Dit is lekker om in ander gemeentes van die Kerk te kom en tuis te voel. Die reformatoriese teologie, die waardes wat ons aanhang, en die wyse waarop Hervormers in die algemeen met mekaar omgaan, skep ’n gevoel van eensgesindheid wat kosbaar is. Gemeentes is oral baie dieselfde, en tog is gemeentes ook baie verskillend! Dikwels het die andersheid nie met grondliggende verskille te doen nie, maar eenvoudig met die grootte van ’n gemeente.

Volgens die Almanak was daar in 2022 gemiddeld 1 240 lidmate in die tien grootste gemeentes van die Kerk, en 220 lidmate in die oorblywende 269 gemeentes. Die verskil is betekenisvol en verklaar heelwat van die verskille tussen gemeentes, omdat die grootte van ’n gemeente in ’n groot mate bepalend is vir die dinamika van die gemeente.

Omdat die meeste ringe in die Kerk uit kleiner gemeentes saamgestel is, kry predikante van groot gemeentes selde die geleentheid om met kollegas van ander groot gemeentes te skakel. Die tien grootste gemeentes is byvoorbeeld in sewe ringe ingedeel. Dit beperk die kontak wat groot gemeentes met mekaar op ringsvlak het. En tog spreek dit vanself dat gemeentes wat min of meer dieselfde lidmaattal het, baie by mekaar kan leer.

Op grond van hierdie behoefte het ’n klompie predikante van groot gemeentes in 2022 besluit om op ’n gereelde en informele basis met mekaar in gesprek te tree. Daar is besluit om die groep te beperk tot gemeentes met meer as 1 000 lidmate, eenvoudig omdat daar ’n afsnypunt moes wees en om die groep informeel en beweeglik te hou. Die inisiatief is met entoesiasme ontvang en gedoop as Groter gemeentes wat leer.

By die eerste byeenkoms is ’n wenslys opgestel van sake waaroor die predikante wou gesels. Sommige van die onderwerpe is reeds aan die orde gestel en ander sal nog aan die beurt kom.

Leierskap is een van die sake op die wenslys. Rofweg bereken is daar gemiddeld 1 025 lidmate per voltydse predikant in die groter gemeentes en 267 lidmate per voltydse predikant in die res van die Kerk. Dit beteken dat predikante in groter gemeentes die insig aan die dag moet kan lê om sekere verantwoordelikhede aan ander gemeenteleiers oor te dra. Maar, daarvoor moet lidmate met gepaste gawes geïdentifiseer, toegerus en gemotiveer kan word. Die eise wat byvoorbeeld aan die kategesehoof van ’n gemeente met 300 kinders in die Sondagskool gestel word, verskil van die eise wat aan ’n kategesehoof gestel word waar daar 30 kinders in die Sondagskool is. Daar sal dus aan mekaar geskuur moet word oor die rol van leierskap van sowel predikante as lidmate.

Jeugwerk is nog ’n terrein waar die predikante op die forum baie by mekaar kan leer. Die volgende byeenkoms vind vroeg in Junie plaas en gaan juis daaraan gewy word. Die 28 grootste gemeentes in die Kerk maak net 10% van die totale gemeentes uit, maar bevat 40% van die dooplidmate van die Kerk. ’n Enkele gemeente of twee het tot soveel as 500 jongmense. Dit is soveel kinders as wat daar in ’n mediumgrootte skool is, en die eise wat dit aan die bediening van so ’n gemeente stel, spreek dus vanself. Dit verskil ingrypend van die deursneegemeente in die Kerk waar daar min of selfs geen kinders is nie. Die forum bied ’n uitstekende geleentheid vir die predikante om ook op hierdie terrein te groei.

’n Opmerking wat al gemaak is, is dat dit interessant sou wees om te weet hoe die 40 grootste gemeentes in die Kerk (wat net 14% van die totale gemeentes uitmaak, maar meer as 50% van die dooplidmate van die Kerk bevat) oor Kindernagmaal dink. Die vraag ontstaan of gemeentes wat met groot getalle kinders werk se stem nie meer gehoor behoort te word nie.

Die funksionering van die kerkraad van ’n groot gemeente is nog ’n terrein waaroor reeds gesels is en waaroor nog gesprek nodig is. ’n Gemeente met 1 000 volwasse lidmate het ongeveer 600 besoekpunte, en indien ’n tradisionele bedieningsmodel met ’n geografiese wyksindeling gevolg sou word, gaan so ’n gemeente waarskynlik 75 wyke en 150 kerkraadslede nodig hê. Om soveel kerkraadslede te vind, te bestuur, en toe te rus, is moeilik. Daarby word vinnige besluitneming, wat in ’n vinnig veranderende wêreld soms nodig is, ’n uitdaging wanneer daar so baie kerkraadslede is. ’n Geografiese wyksindeling bevorder ook nie noodwendig die gemeenskap van gelowiges in die tipies voorstedelike omgewing waarin die meeste groot gemeentes hulle bevind nie. In hierdie verband sal ’n gesprek oor sake soos ampsbeskouing en die waarde van ’n geografiese wyksindeling teenoor die gebruik van klein- en belangegroepe sinvol wees.

’n Laaste paar voorbeelde van vrae waaroor daar in die forum besin sou kon word, is: Hoe kan sinvolle pastorale versorging plaasvind binne die konteks van ’n groot gemeente waar daar baie lidmate is en gewone huisbesoek nie noodwendig werk nie? Wat is die eise wat aan predikante en die erediensspan gestel word wanneer daar tot soveel as 500 mense eredienste bywoon? Hoe kan die gemeenskap van gelowiges bevorder word teen ’n agtergrond waar mense maklik net ’n nommer word?

Die gesprekke wat reeds plaasgevind het, beteken baie vir die bediening in die groter gemeentes, en die hoop word uitgespreek dat dit nog lank sal aanhou. Die kollegialiteit wat rondom die smaaklike etes uitgebou word, is ook kosbaar.

Dit is belangrik dat gemeentes wat in dieselfde geografiese omgewing geleë is, in ’n ring saamgesnoer sal wees. Daarom sê die Kerkorde in Ordereël 2 dat ’n ring gestalte gee aan die eenheid tussen gemeentes, en dat ringe onderling en gesamentlik gestalte gee aan die eenheid van die Kerk. Dit is op grond van hierdie reëling dat gemeentes van die Kerk oral baie dieselfde is. Maar, ten spyte van die enersheid, veroorsaak die grootte van gemeentes ook ’n andersheid en kan dit soms vir ’n gemeente nodig wees om met gemeentes buite die ring kontak te maak ten einde by mekaar te leer. Dit kan heilsaam wees, soos blyk uit die inisiatief van Groot gemeentes wat leer.

(Ds Colin Hertzog is leraar in Gemeente Middelburg-Noord)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap