In die geskiedenis van ons Kerk sal 2020 altyd uitstaan as een van die vreemdste jare. Nie alleen is dit die jaar waarin feitlik die hele wêreld tot stilstand gekom het nie, maar dit is ook die jaar waarin die Kerk, ons Kerk, in ’n oogwink die toekoms ingeslinger is.
Skielik is begrippe soos virtuele vergaderings en internetbediening woorde wat in agendas van kerkraadsvergaderings opgeneem word as staande punte. Skielik is gemeentegrense nie meer strepe op landkaarte van ’n dorp of streek nie, maar strek jou gemeente duisende kilometer oor die aardbol heen. Ons almal het geweet hierdie dag moet kom, want globalisering het al lankal die wêreld “kleiner” gemaak, maar min van ons was reg vir wat gebeur het, reg vir die verandering wat teen so ’n geweldige tempo op ons afgedwing is.
Oktober is Hervormingsmaand, met die hoogtepunt die laaste Sondag van Oktober se Hervormingsdiens. In ’n gesprek met ’n kollega oor Hervormingsmaand en die voortdurende veranderinge waaraan die Kerk onderworpe is, wys hy my daarop dat een van die slagspreuke van die Reformasie tog ecclesia reformata semper reformanda is. Die kerk van die Hervorming moet bly hervorm… Daarom reken hy is al die nodige, onnodige en soms kerkvreemde veranderinge wat die laaste ses maande ons Kerk ingekom het, noodsaaklik en onafwendbaar.
Behalwe dat hierdie slagspreuk nie uit die Reformasie nie maar uit die Kontrareformasie kom en eers in die 20ste eeu werklik gewild in die Reformatoriese kerke geword het, het dit nie die hervorming van die kerk ten doel nie, maar dié van die mens. Meer as ’n eeu na die Reformasie het die sogenaamde Kontrareformasie in Nederland momentum gekry. Die Kontrareformasie het ’n probleem gehad met die feit dat daar ten spyte van die Reformasie nie ’n groot verskil in mense se lewens was nie. Dit blyk dat hierdie slagspreuk eerder verwys het na die hervorming van die mens as van die kerk. Uit die historiese agtergrond sou ’n mens nie hierdie slagspreuk of beginsel kon gebruik om ’n klomp eksterne veranderinge in ons tyd en Kerk mee te motiveer nie.
Dat ons ’n klomp goed moet verander, is sekerlik nie te betwis nie. ’n Plattelandse gemeente soos die een waar ek as dominee werk, sou nooit ’n jaar gelede gedink het aan of enigsins beplan het vir ’n virtuele bediening nie, en hier is ons, omdraai is daar nou nie meer nie.
Maar was dit ’n geval van ecclesia reformata semper reformanda, of eenvoudig omdat eksterne omstandighede ons gedwing het om nuut te dink oor die verkondiging van die evangelie? En gee dit ons nou die groen lig om links en regs alles te verander ter wille van verandering? Oudl Gert van Staden van Groot Marico vertel my een maal toe hy as ouderling by my huisbesoek doen van ’n gesprek jare gelede in ’n Zeerust-kerkraadsvergadering. Iets moes verander, hy kon nie eens meer onthou wat nie, en die kerkraad veg dit uit soos net ’n kerkraad in die ou dae kon. Die volgende oomblik, tipies wys soos net hy kon wees, sê ds At Mc Donald: Nie alle nuwe goed is sleg nie en nie alle ou goed reg nie… Ja, die teenoorgestelde is ook waar…
Maar nou lees ek, en dit maak vir my sin, dat hierdie slagspreuk, ecclesia reformata semper reformanda, van ’n langer weergawe kom: Ecclesia reformata semper reformanda est secundum verbum Dei (Die Kerk van die Hervorming moet altyd volgens die Woord van God hervorm).
En dan besef ons dat ons alles wat verander, moet meet aan die Woord van God. Ons kan nie verander net omdat dit ’n tydgees of nuwe gier is, of omdat die ander kerke in die dorp of land dit doen nie. Wanneer ons as kerk van die Hervorming hervorm, moet ons ons hervorming aan die Woord van God meet.
Ek dink steeds ons leef in interessante tye, opwindende tye. Al wat ek vra, hier in Hervormingmaand, is: Toets besluite en veranderinge aan die Woord van God, en doen dit in versigtigheid tot voordeel van God, sy kerk en sy kinders.
Hervormingsgroete!
