In enige gesprek oor die toekoms van die kerk is ’n gelowige op die minste besig met die uitspreek van ’n droom vir die kerk, maar ook ten beste besig met ’n oefening in die spekulatiewe. Die vraag na die toekoms van die kerk is egter nie ’n vraag wat sonder geloof aangepak kan word nie. Daar is verskeie lense waardeur hierdie vraag bekyk kan word.

Ons kan droom en spekuleer oor die vorm wat die kerk in die toekoms gaan aanneem, of ons kan die “tekens van die tye” lees en so bepaalde uitsprake oor die toekoms van die kerk maak. Daar het al talle publikasies die lig gesien wat fokus op die “tekens van die tye” deur dit met allerhande post-voorvoegsels te benoem.

Ek wil egter kies om die vraag na die toekoms van die kerk te benader aan die hand van twee ander vrae. Albei vrae is allermins nuwe ekklesiologiese vrae. Eerstens, het die kerk ’n toekoms nodig? En, tweedens, het die toekoms ’n kerk nodig?

Het die kerk ’n toekoms nodig?

Wanneer ons vra of die kerk ’n toekoms nodig het, is ons eintlik besig met die volhoubaarheidsvraag oor kerkwees. Ons praat dan oor elemente soos hulpbronne, finansies, lidmaatgetalle, geboue, ensovoorts. Ons vra dan ook of daar genoeg van hierdie elemente in die toekoms beskikbaar gaan wees om steeds kerk te kan wees. Hierdie elemente, sowel as die gesprek daaroor, is nie noodwendig onbelangrik nie, maar dit bring jou tog by gesprekke uit oor dié elemente. Daar is natuurlik ruimte vir hierdie gesprekke, maar daar moet daarteen gewaak word dat die kerk en die kerk se voortbestaan daardeur die doel op sigself word.

Dit is verder ook ’n instandhoudingsvraag. Vrae word gevra soos: Hoe kan ons die kerk en die kerk se strukture in stand hou? Hoe kan ons op die huidige basis kerk bly wees in die wêreld? Dit kan dan lei tot institusionele gesprekke – gesprekke oor die kerk as institusie in die wêreld wat beskerm en bewaar moet word. Die vraag is egter: Wie hou werklik die kerk in stand? Is dit ons, of ons Hemelse Vader?

Gesprekke wat eksklusief deur die eerste vraag in die lewe geroep word, is gesprekke waar die kerk en die kerk se strukture die hooffokus is. Die kerk se bediening (en roeping) is dan sekondêr tot (of selfs ondergeskik aan) oorwegings oor kerklike strukture. Ek wil eintlik so ver gaan om te sê dat die kerk se roeping, binne die raamwerk van hierdie vraag, gevorm word deur oorwegings rondom die instandhouding van kerklike strukture.

Indien ons dan ’n antwoord op die eerste vraag sou waag, is dit: Ons weet nie. Ons weet nie wat gaan word van die genoemde elemente in terme van die kerk se toekoms nie. Indien ons die “tekens van die tyd” bekyk en interpreteer, is al hierdie elemente op ’n afwaartse tendens. Die hulpbronne, finansies, lidmaatgetalle en geboue (om maar net ’n paar te noem) word jaar na jaar al hoe minder. Binne die raamwerk van die eerste vraag, bly die antwoorde oor die toekoms van die kerk uiters spekulatief.

Enige gesprek oor die toekoms van die kerk noodsaak, daarom, dat ons ander vrae vra. ’n Goeie vertrekpunt is om eerder te vra of die toekoms ’n kerk nodig het.

Het die toekoms ’n kerk nodig?

Wanneer ons vra of die toekoms ’n kerk nodig het, is dit myns insiens ’n missionale vraag. Gesprekke wat deur hierdie vraag in die lewe geroep word, erken dat die kerk nie bestaan ter wille van die kerk self nie, maar dat die kerk ’n bepaalde roeping (of gestuurdheid) in die wêreld het. Die kerk word in die lewe geroep deur God wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het, om vir die wêreld te wys hoe ware liefde lyk. Die kerk word dan verder gestuur om Jesus Christus in die wêreld te beliggaam (te inkarneer). Dié roeping is nie die kerk se roeping nie, maar God se roeping (missio) vir die kerk. Die kerk word nie deur mense in stand gehou nie, maar deur God wat die kerk in die lewe geroep het en die kerk toerus met sy Gees. Instandhouding van kerklike strukture kan dan nie die hooffokus van die kerk wees nie, maar eerder die skyn van God se lig in ’n donker wêreld.

Die tweede vraag noop ons ook om sosiale vrae te vra. Ons roeping lê in die bevordering van die Jesus-saak. Hoe lyk gemeenskappe waar die kerk aangetref word? Skyn die kerk werklik Jesus Christus se lig in die gemeenskap waar die bepaalde gemeente werksaam is? Raak ons werklik die lewens aan van dié wat honger, dors, naak, siek en eensaam is? In die lig van die ekologiese krisis wat die wêreld tans beleef, behoort die kerk – binne die raamwerk van die tweede vraag – na te dink oor hoe ons verantwoordelik met die planeet se hulpbronne moet omgaan. Ons is immers ook geroep om rentmeesters van die skepping te wees.

Indien ons ’n antwoord sou waag op hierdie tweede vraag, is die antwoord (met nederigheid): Beslis! Hoekom? Die toekoms sal waarskynlik steeds persone hê wat honger, dors, siek, in die tronk, naak en eensaam is (vgl Matt 25: 31-46). Dit sal steeds ons roeping bly om God se lig in hierdie omstandighede te gaan skyn. Die kerk is, daarom, in goeie hande: nie ons s’n nie, maar God s’n.

(Ds Steve Oxton is leraar in Gemeente Wapadrant)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap