Geliefdes van ons Here Jesus Christus.
Uit die woorde van die engele op die berg waarvan ons in ons gedeelte is daar ‘n paar dinge wat ons kan aflei.
Die eerste iets wat vir ons duidelik hieruit blyk is dat daar iets te lees was op die dissipels se gesigte. Hulle gesigte het gespreek van verbasing, van skok, van ongeloof, van verlange. Skielik het die dissipels besef dat Jesus nie meer by hulle is nie. Skielik het hulle besef dat die geliefde man Jesus hulle vir goed verlaat het. Ja, na die kruisiging was Jesus vir hulle meer as net ‘n slim leermeester gewees. Hulle het besef dat Jesus die Here is, hulle het besef dat Jesus die Seun van God is, maar tog, tog kon hulle nie loskom van die mens Jesus nie. Tog was dit vir hulle moeilik om te aanvaar dat Jesus as ‘n mens, soos enige ander mens, soos die man wat jy op straat om die hoek raakloop, soos die persoon wat op die markplein by jou verbyloop – ja, dat Jesus so as mens nie meer teenwoordig is nie. Vir die dissipels was dit moeilik om te aanvaar dat Jesus nie meer daar was nie. Dat Jesus nie meer vir hulle verhale vertel, nie meer wonders voor hulle oë doen, en nie meer woorde in hulle ore spreek nie. Die mens Jesus was nou vir goed weg. En daarom kyk hulle so met verlange op na die hemel.
Die tweede wat ons kan aflei is dat die dissipels gedink het dat Jesus nie maar net êrens heen gegaan het nie, maar na ‘n spesifieke plek toe. Dat Jesus sy werk in die liggaam van ‘n mens, nou elders gaan voortsit het.
Geliefdes, ek dink nie ons sou enigsins anders gereageer het as ons daardie dag ook daar op daardie berg was nie. Die woorde wat die engele daarom spreek is woorde wat in die eerste plek die skok en verbasing van die dissipels aanspreek, maar ook woorde wat ons elkeen se verbasing en ongeloof aanspreek.
Waaroor dit in wese hier in die agtergelatenheid van die dissipels gaan is ‘n misnoeë met die afwesigheid van God. Met ander woorde, die dissipels is ontevrede dat God nie meer daar is in hulle lewens nie — hulle is ontevrede met die manier waarop Hy hulle verlaat en alleen agterlaat het.
Dit is daarom dat God op daardie dag sy engele gestuur het om te sê: waarom staan julle so na die hemel en kyk? Waarom is julle so ontevrede oor die manier waarop God dinge doen? Waarom is julle so selfsugtig, waarom dink julle dat julle die Godheid van God in menslike sentimente kan vasvang?
Vir die dissipels het die einde van hulle wêreld aangebreek. Vir die dissipels was dit die einde van hulle verhouding met God — of altans so het hulle gedink. Maar in wese was dit die begin van iets nuuts. Het u al opgelet geliefdes, dat wanneer mense ‘n film van die lewe van Jesus maak hulle gewoonlik met die geboorte van die kindjie Jesus in Betlehem begin, en die film heel plegtig laat eindig met die hemelvaart van Jesus en ‘n son wat op die horison skyn?
Dit is egter nie hoe die Bybel die lewe van Jesus Christus skryf nie — vir die Bybel is die hemelvaart nie ‘n einde nie. Matteus, Markus Lukas en Johannes is vier persone wat die lewe van Jesus vanuit vier verskillende hoeke beskrywe. Sekerlik is daar bepaalde verskille tussen hierdie vier skrywers, maar daar is ook ooreenkomste. Een van hierdie ooreenkomste is dat nie een van hierdie vier skrywers die hemelvaart as die einde van Jesus Christus se lewe beskryf nie. In Matteus lees ons oor die hemelvaart niks nie, ook nie in Markus en Johannes nie, en in Lukas is daar net een vers oor Jesus se hemelvaart.
Dit is eers hier in die boek Handelinge dat ons van die hemelvaart lees, en wel daarvan aan die begin van die boek. U sien broers en susters — wat vir die mens in sy lewe dikwels die einde is — is vir God maar net die begin van ‘n nuwe. Ons ervaar baie keer skok en teleurstelling in ons lewens, en dan het ons die mooi spreekwoord om ons gevoel te omskryf — die einde van die wêreld het vir ons aangebreek, dit is maar beter om boedel op te gee. Hoe dikwels, geliefdes, het ons dit egter nie al beleef dat daar waar dit vir ons voel dit is die einde, God vir ons gewys dit is maar net die begin van iets nuuts — iets nuuts wat later geblyk het iets wonderliks te wees.
Hemelvaart gaan daaroor, dat daar ‘n nuwe era, ‘n nuwe fase aangebreek het in die mens se verhouding met God. Die hemelvaart is soos ‘n uitklophou in die eerste rondte. Dis ‘n uitklophou wat die dwaalleer dat God afwesig is in sy peetjie in stuur.
Want wanneer ons verder lees in Handelinge sien ons dat die hemelvaart in wese die begin was van die bestaan van die Christelike Kerk. Die grootste bewys van die gebeurtenis van hemelvaart is die feit dat ons vanaand hier bymekaar is. Die feit dat daar ‘n kerk in die wêreld is, is die bewys dat Jesus opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God.
Die feit dat Jesus opgevaar het na die hemel, beteken egter nie — soos die dissipels gedink het — dat Jesus na ‘n spesifieke plek toe gegaan het. Nee geliefdes: die woorde in ons geloofsbelydenis “opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God” dui in die eerste plek nie dat Jesus nou slegs op een plek is nie. Hemel en aan die regterhand van God dui nie op plek nie, dit dui op posisie. Dit gaan nie oor waar Jesus is nie, maar dit gaan oor wat Jesus doen. En wat Hy doen is om te regeer — saam met die Vader. Wat Hy doen is om Koning te wees. Wat Hy doen is om God te wees.
Geliefdes: wat is dus die betekenis van Hemelvaart? Die betekenis van hemelvaart is dit: God nie net êrens is nie, God is oral. God nie sigbaar afwesig is, God is tegelyk sigbaar en onsigbaar teenwoordig. Die betekenis van hemelvaart is dat God nie ver van ons verwyderd êrens op ‘n troon sit nie, maar eerder dat God oral heers waar ons leef en beweeg.
Hemelvaart is die begin van ‘n besondere manier waarop God teenwoordig is in die wêreld, onder andere, maar veral deur sy kerk. Hemelvaart is die begin van God se teenwoordigheid by ons op ‘n besondere manier, deur sy Gees, of ons dit erken of nie.
Ons kan dit ook die paradoks van God se afwesigheid noem: al kan ons God nie meer sien (soos sy dissipels Hom kon sien nie), tog kan ons God raaksien omdat Hy as koning heers, tog kan ons God raaksien omdat ons sy heerskappy raaksien soos Hy regerend in ons lewens teenwoordig is.
Ons kan sien dat God nie êrens is nie, maar oral is. Dat God nie beperk word deur ‘n tyd en ‘n plek nie, dat God nie gebied word deur ‘n menslike omstandigheid nie, maar dat God daar is waar ons is.
Met ander woorde geliefdes, die betekenis van hemelvaart is dat God daar is vir ons — dat God daar is waar die telefoon lui en jy die boodskap ontvang dat jou familielid of vriend oorlede is en jy nie weet hoe om hartseer te dra nie. Dat God daar is waar jou baas jou inroep en sê hy het nie meer werk vir jou nie. Dat God daar is waar jy in die hospitaal langs ‘n siekbed staan en jy nie meer weet wat die regte ding is om te sê nie. Dat God daar is waar jy in ondraaglike pyn verkeer.
Ja geliefdes, dat God daar is wanneer jy vals beskinder en beskuldig word. Dat God daar is wanneer ander jou beledig. Dat God daar is wanneer jy vir jou pa sê jy haat hom en niks meer met hom te doen wil hê nie. Dat God daar is wanneer jy vir jou kind sê hy gaan nêrens in die lewe kom nie. Dat God daar is wanneer jy blatant by ‘n ander vrou se man aanlê.
Dat God daar is wanneer jy jou hart teenoor Hom uitstort, dat God daar is waar jy in jou binnekamer is en jy ‘n pyn in jou binneste saamdra wat jy nog nooit met iemand gedeel het nie.
Dat God hier is waar ons vanaand bymekaar is. Dat God daar is waar jy jou Bybel lees, dat God daar is waar jy R50-00 in die drankwinkel spandeer en R10-00 in die kerk.
Ja geliefdes – dat God nie êrens is nie, maar oral en altyd is.
Die grootste troos van Hemelvaart is egter ook om te weet dat God daar is wanneer jy sterf. En waar God is, nie dood nie is, slegs lewe. En dat ons daarom kan weet dat God vir ons ons plek aan sy voete gereedmaak het.
As ons weet dat God orals is, as ons waarlik glo dat God orals tegelyk en afsonderlik aanwesig is, kan ons lewe nie meer dieselfde wees nie, want ons moet elke dag leef voor die troon van God. God maak vir ons plek gereed — en ons moet ook in ‘n voortdurende voorbereiding lewe. ‘n Voorbereiding van selfondersoek en gedurige berou.
Geliefdes, hemelvaart beteken vir ons dat ons nie hoef te soek na God nie, om te weet dat Hy ons reeds gevind het. Hemelvaart beteken vir ons om nie te soek na God nie, maar om dag vir dag in dankbaarheid in sy teenwoordigheid te lewe.
Amen