Teen Kersfees 1921 is ’n aantal sake in die industrie aan die Rand op die spits gedryf. Die na-oorlogse depressie na 1918 het vererger. Dalings in pryse van goud en steenkool het die gedwonge sluiting van myne ’n groter realiteit gemaak. Dit sou onvermydelik lei tot verlaging van arbeidsloon, en die sogenaamde kleurslagboom wat werk tussen rasse bepaal het, was in almal se gedagtes.

Hierdie somer 100 jaar gelede, in Januarie 1922, is begin met ’n maande lange staking deur 22 000 blanke arbeiders wat ook 18 000 nie-blankes se werk geraak het. Dit dui vanselfsprekend die handhawing van die kleurslagboom aan. Die vrees van blankes wat hul duurbetaalde werk kon verloor ten koste van goedkoper swart arbeid, het sommige selfs byna blindelings in die hand van die opkomende Kommunistiese beweging gedryf, by gebrek aan voldoende Christelik-eties verantwoorde arbeidersverenigings. Ds LE Brandt, predikant van Johannesburg, het al vanaf 1913 in De Hervormer tevergeefs hierteen gewaarsku.

Gedurende 1918 is ’n ooreenkoms bereik tussen die Kamer van Mynwese en vakbonde dat blankes nie verder vervang sou word deur goedkoper arbeid nie. Vanaf 1 Februarie 1922 sou die ooreenkoms verval weens ekonomiese druk. Stakers, waarvan sommige bronne meld dat tot 75% Afrikaanssprekend was, het nou kommando’s oral aan die Rand opgerig. Sosialistiese ideologie het wel ’n klein aantrekkingsrol gespeel, maar die meerderheid verarmde werkers wou bloot hul werksomstandighede beskerm. Konflik met die Smuts-regering was nou ’n werklikheid. Die skrywer HS van Blerk skryf in sy vergete roman Broer oor die visier (1963) oor die hardkoppigheid, misverstande en spanning tussen Afrikanerfamilies wat aan die Rand en op die platteland sou ontstaan – soms met tragiese afloop.

Grimmigheid en wantroue het teen Maart 1922 tot ’n kookpot gely omdat die Smuts-regering se onderhandelingsvermoë uitgebly het. Openlike rebellie het ontstaan, en op 10 Maart is krygswet afgekondig. Die koerante het dit “Swart Vrydag” genoem. Op dié dag het die Oos-Rand (Brakpan en Benoni veral) in ’n oorlogsone verander. Stakerkommando’s het polisiestasies, spoorweë en myne aangeval, gesaboteer en oorgeneem. Die Raad van Aksie wou hul Republiek van Nywerheidsarbeiders deur geweld vestig en bestaande strukture afbreek. Dit was nou in proses. Die volgende dag het genl Jan Smuts geoordeel dat grootskaalse wapengeweld ingespan moet word omdat stakers nie deur krygswet afgeskrik is nie. Met Aktiewe Burgermageenhede is ’n offensief van die Oos- na die Wes-Rand geloods.

Na twee dae het die regeringstroepe die oorhand gekry, behalwe in Fordsburg naby die Johannesburgse middestad. Daar was stakers ingegrawe in blokhuise, loopgrawe en straatversperrings. Op 14 Maart 1922 het die regering hulle met ’n tenk, vliegtuie, kanonne en masjiengewere ’n uur lank beveg. Hierteen was gewapende stakers nie opgewasse nie. Twee dae later is die staking finaal afgelas. Groot skade is aangerig en verliese is in die georganiseerde arbeid gely. Die Kommunistiese leiers met hul Raad van Aksie kon nie hul staatsgreep deurvoer nie, en later is Smuts hewig gekritiseer en gewantrou deur sy eie politieke ondersteuners vir die brute geweld van regeringskant. Dit sou hom die verkiesing van 1924 kos.

Gedurende die opstand is ongeveer 5 000 mense gearresteer, waarvan 46 van hoogverraad aangekla is. Hiervan is 18 ter dood veroordeel, maar 14 is begenadig. Enkele stakerleiers het langtermyntronkstraf of groot boetes gekry. Heelwat Afrikaners is hierdeur in skuld gedompel en 7 000 blanke mynwerkers het hul werk verloor. Die onrus het ’n direkte invloed op die hoë tempo van verstedeliking onder Afrikaners gehad. Dit is tydelik gerem en het in 1922 met ongeveer 20% afgeneem. Die kerke was reeds bekommerd oor die duisende Afrikaners wat die platteland verlaat en werkloos in stede opeindig.

En die rol van die Hervormde Kerk in alles?

Afrikaanse kerke het in dié stadium nog glad nie georganiseeerde armoedeverligting beoefen nie. Gemeentes het slegs plaaslik opgetree, en na die gebeure van Maart 1922 op klein skaal self hulp verleen en veral by algemene gemeenskapsprojekte betrokke geraak.

Op 14 Maart het ds Louis Brandt van Gemeente Johannesburg besorg aan sy kollega, ds Jac van Belkum, geskryf dat die bombardement van Fordsburg op dié dag plaasgevind het en dat oudl PJ Coetzee doodgeskiet is. Hy is twee dae later in Vrededorp begrawe. Die gemeente het geld ingesamel vir die kranse op die graf. Nog ’n lidmaat, W Norval, het in die staking gesterf. Die gebeure het vir maande nog ’n nadraai gehad. Op 17 Junie het ds Brandt afgekondig dat daar steeds 11 lidmate in die tronk was, en hul name en adresse is afgelees.

Uit die persoonlike argief van ds Brandt en die argief van die Algemene Kommissie blyk dit dat die Hervormde Kerk deur ds Brandt in die regering se Administrateurs Ondersteuningsfonds verteenwoordig is. Dit is opgerig vir die versagting van armoede na die “rusverstorings”. Ds Brandt was ’n gerespekteerde en vooraanstaande figuur in Johannesburg, met heelwat invloed. Hy was saam met ds Willem Nicol van die NH of G Kerk in die sentrale komitee van dié Fonds onder voorsitterskap van AG Robertson, Administrateur van Transvaal. Hul eerste vergadering was op 23 Maart, en ’n dag later is begin met die uitdeel van kos. In een week is aan 26 823 persone hulp verleen. Ook in die kerkgebou van die Hervormde Kerk Johannesburg in Vrededorp was daar ’n uitreikpunt aan hulpbehoewendes.

Soos met vele aksies waaraan Afrikaners deelneem, was daar selfs hier partypolitiek. Die Nasionale Party het hul eie Noodlenigingsvereniging opgerig om Afrikaners te help wat hul werk verloor het deur die staking en met nie-blanke arbeid vervang is.

Gemeente Oost-Rand (Germiston) het die Administrateur in Julie 1922 genader en genoem dat hulle nie verhoging van heffings kan bybring nie. Hulle was in groot finansiële nood weens die staking en “revolutie”, soos dit beskryf is. In verskeie ander Witwatersrandse gemeentes is hulp verleen, selfs vir huisvesting. Dit het die hele 1922 voortgeduur. Die Administrateurs Ondersteuningsfonds se 1923-verslag wys uit dat tot Desember 1922 gemiddeld 16 974 persone weekliks hulp moes ontvang.

Uit De Hervormer se uitgawe van April en Mei 1922 blyk dit dat kollektes in verskeie gemeentes gehou is om mense by te staan. Fondse is ontvang uit gemeentes soos Middelburg, Standerton, Volksrust, Marico, en nog agt ander.

In ’n Herderlike Brief van 21 September 1922, waarin oor die Algemene Kerkvergadering se werk berig is aan lidmate, is daar nie uitgebrei oor die groot nagevolge van die staking en onluste nie, behalwe dat kerkrade gevra is om Gemeente Oost-Rand te help om die reiskoste van ds Alers uit Nederland te betaal omdat die gemeente geen geld het nie.

(Nándor Sarkady is die argivaris van die NHKA)

Foto: Commissionerstraat in die Johannesburgse middestad vroeg in die 20ste eeu

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap