Karl Barth spreek ’n groep teologiestudente toe. Hy sê: Ons is mense en kan eintlik nie oor God praat nie, maar ons is ook teoloë en moet oor God praat. Hierdie twee: dat ons oor God moet praat, maar eintlik nie kan nie, vorm die benoudheid van die bedienaar van die Woord.

’n Goeie vertrekpunt met preekmaak is dus om deeglik bewus te wees van die grootsheid daarvan om ’n preek te skryf wat, as dit Skrifgetrou en Skrifgebonde is, self Woord van God word. Die prediker is regdeur die proses bewus van die eie kleinheid en is daarom biddend bloot instrument, altyddeur oop vir die leiding van die Heilige Gees.

Wat preek ek Sondag?

Verskeie faktore speel ’n rol by die keuse van ’n teks en tema vir Sondag se preek. Een daarvan is natuurlik die kerklike jaar. Verder ook gebeure wat tydens die erediens plaasvind, soos die bediening van sakramente, bevestiging van ampsdraers of aflegging van die belydenis van geloof.

Die teks moet goed verstaan word

Die prediker sal die Bybelse teks baie deeglik in ’n historiese sin wil verstaan. Hy/sy vra vrae soos: Wie was die eerste hoorders en wat was hul omstandighede? Wie was die skrywer en wat is die belangrikste teologiese klemtone wat in die bepaalde Bybelboek na vore kom?

Dan word die teks vervolgens ook in ’n literêre sin bestudeer. Die prediker bestudeer die struktuur van die bepaalde Bybelboek waaruit die preekgedeelte kom, die struktuur van die hoofstuk, en ontleed ook die perikoop waaruit gepreek gaan word.

Kom ons gebruik 1 Petrus 1: 3-9 as voorbeeld ter illustrasie. Hierdie perikoop verdeel in twee: Daar is eerstens ’n lofverheffing (1: 3-5) oor die nuwe lewe wat aan gelowiges ’n lewende hoop op ’n ewige erfenis gee; en dan in 1: 6-9 ’n beskrywing van die reaksie wat hierdie wete van ’n nuwe lewe behoort te ontlok.

Die prediker wil die teks laastens ook in ’n semantiese sin verstaan deur na te gaan wat die sleutelbegippe is wat in die perikoop na vore kom en dit dan met die korrekte betekenisinhoude te vul.

In 1 Petrus 1: 3-9 sal onder andere begrippe soos ’n nuwe lewe, ’n lewende hoop, onverganklike erfenis en saligheid teologies nagegaan word.

Eksegetiese skopus

Nou kan die eksegetiese skopus van die Skrifgedeelte, naamlik dit wat die kerngedagte of die basisargument van die gedeelte vorm, in een sin geformuleer word. Wat 1 Petrus 1: 3-9 betref, sal dit wees: Deur die opstanding van Jesus Christus is gelowiges weergebore tot ’n nuwe lewe waarin hulle in alle omstandighede kan vashou aan ’n vaste hoop.

Meditasie

Meditasie het te doen met die versmelting van twee horisonne, naamlik dié van die teks aan die een kant en dié van die gemeente aan die ander kant. Die prediker moet hierdie twee by mekaar uitbring. Insig in die tydgees en aktualiteit van die dag, en aanvoeling vir die problematiek en eksistensiële nood van die tyd, is daarvoor onontbeerlik.

Die kommunikasie-ervaring wat die prediker via die teks met God gehad het, moet so ingetolk word in die situasie van die gemeentelede dat hy/sy hulle tot ’n soortgelyke ervaring begelei.

Kerugmatiese struktuur

Die prediker keer terug na die teks en identifiseer daarin drie elemente. Watter indikatiewe (teologiese stellinge), imperatiewe (opdragte) en beloftes word in die teks gemaak?

Kom ons ontwerp nou ’n kerugmatiese struktuur vir 1 Petrus 1: 3-9.

Indikatiewe Imperatiewe Beloftes

Jesus Christus het ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding uit die dood

Ons moet vashou aan die hoop

’n Onverganklike erfenis word in die hemel vir ons in bewaring gehou

Ons het ’n lewende hoop op ’n onverganklike erfenis

Ons moet in alle omstandighede vasstaan in die geloof

Ons word nou reeds veilig bewaar

Ons het rede tot ’n heerlike blydskap

Ons moet ons lewens met blydskap leef

Ons het reeds deel aan die saligheid

Konkretisering

Die verkondiging moet nou gestalte kry in die konkrete leefwêreld van die hoorder. Die relevansie van die boodskap moet dus duidelik inspreek in die konkrete situasie van die gemeente. Die prediker wat tegelyk ook pastor is, sal sy/haar tyd en ook die konkrete leefwêreld van hul mense goed verstaan.

Preekdoel

Die prediker formuleer die preekdoel nou vir hom-/haarself. Vir 1 Petrus 1: 3-9 sal dit wees: Om aan die gemeente te verkondig dat, omdat Jesus uit die dood opgestaan het, ons ’n lewende hoop het waaraan ons in alle lewensomstandighede kan vashou en wat ons vul met ’n heerlike blydskap.

Vorm en struktuur

Die beginfase van die preek: Dis van deurslaggewende belang om die hoorder dadelik te interesseer. Die inleiding moet dus deeglik beplan word. Baie predikers kies ’n beeld, ’n verhaal of dergelike om die preek mee te begin.

Die middelfase van die preek: Die homiletiese skopus word nou uitgebrei – dit is die liggaam van die preek. In die sistematisering of beredenering van die boodskap word die hoorders begelei om die kernboodskap in hul eie werklikheid te ontdek.

Die eindfase van die preek: Die slotfase bring ’n bepaalde verwerkte antwoord teweeg, en rond die preek af as ’n geheel. Dit gryp ook terug na die vraagstelling wat in die beginfase aan die orde gestel is. Die preek moet ook verkieslik uitloop op ’n hoogtepunt of ’n klimaks. Daarom sal die kerngedagte van die preek weer aan die einde kortliks saamgevat word.

Slotopmerking

Deur ’n duidelike preekdoel te bepaal, wat die kerninhoud van die teks en die intensie van die teks goed onder woorde bring, vorm die preek ’n logiese geheel en dra dit eintlik net een sentrale gedagte oor.

(Dr Gerhard Nel is leraar in Gemeente Horison Roodepoort)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap