Die aand van 9 Desember 1968 het die wêreldberoemde Switserse teoloog Karl Barth op sy bed gelê. Hy was 82 jaar oud, en besig om te sterf. ’n Paar uur voor sy dood het hy ’n telefoonoproep van sy vriend en kollega aan die Universiteit van Basel, prof Eduard Thurneysen, ontvang. Thurneysen was ook vir 30 jaar die predikant van die Hervormde Kerk in Basel, en Barth se gemeentedominee. Hulle het oor die telefoon gesels, Thurneysen het ’n laaste pastorale gesprek met sy vriend en kollega gehad en hulle het mekaar vir die laaste keer gegroet.

Waaroor sou die twee beroemde teoloë met mekaar gesels het? Die jaar 1968 was besonder onstuimig en gewelddadig, en mense het met vrees geleef. Vir die eerste keer kon mense op ’n TV-skerm sien hoe die oorlog in Viëtnam die lewens van miljoene mense vernietig; hoe die Amerikaanse politikus Robert Kennedy (net soos sy ouer broer, pres John F Kennedy, enkele jare tevore) in ’n sluipmoord-aanval sterf; die sogenaamde “Koue Oorlog” was op ’n hoogtepunt met al die groot moondhede in die wêreld wat besig was om atoombomme te ontwikkel en te toets. Kort-kort het doemprofete aangekondig dat die Derde Wêreldoorlog sou uitbreek. In Afrika, Suid-Amerika en Asië het gewelddadige revolusies tot grootskaalse bloedvergieting gelei. In Amerika is Martin Luther King vermoor. In Europa en Noord-Amerika is groot stede tot stilstand geruk deur opstande gelei deur studente en jeugdiges. In Suid-Afrika was die Rivonia-verhoor pas afgehandel en is die leiers van die ANC na Robbeneiland verban.

Die gesprek tussen Barth en Thurneysen in Desember 1968 het plaasgevind teen die agtergrond van verwoestende en vreesaanjaende wêreldgebeure. Nog meer as dit: Die twee bejaarde mans het deur die Eerste en Tweede Wêreldoorlog geleef. Die twee oorloë het Europa verwoes en gelei tot die dood van meer as ’n 100 miljoen mense. Waaroor sou twee diep gelowige mense, een besig om te sterf, praat?

Gelukkig is die gesprek vir die nageslag bewaar deur mense wat in Barth se sterfkamer teenwoordig was. In ’n stadium in die gesprek het Karl vir Eduard gesê: Ja, die wêreld is donker. Dit is nie nou die tyd om ons ore te laat hang en hoop te verloor nie, want dit is nie Moskou of Washington of Peking wat in beheer is nie. Die wêreld word regeer, maar nie hier op aarde nie, maar totaal en al vanuit die hemel…

Barth se antwoord op verwoestende wêreldgebeure, maar ook sy eie dood, was eenvoudig: God regeer! As ons kyk na alles wat rondom ons gebeur, oorloë in Europa, die Midde-Ooste en Afrika; in Suid-Afrika beleef ons politieke spanning, werkloosheid en armoede; of ons worstel met siekte of die nagevolge van ’n Covid-epidemie; kan ons steeds bely: God regeer? God regeer oor my lewe, my gesin, my kerk, my land? Of dink ons dat alles van ons afhang; dat ons vir onsself sorg; dat ons self welvaart skep; en dat ons harde werk, kreatiwiteit en gebruik van tegnologie vooruitgang waarborg?

Die dinge wat Jesus gedoen en gesê het, verkondig aan ons dat God se koninkryk ’n werklikheid is; dat God regeer; dat Jesus ons Koning is. So vertel die Evangelie van Markus vir ons dat toe Jesus met sy openbare optrede begin het, was die inhoud van sy prediking baie eenvoudig: Die koninkryk van God het naby gekom (Mark 1: 15).

Wanneer mense van “God se koninkryk” praat, is hulle geneig om daarvan ’n abstrakte begrip te maak. Dan kon ons maklik daaroor filosofeer of teologiseer; ons kan van mekaar verskil oor die sosio-politieke implikasies van God se koninkryk en of die koninkryk alreeds ’n werklikheid is of nog eers in die toekoms gaan aanbreek.

Jesus het nie oor God se koninkryk geteoretiseer nie. Hy het daarvan ’n werkwoord gemaak. Hy roep mense om Hom te volg. Hy roep mense op om God en naaste lief te hê. God is teenwoordig. God is naby. God is handelend besig met ons en die wêreld waarin ons leef.

Die vreemdheid van God se koninkryk word sigbaar met Jesus se kruisiging. Wanneer Jesus gevange geneem word en verhoor word, is die klag dat Hy sou voorgee dat Hy ’n koning is. Die klagskrif bo sy kop aan die kruis was: “Die Koning van die Jode”. Almal wat verbygeloop het, het met die gekruisigde Koning gespot.

Soos wat ons Kersfees en die einde van die jaar nader, en ons kyk terug na die afgelope jaar, is dit nodig dat ons net weer besef: God regeer! Hoe vreemd en onmoontlik dit ook al lyk, God se koninkryk het naby gekom toe ’n Kindjie in ’n stal in Betlehem gebore is; toe Jesus ’n doringkroon moes dra en aan ’n kruis moes sterf. Vir die wêreld is God se koninkryk onsigbaar, maar ons as gelowiges weet en bely: God regeer!

Mag elkeen van ons wat glo en bely dat die koninkryk van God in en deur Jesus Christus naby gekom het, kalmte en vrede vind in die wete dat God regeer. Ons weet nie wat die nuwe jaar inhou nie. Daar wag ’n verkiesing, daar wag na alle waarskynlikheid politieke geweld en nog meer armoede en swaarkry.

Ten spyte van alles, kan ons Karl Barth se woorde onthou: Die wêreld is donker, maar dit is nie nou die tyd om ons ore te laat hang en hoop te verloor nie, want dit is nie Pretoria of die ANC wat in beheer is nie. Die wêreld word regeer, maar ons weet dat God oor die toekoms beskik.

Die Hervormde Kerk, elke predikant en lidmaat, moet in die feestyd en in die nuwe jaar hierdie boodskap van hoop uitdra: God regeer!

(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap