Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Die geweldige lang leeftye van die menslike geslagte wat in Genesis 5 opgesom word, het al baie vrae, en ook moontlike wyses van verklaring by baie Bybellesers na vore gebring.
Party skryf die Bybelse figure toe aan mense wat doodeenvoudig nog nie kon tel nie, dat die mense in die Bybelse tyd by wyse van mane en nie jare getel het nie (dat elke ouderdom dus bv deur 12 gedeel moet word), of dat daar van ‘n ander jaarstelsel gebruik gemaak is.
Wanneer ons sou meen dat hierdie vreemde aspek van hierdie gedeelte die belangrikste is, broers en susters, mis ons egter die punt wat die skrywer van die Genesisverhaal hier wou maak.
Want maak nie saak hoe lank hierdie mense gelewe het nie, elkeen van hulle se lewe eindig presies dieselfde, naamlik met die dood. Want natuurlik ook die somse ongenooide gas is wat ook eendag by ons almal se deur sal opdaag.
Agt keer hoor ons in Genesis 5 (ons het dit nie volledig gelees ter wille van die tyd nie, maar u kan dit gerus gaan nalees) ”en hy het gesterwe”. Dus: al sou die lewe van hierdie Bybelfigure kwantitatief langer as ons s’n wees, is dit kwalitatief presies dieselfde: almal word gebore, en almal sterwe, al is hulle nie ewe oud nie.
Maar ook dit is nie die punt wat die skrywer van Genesis wil maak nie. Nee, die punt wat hy wil maak lê by sy vertel van die lewe van Henog. Henog, sê hy, wat nie gesterf het nie, maar deur God ”weggeneem is”. ‘n Beskrywing van die einde van Henog se lewe wat ons ook net so in Hebreërs 11:5 vind.
Nou meen die meeste uitleggers dat, omdat daar van almal gesê word dat hulle gesterf het, en van Henog gesê word dat hy weggeneem is, ons hier met ‘n beduidende verskil te make het. Met ander woorde: wat sou dit beteken dat Henog nie gesterf het nie, maar bloot weggeneem is?
In ons verstaan van die woord weggeneem hier, broers en susters, word ons gehelp deur die wyse waarop die woord op ander plekke in die Ou Testament gebruik word. Kom ek gee u net ‘n paar voorbeelde:
- wanneer in oud-Israel ‘n man met ‘n vrou getrou het, is daar gesê dat hy haar, nadat hy die bruidsprys betaal het, uit haar vader se huis mag weggeneem het;
- as die patriarge soos Abraham weggetrek het van een plek na ‘n ander, word gesê dat hy sy goed (sy vroue kinders, vee, besittings) van die plek waar hy was weggeneem het.
Met ander woorde, broers en susters, as jy iets weggeen het, het jy as ‘t ware jou besittings met jou saamgeneem, jy het die goed met jou saamgevat wat aan jou behoort het. Die man betaal die bruisprys, die vrou behoort nou aan hom, en daarom neem hy haar nou saam. Of Abraham het allees weggeneem en getrek, dus, hy het alles wat aan hom behoort het weggeneem. Om dus iets weg te geneem het, het beteken om dit wat aan jou behoort, met jou saam te neem of tot jou te neem.
Daarom, wanneer ons gedeeltes sê dat God vir Henog weggeneem het, dan wil die Bybel sê dat God sy besitting, dit wat aan Hom behoort het, dit wat sy eiendom was, tot Hom, of dan tot by Hom geneem het.
Hoekom was Henog die eiendom van God? Omdat, lees ons uit die hele lewensverhaal van Henog, dat Henog iemand was wat van die begin van sy lewe af met sy hele lewe getoon het dat Hy aan God behoort en wil behoort. Of, soos ons teksgedeeltes sê, ”dat hy met God gewandel het”.
Wat eenvoudig beteken dat Henog gelewe het met die wete dat hy nie alleen lewe nie, maar dat Iemand, sy Metgesel, God, die hele tyd op sy lewensweg by hom was. En omdat hy besef het dat God altyd by hom was, altyd so gekies het dat die God behaag het.
Of kom ons sê dit anders: Henog se geloof het twee baie belangrike fasette gehad: eerstens dat hy geglo het God bestaan, en tweedens dat dit die moeite werd was om na God te luister en Hom so te behaag. En daarom, broers en susters, omdat Henog so saam met God en deur God gewandel het, is hy, toe hy gesterf het, tot God weggeneem, of, om dit eenvoudig te stel: is hy na die hemel, daar waar God is.
En nou is dit vanmiddag, broers en susters, my wonderlike voorreg om aan u te verkondig dat dit met ons ook so kan wees. Ook ons sal eendag tot God weggeneem word, om die woorde van die teks hier te gebruik. Hoekom: want deur Jesus Christus is ons met God versoen, het ons God se eiendom geword soos Henog sy eiendom was. Wat meer is: saam met die geloof as gawe ontvang ons ook God se Gees, sy Gees wat ons lei om saam met God te wandel, wat ons lei om so te kies dat ons telkens vir God kies, wat ons laat besef ons kan nie sonder God nie, ja, sy Gees wat ons oortuig dat ons God se kinders is, aan Hom behoort en daarom kan en behoort te lewe soos hulle wat aan God behoort.
Soos dit ook in lewe van oom N was, en hoop ek, ook gesê kan word van ons almal hier. Ook oom N, daarom, om weer die woorde van die teks te gebruik, het dus nie gesterf nie, maar is deur God weggeneem, tot God geneem omdat hy aan God behoort het, omdat hy God se eiendom was. En dit omdat ook sy lewe sigbaar was van iemand wat met God gewandel het. Mag dit, broers en susters, ook eendag van ons gesê word.
Amen