Die wyse waarop die vroeë kerkvaders 25 Desember as die datum vir Kersfees vasgestel het, het ’n interessante geskiedenis. In die biblioteek van die Vatikaan word ’n standbeeld bewaar van die vroeë kerkvader Hippolitus. Hierdie standbeeld werp lig op die vasstelling van die vroeë kerk se datum vir die geboorte van Christus.
Die mite van die Romeinse Sol Invictus
Mense wat Christene se viering van Kersfees wil kritiseer, is lief daarvoor om dié dag as ’n nalatenskap van die heidense Romeinse Sol Invictus-fees af te maak. In die persepsie dat Kersfees oorspronklik ’n heidense feesdag was, steek egter geen waarheid nie.
Wat presies was die fees wat die Romeine op 25 Desember gevier het? Die Sol Invictus was ’n verlengde dag van die Saturnaliafees, wat van 17 tot 24 Desember geduur het. By dié geleentheid is die draai van die son in die Noordelike Halfrond en die aanbreek van die einde van die winter gevier. In 274 nC het keiser Aurelianus nog ’n dag tot die fees bygevoeg wat bekend is as die Sol Invictus, die Onoorwinlike Son, om die geboorte van die nuwe son te vier.
Op hierdie dag het mense aan brassery, ’n gefuif en gespot met sosiale waardes deelgeneem. So sou die keiser en slaaf byvoorbeeld klere ruil en vir die dag in omgeruilde rolle tot groot vermaak “regeer” en “dien”.
Die Romeinse viering van Sol Invictus het net toevallig met die Christene se datum vir Kersfees saamgeval. Die Christene, wat onder die Romeinse vervolging gebuk gegaan het, sou baie moeilik aan so ’n Romeinse fees meegedoen het. Die vervolging van Christene is eers onder Konstantyn die Grote in 313 nC gestaak.
Die misterieuse standbeeld
’n Artefak wat dié mite van Sol Invictus heeltemal verkeerd bewys, is ’n standbeeld van Hippolitus wat in ’n stoel sit met ’n inskripsie aan die kant van die regterkantste armleuning waarin ’n datum van die geboorte van Christus genoem word. Dié standbeeld word beskou as ’n kosbare besitting in die Vatikaan en word in die biblioteek van die Vatikaan bewaar. [Foto’s: © 2022, Biblical Archaeology Review]
Hippolitus was ’n gerekende teoloog in die vroeë kerk. Hy is in ongeveer 170 nC gebore en in ongeveer 235 nC op waarskynlik die ouderdom van 65 jaar oorlede. Volgens die geskrifte van Origines was hy ’n uitstekende prediker.
Die standbeeld is self van groot misterieuse waarde. Die artefak beeld Hippolitus uit terwyl hy op ’n stoel sit. Sy arms is voor hom gekruis. Hy raak met sy regterhand net bokant sy linkerbors aan sy toga, terwyl hy weer met die vingers van sy linkerhand aan ’n Bybel raak wat regop op sy regterheup rus.
Die interessantheid van die beeld is dat die artefak nie oorspronklik ’n uitbeelding van Hippolitus is nie, maar dié van ’n vrou wie se beeld later só gerekonstrueer is om die vroeë kerkvader Hippolitus voor te stel. Die beeld is gedurende die 16de eeu in ’n erg beskadigde toestand ontdek.
’n Skets wat van die oorspronklike beeld gemaak is nadat dit gevind is, wys die lyne van ’n vrou. By die voete van die beeld kan die valletjies van ’n vrou se onderklere gesien word soos wat dit onder die toga uitsteek. Baie navorsers is daarvan oortuig dat die beeld dié van die vrouefilosoof Themista van Lampsakus is. In die een of ander stadium het Hippolitus se kerk aan die beeld van die vrou gewerk en daarvan ’n simbool van die kerk as die bruid van Christus gemaak.
Aan die regterkant van die stoel, by die armleuning, verskyn ’n inskripsie wat reeds in 222 nC daarop aangebring is. Dié inskripsie is dus 52 jaar ouer as die instelling van die sogenaamde Sol Invictus-feesdag. Die inhoud van die inskripsie is geneem uit die geskrifte van Hippolitus wat bekend is as Die Kanon. Die essensie van hierdie werk draai om die berekening van komende en vervloë datums van Goeie Vrydag (Paasfees) en Opstandingsondag.
In die bewoording van die inskripsie word na die geboorte van Christus verwys as die Genesis van Christus. Die datum wat as die Genesis van Christus genoem word, is 2 April 2 nC.
Wat Hippolitus met die uitdrukking Genesis van Christus bedoel het, verwys onwaarskynlik na die fisiese geboorte van Christus. Die uitdrukking verwys eerder na die oomblik van konsepsie toe Maria deur die Heilige Gees met Jesus swanger gemaak is. Dit is waarom Matteus sy evangelie oor die geboorte van Jesus begin met die woorde: Die genesis (begin) van die geboorte van Jesus het só verloop: Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees (Matt 1: 18).
Die aantal weke wat ’n vrou swanger is, en die tydperk tot 25 Desember, bring ’n mens by ongeveer 25 Desember uit. Hippolitus se berekening moet ook nog met ’n ander geskrif van hom saamgelees word. In sy werk Kronikon maak hy verdere berekenings van die datering van Bybelse gebeure. Hieruit blyk dat hy die tyd van die geboorte van Jesus op nege maande ná die kruisiging van Jesus bereken het. Nege maande ná 25 Maart werk uit op 25 Desember.
Hippolitus het nie die fisiese geboorte as die datum van 25 Desember verstaan nie. In hierdie opsig het hy dieselfde oortuiging as Tertullianus gedeel, wat die geboorte van Jesus in die lig van die verlossingsteologie verstaan het. Die kruisigings- en opstandingsgebeure is by die vroeë kerkvaders as die belangrikste gebeurtenis in die verlossingsgeskiedenis van die mensdom verstaan. Die geboorte van Jesus is, in ooreenstemming daarmee, simbolies dus op nege maande ná die Paasgebeure op 25 Maart bereken en op 25 Desember vasgestel.
Hierdie getuienis bevestig dat Hippolitus, soos ander vroeë kerkvaders wat dieselfde oortuiging gedeel het, die vasstelling van Jesus se geboorte op 25 Desember nié van enige heidense feeste of vierings afgelei het nie, maar vanuit hul Christelike oortuiging gevorm het. Die rede daaragter was ook nie bedoel om ’n dag en datum vir die geboorte van Christus te bereken nie, maar om ’n siklus in die verlossingsteologie van hul geloof te skep.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)