Bykans 200 jaar gelede, op 19 Junie 1824, het die kerkraad van Gemeente Kaapstad aan goewerneur Charles Somerset ’n brief geskryf, met die versoek dat ’n selfstandige “Synode bymekaar geroep word. Dit was die eerste keer dat dié woord vir ’n kerklike vergadering op Suid-Afrikaanse bodem gebruik is.

Die goewerneur het die versoek toegestaan, en in November 1824 het die eerste Algemene Kerkvergadering in Kaapstad sitting geneem met die doel om ’n kerkorde vir ’n selfstandige kerk in Afrika op te stel. Die eerste Algemene Kerkvergadering het die Algemeen Reglement voor het bestuur van het Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuidelike Afrika opgestel, wat deur die Britse koloniale owerheid bekragtig en in werking gestel is. Met hierdie gebeure het die Kerk in Suid-Afrika de iure  selfstandig geword. Volgende jaar herdenk ons as Kerk die eerste Algemene Kerkvergadering wat 200 jaar gelede plaasgevind het.

12 jaar na die Algemene Kerkvergadering van 1824 het die Groot Trek begin. Sommige van die Voortrekkers het in 1845 in die Marico-distrik gevestig. Ds Dirk Van der Hoff het in 1853 in die ZAR aangekom, en in Desember 1853 die eerste erediens in die Marico-distrik gelei. By daardie geleentheid is drie kerkraadslede verkies, te wete GC Snyman as ouderling, en P van den Berg en CJ Joubert as diakens. Tydens die eerste erediens het 23 jongmense belydenis van geloof afgelê en 43 kinders is gedoop. Die bediening is deur die jare voortgesit, met eredienste wat te Driefontein (Marico), Buffelshoek (Mafikeng), Kwaggafontein (Zeerust) en Zwartruggens gehou is. In 1871 het Gemeente Zeerust selfstandig geword, en oor die volgende 50 jaar het nog vier gemeentes afgestig: Lichtenburg 1891; Zwartruggens 1913; Groot Marico 1923 en Mafikeng 1929.

In die eerste jare na die Groot Trek is die pioniers in Transvaal met enorme sosiopolitieke en ekonomiese uitdagings gekonfronteer. Spanning op kerklike terrein het ook nie uitgebly nie. Die Voortrekkergemeenskap was verdeeld oor die verhouding van die Transvaalse kerk en die Kaapse kerk; die naam van die kerk; die sing van gesange; en nog baie meer. Dit het uiteindelik uitgeloop op die vestiging van drie gereformeerde kerke in die ZAR, die sogenaamde susterskerke. In opdrag van die Staatspresident (MW Pretorius) is navraag gedoen of die inwoners van die Marico ten gunste daarvan sou wees dat die Transvaalse kerk onder die opsig van die Kaapse sinode sou staan. Veldkornet JW Viljoen het op 26 September 1856 aan die President geskryf en berig dat die Marico eenparig gekant is teen die inlywing onder die Kaapse Sinode. Verder het hy die President verseker dat die veldkornette sou toesien dat die burgers getrou sal bly aan die Hervormde Kerk en die Transvaalse Republiek.

Die Volksraad van die ZAR het in 1858 die Grondwet goedgekeur, wat die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk erken het. Dit is opmerklik dat na die vasstelling van die Hervormde Kerk as staatskerk, die naam “Nederduitsch Hervormde Kerk” toenemend in amptelike dokumentasie gebruik word.

Die Hervormde Kerk ervaar tans besondere uitdagings. Gemeentes word kleiner, as gevolg van ’n baie lae geboortesyfer, emigrasie en die veroudering van lidmate. Tans is daar 68 gemeentes van die Hervormde Kerk wat nie meer ’n predikant kan beroep nie. Dit is veral die geval op die platteland. Dit maak dit soveel te meer merkwaardig dat ’n plattelandse gemeente soos Gemeente Groot Marico steeds sterk staan, ’n voltydse predikant kan beroep en diensbaar is in hierdie gemeenskap.

Die gemeentes en lidmate van die Marico-distrik het in die geskiedenis van die Hervormde Kerk ’n belangrike rol gespeel. Talle predikante van die Kerk was van hier afkomstig. In tye van verdeeldheid, pogings tot kerkvereniging en kerkskeuring het die Hervormers in die Marico lojaal gebly teenoor oor die Kerk. Dit is een rede waarom Gemeente Groot Marico, na 100 jaar, steeds sterk staan en ’n besonderse rol in die gemeenskap speel. Ons is dankbaar teenoor elke lidmaat wat met toewyding en gawes in die koninkryk van God en in die Kerk diensbaar was en is.

Namens die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, wens ons Gemeente Groot Marico geluk met die eeufees. Die gemeente het 100 jaar van seën en genade ervaar. Ons gebed is dat ons God en Vader die Hervormde gemeentes en lidmate van die Marico-distrik sal seën en deur die Heilige Gees sal lei om die evangelie van Jesus Christus met vreugde en toewyding te verkondig.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap