In 2017 het ek en my vrou Duitsland besoek en by Wittenberg aangedoen tydens die Lutherfees. Ons is terug Potchefstroom toe met die idee om die Bybel in 24 uur met die hand oor te skryf.
Op Saterdag 4 Augustus 2018 is om 06:00 begin. 450 skrywers uit verskeie kerkgenootskappe het deelgeneem – die jongste was 8 en die oudste 90 jaar oud. Die taak is eers op Donderdag 9 Augustus om 14:00 afgehandel toe die Bybel gereed was om gebind te word.
Hierdie handgeskrewe Bybel is op Vrydag 3 Mei 2019 aan die bestuur van die Lutherhuis-museum in Wittenberg, Duitsland oorhandig om deel van hul wêreldbekende uitstalling oor die werk en lewe van Martin Luther te vorm. Die handgeskrewe Bybel is aan die een kant van A3-grootte bladsye geskryf. Die Bybel is in vier dele gebind en weeg saam ongeveer 17 kg. Daar is ook afskrifte van die Bybel in A3 en A4 beskikbaar. Die Bybel sal na vyf jaar na die Bybelmuseum in Washington oorgeplaas word, waarna dit weer Potchefstroom toe sal kom.
Stefan Rhein, sekretaris van die Lutherhuis-museum, het gesê: Baie dankie vir u indrukwekkende Bybelprojek. Dat almal toegang tot die Woord van God gehad het, was ’n belangrike besorgdheid van Martin Luther. Geloof kom nie net deur luister nie (fides ex auditu), maar miskien selfs meer volhoubaar as dit op skrif is. Ons sal baie bly wees as ons hierdie getuienis van die Protestantse geloof en die wêreldwye effek van die Hervorming in die Lutherse Huis vir die hede en die toekoms kan hou.
Ds Geo Smit, Potchefstroom-Suid

Ds Geo Smit oorhandig die Bybel