liefde en genade. Al wat jy hoef te doen, is om dit dankbaar te aanvaar. Dan sal jy ook daaruit kan lewe. Geloof is aanvaar dat jy aanvaar is. Dit is vertrou dat jy lewe uit God se goedheid. Dit is die begin. Al die res kom agterna. Die “doen” is die gevolge daarvan.
Die monnik Martin Luder, soos sy naam eers was, verander die “d” in sy van na “th”, van Luder na Luther, na aanleiding van die Grieks eleutherios wat “vrijheid” beteken. Die evangelie maak vry van: “jy is nie goed genoeg nie”, “jy doen nie genoeg nie”, “pasop vir die hel”.
In sy bekende stellings wat op die kerkdeur, die “kennisgewingbord” van die tyd, opgesit is, maak hy onder andere beswaar teen die aflaatstelsel – om vir die kerk geld te betaal om jou sondes af te koop. Soos die spreuk in dié tyd lui: As die geld in die kas klink, spring die siel in die hemel.
Frederik die Wyse, die keurvors van Sakse in wie se gebied Luther se dorp Wittenberg val, beskerm Luther teen die woedende reaksie van die kerk. Hy skenk Luther ’n persoonlike seël, bekend as die Lutherroos. Dit word die wapen van die Lutherse kerk. ’n Seël was die waarborg dat die korrespondensie eg was en regtig kom van die persoon wat dit onderteken het.
Die Lutherroos het in die middel ’n swart kruis binne ’n rooi hart – rooi vir lewensbloed. Geloof is ’n hartsaak. Die fokus van ’n hartsgeloof is die kruis van Jesus Christus – die swart staan vir sy lyding en dood. Gelowiges neem hul kruis op en volg Jesus. Dit is nie altyd maklik nie.
Die kruis en hart is in die middel van ’n wit roos. Die roos is teken van vreugde, troos en vrede. Wit is die kleur van die Gees en engele. Die agtergrond is hemelsblou, teken van die toekoms in God se teenwoordigheid. Reg rondom is ’n goue ring. Goud is die kosbaarste van alles in die wêreld. Die ring het geen begin of einde nie. Die vreugde om by en in God te wees, is sonder einde.
Die wapen is ’n mooi opsomming van wat Luther nuut ontdek het in die Romeine-tekste. Daarom wou hy ook dat die Bybel die boek van die mense word, nie net die boek van die kerk en sommige priesters wat Latyn kon lees nie. Dat almal vir hulself kan ontdek en nuut ontdek wat geloof en genade beteken.
En ons vandag? Het ons die vryheid, die eleutherion van Luther nodig? Tiranne in Luther se tyd was onder andere die kerk se mag, die uitbuiting en misleiding van mense. Tiranne in ons tyd is onder andere die magte wat ons self skep en waarvoor ons buig: om te presteer; om jou te laat geld; om te voldoen aan wat van jou verwag word, aan wat “die mense sê”; om perfek te probeer wees, in ewige kompetisie met ander. Die uiteinde hiervan: Jy sál nooit genoeg doen of goed genoeg wees nie.
’n Lewe uit genade lyk anders. Die Lutherse teoloog Paul Tillich sê oor genade:
Genade kom oor ons wanneer ons in angs en onrus lewe.
Dit kom oor ons waar ons deur die donker dal van ’n leë, betekenislose lewe gaan.
Dit kom oor ons wanneer ons ’n ander geweld aangedoen het.
Dit kom oor ons wanneer ons gebrek aan innerlike rus ondraaglik word.
Dit kom oor ons wanneer wanhoop alle vreugde en lewensmoed uitdoof.
Soms dring ’n vloed van lig op so ’n oomblik ons duisternis binne en ’n stem sê: “Jy is aanvaar.” Jy is aanvaar deur iets groter as jouself, waarvan jy die naam nie ken nie. Vra nie na die naam nie. Miskien ontdek jy dit later. Moenie nou iets probeer doen nie. Moenie na iets gaan soek nie. Doen niks. Besluit niks.
Aanvaar net dat jy aanvaar is.
(Prof Yolanda Dreyer is emerituspredikant en leraar by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)