U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. (Psalm 71: 17, AFR1983)
Lees Psalm 71: 17-24
Ons lewe in moeilike tye. Die Covid-19-pandemie het almal se lewens verander, en die einde ontwyk ons steeds. Baie het geliefdes, werk of besighede verloor in hierdie tyd. Finansieel gaan dit broekskeur. Geld is nét nie meer genoeg nie, want alles word duurder by die dag: munisipale rekeninge, petrol, kos, behuising en vele meer. Asof dit nie genoeg is nie, word mense se vrese aangevuur met praatjies van aardverwarming, oorbevolking, kos-en-water-skaarstes, en meer.
Dis donker wolke wat oor almal hang. Sommige mense verval in depressie en negatiwiteit. Ons moet egter onthou dat ons ’n aktiewe en betrokke God het. Hy is altyd betrokke by sy skepping! Dus ’n goeie vraag is: Wanneer laas het u van Hom getuig? Wanneer laas het u vir iemand vertel wat Hy vir u (en u mense) doen? As u mooi hieroor nadink, is daar beslis iets om voor dankbaar te wees en oor te getuig. God sal nooit van u vergeet nie! God staan by u! God het u lief ondanks u tekortkominge!
Iemand wat net so baie tekortkominge gehad het, was koning Dawid, maar God het hom nooit in ellende gelos nie en Dawid se mond het van God oorgeloop. Tot op die einde het hy God aanbid en sy goeie dade besing. Die Bybel noem Dawid ’n man na God se hart (Hand 13: 22). Nog ’n goeie vraag is: Moet ’n mens volmaak wees om iemand na God se hart te wees? Nie noodwendig nie! In hierdie gebroke wêreld is daar geen volmaakte mens nie. Net Christus kon daarin slaag omdat Hy self God is!
Dawid het baie foute gemaak: Hy het vir die priester in Nob gelieg toe hy van Saul weggevlug het. Om ’n marteldood vry te spring in Gat, het hy gemaak asof hy kranksinnig was. Dawid was ook ’n huursoldaat wat vir 16 maande teen die Filistyne geveg het. Hy was verantwoordelik vir Uzza se dood toe die verbondsark na Jerusalem geneem is. Hy het owerspel gepleeg met Batseba, ’n getroude vrou, en haar man laat omkom. Hy was nie ’n goeie pa nie omdat dissipline vir sy kinders kortgekom het.
Met hierdie paar voorbeelde, klink Dawid nie soos ’n man na God se hart nie. Inteendeel, hy het swaar strawwe verdien. Tog is God barmhartig en genadig: Barmhartigheid is wanneer God nie vir Dawid gee wat hy verdien nie, en genade is wanneer God vir Dawid gee wat hy nie verdien nie. Dis dieselfde God wat ons ook dien! Die God waarvan ons moet getuig! Die rede dat God so barmhartig en genadig teenoor Dawid was, is omdat Dawid ’n intieme en opregte verhouding met God gehad het.
Dawid het altyd opregte berou getoon vir sy verkeerde dade, en hy het werklik die begeerte gehad om God te gehoorsaam, al het hy soms gefaal. In sy handelinge was hy self barmhartig en genadig. God het sy hart geken en God was lief vir hom. Dawid het dit geweet en hierdie liefde van God ervaar en daarvan getuig. Ondanks sy baie tekortkominge, het God hom ononderbroke versorg. Dawid het 73 erepsalms geskryf (dalk meer). Hierdie lirieke verwoord sy innige begeerte om God in alles te dien.
Dawid is dié pionier van aanbidding. Hy getuig van God wat altyd goed is. Ons kan ook daarvan getuig deur ons woorde en handelinge! Na meer as ’n jaar van Covid-19 leef ons nog, is ons versorg en is daar vir ons ’n hoopvolle toekoms. God is barmhartig en genadig. Hy het ons lief. In Handelinge 1: 8 sê Jesus vir sy dissipels dat die Heilige Gees oor hulle sal kom en hulle krag sal gee om sy getuies te wees. Die Heilige Gees is steeds vandag met ons, en met sy krag kan ons lofliedere oor en tot God sing. Amen.
