Jaarliks herinner die kerklike jaar ons aan die betekenis van die Kerkhervorming, en dan onthou ons veral 31 Oktober 1517 – met Martin Luther (1483-1546) se 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg. Vanaf 31 Oktober 1517 loop daar ’n uitdruklike paadjie na 18 April 1521 – Luther se verskyning voor die Ryksdag van Worms, en sy beroemde woorde: Hier staan ek – ek kan nie anders nie…

Luther se beroemde woorde by Worms 1521 kry hul betekenis uit die wêreld in beroering agter daardie woorde. In die ontwikkeling van die Westerse samelewing bring die 16de eeu inderdaad ingrypende betekenis en verandering met die impak van Kerkreformasie en Renaissance.

Woorde – in bepaalde geskrifte of situasies – word nie reg verstaan nie wanneer konteks of kontekste verloor of verduister word, of wanneer woorde uit hul verband losgemaak en misbruik word om ander se pretensies en verskuilde agendas te dien. Die soeke na waarheid en werklikheid kan nie losgemaak word van die soeke na die kontekste van gister en vandag nie. Woorde gee uitdrukking aan hul bepaalde betekenis vanuit die sigbaarwording van verbandhoudende werklikhede van konteks op konteks. Vir elke wat is daar ’n waarom daaragter (Jürgen Habermas). Die studies van filosowe soos Hans-Georg Gadamer, Paul Ricoeur en Jacques Derrida open ons oë vir konteks, en daarby die gevaar van onreg aan die teks met refleksie (dit is om jou eie idees en motiewe in te lees in ander se woorde).

Die aflaathandel in Luther se tyd het allerhande beloftes van sondeverligting vir die koper aangebied. Luther se 95 stellings het die aflaatpraktyk ernstig bevraagteken, en daarmee wou Luther geleerdes uitnooi tot ’n dispuut oor hierdie saak. Die 95 stellings het egter vinnig versprei en ’n groot beroering veroorsaak. In kort, ontken Luther in die stellings die pous se mag om sondes te vergewe, strawwe in die vagevuur te verlig, en die veronderstelde hoë bedoeling om enorme bedrae geld in te samel vir die voltooiing van die Sint Pieterskerk in Rome. Vir Luther kom vrede vir die sondaarmens eers in die Woord van Christus deur geloof. Wanneer Luther in sy boeke en geskrifte tussen die Roomse persepsies en die Bybel se boodskap onderskei, lyk die verhouding tussen God en sondaarmens ingrypend anders.

Om die beroering wat volg op die 95 stellings so gou moontlik te stuit, wou die pous Luther in Rome kry vir ’n verhoor. ’n Regverdige verhoor was egter te betwyfel. Luther se veiligheid was boonop in die gedrang. Deur die tussenkoms van Luther se Keurvors, Frederick die Wyse van Sakse, word die oproep na Rome afgeweer en Luther in staat gestel om hom op die keiser te beroep. Dit was belangrik vir die Keurvors om die fokus na Duitsland te verwys. So gaan Luther dan na Worms om voor die keiser te verskyn.

Dit gaan oor kontekste vir verstaan. Met die eerste oogopslag sou ’n mens wonder hoe Luther hom op ’n wêreldlike gesag kon beroep, siende dat hy in sy twee-ryke-leer onderskei tussen die Koninkryk van Christus, wat handel vanuit die lex Christi (die wet van Christus), en die Koninkryk van die Wêreld, wat handel vanuit die lex naturae (die natuurlike wet waarmee die wêreld gewerk het).

Uit die kontekste van Luther se wêreld het dit egter vir hom en sy Keurvors sin gemaak vanuit die Middeleeuse verstaan, wat nog geldend was, dat die grense van die kerk en die staat saamgeval het. Baie optrede van die tyd moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Dit was een heilige ryk van pous en keiser in die Middeleeue, waarin baie dinge van kerk en wêreld met mekaar verstrengel geraak het, en daar te veel bose dinge aan die orde was. Die pous en die keiser, albei telkens in oorloë betrokke, was ook gedurig in ’n stryd met mekaar gewikkel oor wie die hoogste mag gehad het.

Luther kon kwalik alles weet wat hy in die samelewing sou versteur met sy geskrifte en optrede. Die aflaatpraktyk groei uit die kruistogte wanneer aflate aan diegene opgedra word wat ’n bydrae gelewer het in die stryd teen die heidene. Vervolgens brei die aflaatpraktyk in alle rigtings uit, en word ’n winsgewende bedryf vir die finansiering van, onder meer, kerkgeboue, kloosters en hospitale. Aflate word uitgereik om terugbetalings moontlik te maak aan banke, maar ook aan ryk families wat oor eeue kom. In Luther se Bybelse verstaan was kerk en staat egter nie inmekaar verweef nie; kerk en staat het elk ’n eie-posisie en verantwoordelikheid voor God. In een van sy tafelgesprekke het Luther gesê: Christus bemoei Hom nie met die staat of die politieke ekonomie nie.

Teologies was die patroon van die Middeleeue om Bybelse kategorieë te vermeng met Griekse filosofie, veral van Aristoteles. Die groot Roomse teoloog van die Middeleeue, Thomas van Aquino (1225-1274), het byvoorbeeld die nou aanvaarde sewe sakramente beskrywe in terme van die Griekse filosofie, en beweeg so dan weg van die vroeë kerk en Augustinus (354-430) se onderskeiding van element en woord om in die taal van Aristoteles te praat van materie en vorm. So word die Nagmaalselemente nou die materie wat die genade bevat. Die Reformasie sou dit verwerp, saam met talle ander Roomse leerstellings.

Luther sien dat daar met die mens, vasgevang in die soeke na eiebelang en in staat tot radikale boosheid, iets baie ernstiger verkeerd was as bloot ’n sondelysie wat afgekoop kon word. Die hele wese van die mens moes verander word. Luther sien alleen ’n verlore sondaar, en vra dan: Hoe vind ek ’n genadige God? Die antwoord lê in die bewuswording dat daar nie ’n pad van die mens na God is nie, maar alleen ’n pad van God na die mens – in Jesus Christus, die Here. In aansluiting by Romeine 4: 5 leer Luther dat dit alleen God is wat die sondaarmens vryspreek. In geloof, wat God se Gees in ons bewerk, ontvang ons God se genade in Christus aan die kruis vermag. Bekend is Luther se aansluiting by Romeine 1: 17.

Toe Martin Luther dan op 18 April 1521 verskyn voor die voltallige sitting van die Ryksdag van Worms in Duitsland (na ’n pouslike banbul reeds op 3 Januarie 1521 teen hom uitgevaardig is), het die keiser gereken dat die saak vinnig besleg kon word deur eenvoudig van Luther te verwag om sy boeke en die dwalinge daarin te verwerp. Luther het die situasie baie netjies hanteer toe hy met verskeie kategorieë en implikasies sy geskrifte en gedagtes indeel en so ruimte skep vir ’n toespraak wat hy eers in Duits en daarna op versoek in Latyn lewer. In sy slotsom verklaar hy dan dat sy gewete gebind is aan die Woord van God en dat hy niks kan herroep nie. Aan die einde van die Latynse teks (volgens die eerste gedrukte weergawe) sluit hy af met die beroemde woorde: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. So help my God. Hierna gooi hy sy arms in die lug, in die teken van die oorwinnaar-ridder, en verlaat die saal onder die geblaas en gemor van die Spanjaarde. Keurvors Frederick verlaat ook die saal, met lof vir Luther se toespraak, maar verbaas dat hy so uitdagend was. Kerkreformasie was nou in beweging.

Ons kan afsluit met ’n vraag, in aansluiting by Luther se verstaanshorison (Gadamer) én van die Reformasie: Kan gelowiges getrou aan Christus en sy Koninkryk werklik anders as nonkonformisties in hierdie wêreld wees? Die kerk moet baie bedag wees op die beeld wat die kerk uitdra in die wêreld. Is Christus teenwoordig?

(Dr Kobus Labuschagne is ’n emerituspredikant van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap