Kerklike gesprekke word oorheers deur getalle. Is dit moontlik om ander kriteria te gebruik om ons dienswerk in die Kerk te evalueer?

Getalle was nog altyd belangrik in en vir die Kerk. Baie tyd word in vergaderings bestee aan dit wat getel kan word: geld en lidmate. Sinodale offergawe, begrotings, die volhoubaarheid van ’n gemeente, ’n werkruimte wat geadverteer word, samesprekings tussen twee gemeentes – in die een of ander stadium speel getalle in hiérdie gesprekke so ’n groot rol dat dit dikwels die deurslaggewende faktor word in ons besluitneming.

Selfs op ’n baie subtiele wyse kyk ons op gemeentevlak vas teen getalle wat ons kan verblind. U het hierdie opmerkings seker al gehoor op die kerkwerf:

  • Ons moet dink aan dit wat kan voete trek – gesê ten opsigte van die komende basaar.
  • Dominee, ek sien daar was net twee Nagmaaltafels die afgelope Sondag.
  • Terwyl ons nog iets na die tafel kan bring, moet ons indringend praat – gesê ten opsigte van ’n moontlike samewerkingsooreenkoms met die buurgemeente.
  • Dit is tyd dat kerkraadslede weer in hul wyke kom sodat ons die dooie hout kan afsny – gesê met die oog op die gemeenteregister sodat die lidmaattal kan verminder en ons op dié wyse geld kan spaar.
  • Vanjaar was ’n rekordjaar. Ons het 50 dosyn koeksisters gaan aflewer by tehuise.
  • Dit was ’n groot begrafnis. Ons moes tientalle stoele indra.

In ons gedagtes is meer beter. Meer mense by ’n basaar beteken meer geld. Meer Nagmaaltafels impliseer ’n groter geloof wat aanwesig is in ons geloofsgemeenskap. Die afsny van die dooie hout veronderstel ’n vermindering in maandelikse uitgawe en die nakom van ons plig as opsighouers. ’n Groot begrafnis is ’n aanduiding van die afgestorwene se status in die gemeenskap, en ’n rekordgetal koeksisters is ’n goeie maatstaf dat ons barmhartigheidswerk op koers is, of hoe?

Ek kan egter aan ’n hele paar teksgedeeltes dink waar meer nie noodwendig beter is in God se oë nie:

  • Dawid wat die volk tel (2 Sam 24 en 1 Kron 21).
  • Gideon wat gaan oorlog maak teen Midian en in opdrag van God die manskappe moet verminder (Rig 7).
  • Die vermeerdering van vyf brode en twee visse (Matt 14).
  • Jesus wat net 12 dissipels kies (Luk 6: 12-16).
  • ’n Handjievol meel en ’n bietjie olie in ’n fles. Die weduwee van Sarfat wat ’n laaste broodjie bak (1 Kon 17).
  • Vyf gladde klippe in Dawid se slingervel (1 Sam17).

Is dit moontlik om ander kriteria as getalle te gebruik om ons dienswerk in die Kerk te evalueer? Is dit moontlik om ander vrae te vra in ons gemeentes, sodat daar ’n verdieping intree, of bly getalle ons enigste maatstaf vir “sukses” in die Kerk? Ek glo daar is ’n ander perspektief. Dink saam met my:

  1. Gewoonlik hou ons basaar of loods ons ’n projek, en die inkomste bepaal in ’n groot mate die sukses daarvan. Ons hou fees en dán tel ons die geld. Hoekom draai ons dit nie ’n slag om nie? Wat daarvan as ons vóór die basaar tel? Wat daarvan as ons Gods gawes “tel” en uit dankbaarheid dan ’n fees hou tot eer van God?
  2. Hoekom moet die aantal Nagmaaltafels die “sukses” van ’n Nagmaal bepaal? Kan ons nie begin om eerder biddend in die geloof te vra nie: Het God se tafel my vandag beweeg? Beweeg tot ’n vurige liefde vir God en ’n vurige liefde vir my naaste, soos geskrywe staan in die Nagmaalformulier.
  3. Moet ons eers met ons buurgemeente(s) begin praat as dit blyk dat ons getalle nie meer klop nie? Is dit bloot getalle wat ons in beweging bring, of kan ons in opdrag van God en uit liefde vir ons medegelowiges na mekaar uitreik, sonder dat krimpende getalle ons dring?
  4. Ek wonder nog altyd: As ons dan nou die dooie hout uit die gemeente uitgesny het, gaan ons dié lidmate onder die vaandel van evangelisasie bearbei soos wat die Heer van die kerk vra? Of hoe verstaan ons dan die opdrag van Christus? Die tuinier sê in Lukas 13 aan die eienaar van die wingerd: Meneer, laat hom (die vyeboom) nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap. Is ons taak om te spit en te bemes, of om die eienaar wat uitkap, se werk oor te neem?
  5. As ons klaar die 50 dosyn koeksisters gebak en afgelewer het, dan neem ons foto’s en plaas dit op sosiale media. Die eindproduk lyk wonderlik. Daar was egter ’n maandelange pad na dié eindproduk. En die pad na die eindproduk – waar in liefde saamgewerk en beplan moet word – is net so belangrik soos die eindproduk self. Dit maak tog nie sin nie om ’n rekordgetal na te jaag, terwyl ons op-pad-wees besaai is met argumente, tweedrag en rusie.
  6. Hoekom is die aantal begrafnisgangers vir ons so belangrik? Lê daarin verskuil dat ons van mening is dat ’n “groot begrafnis” tog op ’n manier ’n aanduiding is van die heil van die afgestorwene wat so baie mense met sy/haar lewe “geraak” het? Ons troos lê tog juis daarin dat die oordeel wat ander oor my lewe uitspreek, nie die laaste sê het nie, maar eerder die oordeel wat God oor my lewe vel – die oordeel in en deur Jesus Christus, my Verlosser!

Is dit moontlik om ander kriteria te gebruik om ons dienswerk in die Kerk te evalueer? As ’n vreemdeling by ons aansluit en vra, Hoe gaan dit hier in julle gemeente? wat sal ons antwoord? Sal ons praat oor die saldo van ons beleggingsrekening, die aantal lidmate, of sal ons praat oor die Hoop wat in ons lewe (1 Tim 1: 1)?

Is sukses in ons oë noodwendig sukses in God se oë? Of moet ons soos Samuel toe hy ’n koning moes gaan salf, eerder ’n slag hoor: Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Sam 16).

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap