Skoonpa was gelukkig ouderling in die NG Kerk en nooit in mý kerkraad nie. Want pa Chris was kwáái! Ek kén kwaai lidmate, só goed dat ek al daaraan gedink het ek kon my uitgee as gesout. Pa Chris het ’n sêding gehad: Issít? met die tweede “i” lank uitgerek. Dan weet moeder Elsa hier kom dit nou, en maak sy haar uit die voete kombuis toe om netnou te kom paai met koekies en tee.
Pa Chris het graag geselsies aangeknoop, en baie graag geloof gesels, en met dié dat hulle toe in’n landgoed gaan bly het, was daar baie geleentheid. Tot, gewoonlik sommer na die eerste gesprek al, jy jou aan sy verkeerde kant bevind en besef hy is ’n formidabele teenstander. Want pa Chris sou nie vir sentiment of liggeraaktheid pa staan nie. Nie as jy loop en vertel God het met jou kom geselsies aanknoop en jou die een en ander kom vertel waarvan jy nou die res van ons moet kom wysmaak nie.
Na die gebruiklike Issít? was sy volgende vraag nie En wat sê Hy toe vir jou? nie, maar iets soos: Nou maar sê my: Watter taal praat Hy? Tog seker nie Afrikaans nie, nè? Hoe op aarde het jy Hom verstaan? Dadelik weet jy, staan jy aan die ontvangkant van dié vraag, jy is nou op onvaste aarde.
Ons wil dit só verskriklik graag hê: dat God met ons moet práát. Iemand het my – en die Hervormde Kerk – dit nou die dag verwyt dat ons hier mos nie glo God kan of wil só met ons in verbinding tree nie. Kom ons kry die eerste struikelblok uit die pad uit: God kán, én (daarvan is ek doodseker) God wíl. As God aan praat geen erg gehad het nie, sou God nie die Bybel “die woord van God” laat noem het nie, sou God ook nie geduld het dat ons Jesus “die Woord van God wat mens geword het” noem nie. God praat. God het van die begin van die skepping af sy mond oopgemaak en sedertdien nog nooit weer stilgebly nie, en alles hier is die resultaat daarvan.
In ’n stadium het God begin dig en sing, roep en raas, met Jesus het God begin skreeu. God was nog nooit weer stil nie. Maar as jy gewag het vir ’n stemmetjie wat in jou oor kom fluister, en jou vertel wat jy nêrens anders in die Bybel kry nie, het jy ’n ernstige aanval van wat ek noem “stemme”.
As jy soos ek podsendings luister (want radio verveel my die dag as dit my nie ontstel nie), is Unbelievable met Justin Brierley ’n vonds. (Hy is ook die Ask NT Wright Anything-podsending se gasheer.) In een van sy uitsendings, Does God speak today through dreams, visions and prophesy?, debatteer Tania Harris, stigter van God Conversations en outeur van The Church who hears God’s Voice, met Jim Osman, skrywer van God doesn’t Whisper.
Mense wat sê (of hoop) dat hulle God se eie stem met hulle hoor praat, se geloof ly by my geen twyfel nie. Hulle is mense met ’n vurige begeerte om intiem met God in gesprek te tree. Daarmee was daar nog nooit fout nie. Daar is met die idee dat God só met ons kommunikeer, net die een probleem: Dat ons van nature sondig is, maak dat jy jou vergis. Harris sê nee, die een keer dat God vir haar iets gesê het wat daarna haar hele lewe in ’n ander koers gestuur het, was dit raad wat sy nie wou hê nie; net geloof het haar dit laat volg, en dit het geluk.
Harris glo dat ons van die Heilige Gees deurdrenk raak. Jou denke en gedagtegang, jou gevoelens en geneigdheid, kom onder beheer van die Gees, en jy herken naderhand die inspraak van die stem van God.
Die gesprek het Harris nie van die teendeel oortuig nie, maar, het sy erken, dit het haar lugtiger gemaak vir hoe maklik ons onsself mislei. Om die mag wat sonde het te onderskat, en daarvan weg te skram dat ons self van sonde deurspek is, is om jou doof te hou vir ’n basiese openbaring in die Bybel. Om te wil glo dat die Bybel self nie genoegsaam is vir alles wat ons van God mag en kan weet nie, is om juis die Woord van God te minag.
Harris antwoord daarop dat die Bybel inderdaad genoeg is vir redding, maar dat God met ons praat om rigting te gee aan ons daaglikse lewe. Dit is ’n baie aantreklike standpunt, want ons worstel, almal van ons, met hoe-nou-gemaak? Dit gee inderdaad ’n geloofstryd af, as jy met God erns maak.
Ek is daagliks daar, en minstens een maal ’n jaar in ’n erge krisis oor hoe om te besluit.
Ek het geleer daar is geen waarborge dat ek dit altyd reg het nie.
Ek het geleer dat die innige gestoei met God oor ’n saak soms uitloop op ’n besluit waarmee ek vrede het, net om later te ontdek ek was verkeerd. Ons neem besluite met die lig wat ons ten tyde van ons besluite tot ons beskikking het, glo ’n vriendin van ons. Daarmee is al erken dat ons foute gáán maak, die beste bedoelings en die grootste geloof ten spyt. As die influistering van God was, en dit blyk ’n fout te wees, wie kry daarvoor die skuld?
Ek het ook geleer dat ek uit my verkeerde besluite, besluite waarvoor ek ten volle verantwoordelikheid aanvaar, veel meer van God te wete kom as wanneer ek salig oortuig is ek is altyd reg.
Ek het geleer dat in die nasleep van my verkeerde besluite, ek juis van God bewus word. Ek beleef genade en vergifnis vir my stommiteit. Ek kom agter dat God sagkens met my werk, my wonde verbind en my teen die ergste konsekwensies van my fout kussing. Ek kom agter hoe God my vertrou om self te besluit en aanspreeklikheid te aanvaar vir die uitkomste van my eie doen en late. Ek het geleer God los my net nie, nooit nie. Maar dit moes die Bybel my eers vertel voor ek dit self kon agterkom.
Stephan Joubert van eKerk het nou die dag geskryf ons kan die Bybel ook maar lekker misbruik. Ons haal God verkeerd en buite konteks aan. Ons laat die Bybel ook buikspreek, soos ’n pop op die skoot. En kom ek gee toe – dit is nie so maklik om tussen al die geraas van deesdae God se egte stem selfs in die Bybel te hoor nie. Daardie soeke na sekerheid oor God, is wat ons tot influistering dryf. Maar ek is bevrees dit is niks anders nie as om maar toe te gee aan die tydgees waarin elkeen sy eie waarheid uitdink.
Wil ek hê God moet by my persoonlik kom kuier? Maar natuurlik! Ek weet ook ek is doodbang, en gaan dalk vra Hy praat liewers iewers met ’n Moses. Soos ’n Jakob gaan ek opstaan en sê: Watter verskriklike plek is dié nie! Maar ag, om soos ’n Tomas aan Hom te mag vat…
Nee, as God praat, fluister Hy nie. God bulder, God donderweer. En sy Bybel, die dag as jy hom oopmaak en gebruik, práát: God praat daar ook met jóú.
So, jy sien, ek glo ook God praat met my. En vir pa Chris sou ek sê: Pa, Hy praat die suiwerste Bybelgenootskap-Afrikaans!
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
