In die vorige aflewering is vertel van die moord op die Pretorius-geselskap, en die optog daarna met twee oorlaaide waens in die rigting van Basotholand.

Die optog vorder tot naby Rensburgkop op die plaas Grootvlei (met inderdaad groot vleigrond), waar een van die oorlaaide waens in die moerasgrond vasval en die disselboom breek, terwyl die wa waarop Jan se vrou en kinders was in ’n watergat vasgeval het. Daar laai hulle ’n klompie van die goed op die perde en op sommige van die osse, en laat Catharina Pretorius en die kinders aan hul eie lot oor by die twee waens. Die ander osse dryf hulle voor hulle uit. Teen hierdie tyd is dit laatagtermiddag. Catharina (ses maande swanger) en kroos, en die jong swart seun, kies nou self koers Harrismith toe.

Dieselfde nag is ’n patrollie deur WH Canisius, die landdros van Harrismith, uitgestuur na die moordtoneel – op grond van die berig van die Indiër en drie werkers wat weggevlug het. Die patrollie het bestaan uit ses wittes en een van die werkers van die Pretorius-gesin onder bevel van HO Dreyer, raadslid van Harrismith. Op 28 Junie 1865 het hulle verslag gedoen dat die berigte van die bediendes in alle opsigte korrek was. Die vier lyke van die Pretorius-gesin en die lyk van Andries Smith is gevind. Hulle is gruwelik vermink en in die veld agtergelaat. Die patrollie het hulle daar begrawe. Daarvandaan is die spoor gevolg tot by die vasgevalde waens op Grootvlei en daarvandaan verder, maar die moordenaars is lankal veilig in die heuwels van Basotholand. Die patrollie het gesoek na die weduwee van Jan en haar kinders, maar kon hulle nie kry nie.

Op 29 Junie het die weduwee, die kinders en die jong swart seun totaal uitgeput op Harrismith aangekom nadat hulle twee dae en twee nagte in bibberweer rondgedwaal het. Catharina Pretorius het amper nie meer klere aangehad nie, soos sy stukke klere om die kindertjies gedraai het om hulle warm te hou in die snerpende winterkoue en bergwinde, en soos bosse haar klere gehaak en geskeur het. Een keer moes sy in ’n spruit wegkruip met swartes om haar sonder dat hulle haar opgemerk het.

Die verhaal wat sy vertel, hardloop soos ’n veldbrand deur die dorp en distrik. Die Indiërman en die paar bediendes wat ontvlug het, was oortuig daarvan dat sy en die kinders ook vermoor is. Catharina is toe tot op Utrecht (toe nog in die Transvaal/ZAR) by Ferreira-familie van haar gebring waar sy drie maande later aan klein Johannes Lodewikus geboorte geskenk het.

Die NG predikant van Harrismith, die latere bekende dominee JD (Vader) Kestell, het op eie koste ’n sandsteen-grafsteen laat oprig. Dit het oor verloop van jare erg verweer, en in 1927 laat ’n broer of broerskind van die jong Smith ’n nuwe gedenksteen oprig wat vandag nog daar staan. Ek het dit self besoek en die foto geneem.

Munro & Co het ’n eis van £516 sterling ingestel teen die Vrystaatse regering op grond daarvan dat die staat nie genoeg voorsiening maak vir die veiligheid van reisigers op die hoofroetes nie. Daarvan kom niks, maar in Desember forseer die Britse Koloniale Owerheid in Natal vir Molapo, die seun van koning Moshweswhe, om kompensasie te betaal in die vorm van ’n trop beeste, omdat die moordbende sý onderdane was en hy hulle nie uitgelewer het nie. Dié beeste word op ’n openbare veiling verkoop en die geld uitbetaal aan Munro & Co, wat Botha en Krugel vergoed vir hul waens en ’n bedrag uitbetaal aan tante Martha Johanna Pretorius gebore Muller, weduwee van De Oude Piet, en aan die dapper Catharina, weduwee van Jan, wat ondertussen teruggekeer het Pretoria toe.

Daar is egter ook ’n Basothograf. En hier kom die tweede scenario ter sprake. Dis moontlik dat kommandant Wessels, eienaar van die grond, die vermeende “spioen, veedief of oortreder” kon geskiet het. Een van twee Basothokapteins, Molapo of Letsoana – daar kan nie met sekerheid gesê word watter een dit was nie, en beide se krale was naby Clarens – het krygers opdrag gegee om die dood van hul makker te wreek. By die plek aangekom, vind hulle die waens en die osse wat vry wei op die 25-morg-uitspanning. In hul opgesweepte gemoedere wou hulle nie seker maak of hulle die regte mense beet het nie. Die Pretoriusse was nie daar om oorlog te maak nie en het met hul lewens vir die misverstand betaal. Op die verkeerde tyd by die Basothograf!

Die kettingreaksie hierop was dat ’n jong kommandant Paul Kruger vanaf Transvaal die Vrystaatse Republiek te hulp gesnel het met 400 Transvaalse burgers om die moorde te wreek en die Basotho vanaf Clarens terug te dryf na Basotholand van koning Moshweswhe (Lesotho). Dit was dus die begin van die Tweede Basotho-oorlog in die Vrystaat.

De Oude Piet se nefie, klein Henning (21), was ook in die geselskap. Hy is die kleinseun van generaal Andries Pretorius. Sy pa is Marthinus Wessel Pretorius, die ZAR-president van 1866-1871. Henning oorleef die slagting, omdat hy vroegoggend vooruit gery het om by sy verloofde uit te kom. Hy is later getroud met Cornelia Magdalena Bouwer en het hom onderskei by die Slag van Elandsfontein tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Daar is hy twee keer raakgeskiet, maar het aanhou veg. Vir die res van sy lewe dra hy ’n bynaam wat mettertyd ’n volksuitdrukking word: Skote Petoors!

Skote Petoors se seun, Lood, is die man wat in 1897 op die plaas Albanie naby Grahamstad sterf tydens sy soektog na die oorblyfsels van die galg waaraan die Slagtersnekrebelle in 1816 gehang is. Die balk word na sy dood ontdek as deel van die kroonlys bokant die voordeur van ’n plaashuis in die distrik. Lood se dogter, Johanna Christina Muller, was een van die drie vroue, nasate van die Voortrekkerleiers, wat op Geloftedag, 16 Desember 1938, die hoeksteen van die Voortrekkermonument gelê het.

Mag die dapper Hervormde moeder Catharina Pretorius onthou word!

Bronne: 1928-Almanak van die NHKA, SP Engelbrecht; Moord op die generaal se broer, Daniel Lötter; Drakenberg Passes, Gilles van Schalkwyk; Zuid-Afrikaanse Monumenten, A Dreyer; Die historiese monumente van SA, JJ Oberholster; en eie familienavorsing, CJ de Bruin.

Foto Links: Ou sandsteen-grafsteen deur Kestell
Foto Regs: Henning Petrus Nicholaas Pretorius en sy vrou

(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap