Ons beleef tans onseker tye in die geskiedenis van ons land. Ons gaan gebuk onder beurtkrag, baie hoë brandstofpryse, stygende kospryse en ’n algemene gevoel van magteloosheid. Dan lees ’n mens ook nog in die dagpers van politieke binnegevegte, moorde op plase en by kuierplekke, en bewerings van dreigende onluste en geweld.
Onder hierdie omstandighede het die kerk ’n baie belangrike rol om te speel. Juis in hierdie tye moet die kerk die plek wees waar ’n mens veilig voel, waar jy ’n veilige hawe het om jou teen die storms van die wêreld te beskerm. Juis in hierdie tye moet die kerk die nood van mense raaksien en die evangelie van hoop verkondig.
Tydens Paasfees het ek in die prediking op 1 Korintiërs 15 gefokus. Die klem was op verse 3 en 4: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Ek lees toe in ’n kommentaar dat ons die kern van wat ons glo, die hart van die evangelie, in ses woorde kan opsom, naamlik: Christus het gesterf en weer opgestaan. Watter bevrydende waarheid is dit nie! Ja, ons leef in hierdie gebroke wêreld, maar dit wat hier gebeur, hoe erg dit ook al is, is nie die einde nie, dit is nie die bepalende van ons as gelowiges se lewens nie.
Dan dink ek aan ’n gesprek wat ek gehad het met ’n gelowige van wie een been as gevolg van komplikasies na ’n operasie geamputeer moes word. Hy het alle rede om kwaad te wees, moedeloos en swartgallig, maar die teenoorgestelde vind ek by hom. Hy het berusting gevind, en vertel my hoe hy sy vrou met die huiswerk help en hoe hy voortgaan met sy lewe. Hoe kry hy dit reg? Wat maak dat hy kan voortgaan met sy lewe? Wat hom laat voortgaan is sy geloof, sy wete dat Christus vir hom gesterf het en weer opgestaan het.
Asof hierdie boodskap uit 1 Korintiërs 13 nie sterk genoeg is nie, lees ons in 1 Petrus 1: 3-9:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.
Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Dit is die boodskap wat die kerk tans moet verkondig, dat die beproewings van hierdie wêreld, van die omstandighede waardeur ons lidmate gaan, nie hul menswees moet bepaal en hulle in die modder moet intrap nie, want Christus het nie alleen vir ons gesterf en uit die dood opgestaan nie, Hy het ook opgevaar na die hemel waar Hy vir ons plek gaan voorberei het. En hierdie wete van die ewigheid by God wat ook vir ons in bewaring gehou word, dra ons deur die versoekings en beproewings van hierdie lewe, help ons as gelowiges om ten spyte van ons omstandighede, soos die lidmaat met die amputasie, voort te gaan om te lewe en te hoop.
Dan, wanneer hierdie werklikheid oor my kom, kom nog ’n Bybelteks by my op. Dan dink ek onwillekeurig aan Romeine 8: 31-39. Ek haal net verse 31 tot 33 aan:
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.
Dit is die belofte waaraan ons moet vashou. Dit is die sekerheid wat ons as kerk in hierdie tyd moet deel.