Op die Sesde Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika in November 1842, is die naam van die Kaapse Nederduitsche Hervormde Kerk (vasgestel sedert 2 November 1824) verander na die Nederduitsch Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika. Op daardie tydstip was duisende lidmate van die Kaapse Kerk as Trekboere en Voortrekkers in Transoranje (Vrystaat), Transvaal en Natal gevestig. Hulle het hul Kerk geken as die Nederduitsche Hervormde Kerk.
In die afwesigheid van Kaapse predikante omdat hulle deur die Britse regering verbied is om die Trekkers, “Kaapsche Landverhuizers” of – soos hulle hulself genoem het – “die Emigrante-boere” te vergesel, is hulle aanvanklik deur Hervormde kerkraadslede geestelik bedien.
Erasmus Smit (1778-1863), ’n eertydse lidmaat van die Evangelies-Lutherse Gemeente van Amsterdam in Nederland, het vanaf 1804 in die Kaapkolonie as onderwyser en sendeling in diens van verskillende sendinggenootskappe en die Kaapse regering gewerk sonder om ooit belydende lidmaat van die Kaapse Nederduitsche Hervormde Kerk te word. As lid van die Maritz-trek het hy wel gewaardeerde geestelike werk onder medetrekkers verrig op 58, ofschoon oud en ziekelijk, soos hy dit self uitdruk in sy dagboek. Hy was getroud met Susanna Catharina (1798-1863, oorlede ’n week voor haar eggenoot), enigste suster van trekleier Gert Maritz. Sy was die dapper vrou wat in 1843 gesê het: Liewer barrevoets en blootshoof terug oor die Drakensberge as om onder Britse beheer te staan.
Smit het onder andere eredienste gelei, sang- en bidure gehou en geestelike gesprekke gevoer. Vanaf Junie 1837 het hy egter ook die sakramente (Doop en Nagmaal) bedien en huwelike bevestig, nadat hy homself op 21 Mei 1837, in oorleg en samewerking met trekleier Piet Retief (1780-1838) en die kerkraadslede, as predikant georden het. Vir ’n gedeelte van die Voortrekkers was die ongeordende oudsendeling nie as predikant aanvaarbaar nie, omdat hy in die 1820’s op Stellenbosch deur die Kaapse Hervormde Kerk verbied was om die sakrament van die Doop aan Hervormde lidmate en hul kinders te bedien, en omdat hy nooit belydende lidmaat van hul Kerk was nie. Party anti-Smitters het dienste van die Wesleyaanse sendeling James Archbell bygewoon.
Op 9 Februarie 1841 is Smit deur die Natalse Volksraad op Pietermaritzburg tot “rustende leraar” verklaar en deur ds Daniël Lindley (1801-1880), ’n Amerikaanse Presbiteriaanse sendeling wat Nederlands magtig was, vervang. Smit en sy eggenote is arm aan wêreldsgoed oorlede in Pietermaritzburg en in die Commercialweg-begraafplaas ter ruste gelê.
Ds Lindley was vanaf 1 April 1841 vir sewe jaar Voortrekkerpredikant. Hy het gedurende hierdie tyd op Pietermaritzburg gewoon, waar die Geloftekerk gebou is, en het vandaar al die Voortrekkers bedien.
Op voorstel van landdros Jacob de Klerk jr (1791-1881 – Klerksdorp is na hom vernoem) van Winburg, het die Natalse Volksraad op 2/3 Januarie 1840 vir David Francois Jacobs (1786-1875) van Suikerboschrand (Heidelberg) aangestel as “Ouderling en Catigeermeester”. Sy broer, Pieter Daniël (1780-1845), Voortrekkerleier, se grafsteen is by die SP Engelbrecht-museum in Eloffsdal, Pretoria, nadat sy nageslag ’n nuwe gedenksteen op sy graf opgerig het.
Dieselfde Volksraad het twee jaar later op 23 Februarie 1842, op voorstel van die “Adjunkraad van Vaalrivier”, tydens die stigtingsproses van Gemeente Potchefstroom, ’n maand voor die eerste besoek van ds Daniël Lindley aan Potchefstroom, die volgende sewe kerkraadslede vir die Oorvaalse/Transvaalse gebied aangestel:
- Oudl David Francois Jacobs (1786-1875) van Heidelberg.
- Frederik Gerhardus Wolmarans (1788-1872) van Potchefstroom. Hy was die oupa van die latere oudl A Danie W Wolmarans, oupagrootjie van prof dr HP Wolmarans, en eerste voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA in 1853, en bevestiger in 1853 van ds Dirk van der Hoff (1814-1881). FG se wakis word in die SP Engelbrecht-museum uitgestal.
- Oudl Petrus Johannes van Staden sr (1804-1892) van Rustenburg.
- Diak Pieter Frederik Strydom (1800-1887) van Heidelberg.
- Diak Pieter Daniël Andreas Salomon du Preez (1807-1889) van Soutpansberg. Sy eerste vrou en sewe van sy agt kinders is by Bloukrans vermoor – hy het die Groot Moord vrygespring omdat hy op ’n jagtog was.
- Diak Gabriël Stephanus Maree (1789-1852) van Lydenburg.
- Diak Stephanus Petrus Viljoen (1794-1873). Sy agterkleinseun was ds SP Viljoen.
Dit was hierdie kerkraadslede, en ander wat later verkies is en in diens getree het, asook sendelingdominees, wat die kerklike lewe in Transvaal vanaf die einde van die 1830’s tot aan die begin van die 1850’s, tydens die afwesigheid van predikante, op lofwaardige wyse aan die gang gehou het.
Ds Daniël Lindley se laaste besoek aan Transvaal was in Junie 1844. Ds Van der Hoff het eers in 1853 gekom.
In hierdie artikel steun ek onder andere op die volgende:
- Dreyer WA. 1999. NHKA Die eerste 250 jaar 1652-1902. Pretoria.
- Engelbrecht SP. 1953. Geskiedenis van die NHKA. Kaapstad en Pretoria.
- Pont AD. 1978. ’n Oorsig van die algemene kerkgeskiedenis en die geskiedenis van die NHKA. Pretoria.
- Pont AD en Kok WJJ. 1992. Gedenkalbum van die NH Gemeente Potchefstroom 1842-1992. Grepe uit die geskiedenis van die oudste gemeente in die Oorvaalse.
- Rex HM. 1993. Geestelike leidsmanne tydens die Groot Trek. Almanak en Bybelse Dagboek NHKA. Pretoria.
- Storm JMG. 1989. Die Voortrekkerkerk 1836-1853. Pretoria.
- Visagie JC. 2011Voortrekkerstamouers 1835-1845. Pretoria.
- Foto’s geneem deur ds CJ de Bruin met dank aan die SP Engelbrecht-museum en uit Eeufeesalbum NHKA 1842-1942, Album vir die geskiedenis van die NHKA 1965, en NHKA Gedenkalbum 1886-1986.
(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Erasmus Smit

James Archbell

James Archbell

Pieter Frederik Strydom