Die wêreld gaan ná Covid-19 beslis anders lyk, maar presies hoeveel anders, kan ons seker net oor bespiegel. Niemand weet presies nie, omdat net God die toekoms omsluit! Ons kan wel probeer om op ’n wetenskaplike manier na sekere tendense te kyk en ’n mening te waag oor hoe die wêreld na alle waarskynlikheid kan lyk indien die tendense bly voortduur. Binne die wetenskap van die toekoms verwys ons daarna as die waarskynlike toekoms.
Ons kan wel vermoed dat die wêreldekonomie op die medium en kort termyn onder druk sal bly. Politieke leiers en regerings is ook in die spervuur oor hul gesondheids- en ekonomiese besluite, soos tans in Brasilië en die VSA. Die Amerikaners hou presidentsverkiesing op die eerste Dinsdag van November 2020, en dan sal ons sien hoe die kiesers in die VSA pres Trump se hantering van die pandemie en ander sake evalueer.
Dit is asof ’n herprogrammering van die wêreld deur die grendeltyd geaktiveer is. Mense is abrup tot stilstand geruk en moes besin oor waarmee hulle besig is en of dit die moeite werd is. Baie het ernstig siek geword en geliefdes aan die dood afgestaan, en mense oral in die wêreld kan vir ’n paar jaar in rou wees. Party kinders is getraumatiseer op verskillende vlakke, en sommige se skooljaar gaan moontlik oorvloei na volgende jaar.
Aan die positiewe kant herstel lande se ekonomieë dikwels verrassend vinnig na so ’n trauma. Kreatiwiteit verhoog en daar is dikwels onverwagte deurbrake. Die grendeltyd het ook vir die natuur, wat al hoe meer daarna gesmag het om behoorlik asem te haal, ’n blaaskans gegee.
Niks in die lewe is net goed of net sleg nie. Ons kan dus ’n gemengde uitkoms verwag. Ons kan egter ’n belangrike volgende vraag vra, en dit raak die verkieslike toekoms. Wat is die toekoms wat ons oor 5, 10 of selfs 20 jaar ná Covid-19 sou verkies? Dit kan aan visie gekoppel word, en as ons dan geloof en aksie bymekaar sit en hard werk, verkry ons ’n positiewe uitkoms. Die toekomskundige Joel Barker noem dit ’n droom in aksie.
Wat my wel opgewonde maak oor die kerk se volgende seisoen, is die kreatiwiteit wat gemeentes aan die dag lê. Verskeie gemeentes het afgeronde virtuele eredienste, en selfs virtuele en deurry-Nagmaal. Inry-eredienste word gehou, en sommige gemeentes probeer ’n kombinasie van byvoorbeeld goedversorgde YouTube-kerkaanbiedings en 50 lidmate in die fisiese kerkgeboue op Sondae. Dit lyk ook vir my belangrik dat telefoniese en ander sosialemediakontak met gemeentelede behou word. Lidmate mag nooit voel dat hul kerk van hulle vergeet het nie.
Sommige lidmate het min data, maar elke gemeente moet poog om die meeste te doen wat vir hulle moontlik is. Ons is nou in die tegnologiese era ook nie geografies beperk nie. Plattelandse gemeentes kan nou mense oral in Suid-Afrika en die wêreld bereik. Tegnologie gaan nog verder ontwikkel oor die volgende jare. Daar kan verrassende nuwe tegnologiese geleenthede oopgaan wat min van ons nou kan voorsien.
Prof Johan van der Merwe van die Universiteit van Pretoria waarsku egter teen die posduifeffek. Dit kan later vir posduiwe wat te lank nie gevlieg het nie, so gemaklik wees om nie te vlieg nie, dat hulle in die hok bly sit al is die hokdeur oop. Kerkgangers kan so lekker voor die TV kerk hou, met koffie en beskuit in die hand, dat hulle na ses maande gewoond geraak het aan hul gemaklike sitkamer. Baie gaan ook na Covid-19 steeds van die huis af bly werk. Die kokoneffek kan dan versterk word, waar almal gemaklik en knus in hul huise leef en al hoe moeiliker uit hul huise gaan.
Aanlynverkope gaan ook skerp toeneem. Fietsryers en hardlopers het oor die afgelope 20 jaar daaraan gewoond geraak om hul sport op Sondagoggend in kerktyd te beoefen. Hierdie is waarskynlik die rantkerklike mense wat saam met ander nou vinniger afskeid van die kerk geneem het. Ons kan ook waarskynlik verwag dat marginale gemeentes vinniger onder finansiële druk gaan kom. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het reeds gesukkel ná die Zuma-era, en ekonome verwag dat dit na Covid-19 met 7% gaan verklein. Waarskynlik kan gemeentes gemiddeld 7% minder inkomste kry. Werkverliese kan verder daartoe bydra dat minder predikante in voltydse poste sal wees.
Daar is egter ook ’n meer positiewe perspektief. Lidmate kan die koinonia (saamwees as gelowiges) mis en besluit om hul finansies te prioritiseer om wel nie hul predikant of gemeente te verloor nie. Evangeliese en charismatiese kerke gee meestal hul volle tiende en kan met klein gemeentes baie vermag.
Daar is ook ’n blink en positiewe ander uitkoms. Die kerk was nog altyd lydend en deernisvol. Met die armoede en nood wat nou alledaags is, kan die kerk van die Here Jesus Christus juis in ’n tyd soos hierdie groot dinge vermag. Verskeie gemeentes het reeds in hierdie nood ingeduik. Dit is goed om te sien hoe ons kerklidmate reeds oop hande toon vir mense in nood. Bejaardes is alleen, skoolkinders is getraumatiseer, daar is heelwat lewensverlies. Is dit dan nie juis oestyd vir ons lidmate om uit te gaan as dissipels van die Here en binne-in die nood te tree nie? Indien ons harte oop is, kan ons ’n getraumatiseerde wêreld juis nou gaan bedien.
Die kreatiwiteit en uit-die-kassie-denke kan geslote kerkgeboue nou verander in kerke wat nie net Sondaeoggende een uur lank bymekaar kom met enkele ander aktiwiteite en fondsinsamelings per maand nie. Die kerk kan nou ook na die markplein verskuif en daar kan opnuut by buiteluggeleenthede uitgereik word na gemeenskappe. Kerkgeboue en kerkterreine kan ook ná die grendeltyd aangewend word om ’n goeie inkomste in te bring. Gemeentes kan selfs met besighede begin vir ’n ekstra inkomste.
Dit is nie onmoontlik nie dat die herprogrammeringsknoppie deur die Here self gedruk is. Daar was soveel chaos op verskeie lewensterreine. Die Britse toekomskundige dr Patrick Dixon is van mening dat die 21ste eeu teen ’n steeds vinniger tempo sou versnel. Ander mense beweer dat die stressors van ’n komplekse en vinnige lewe 40% van professionele mense teen 2030 sou laat ineenstort van uitbranding. Ons kon die natuur ’n ruskans gee, ons kon self ’n bietjie rus. Nuwe klem is op verhoudings geplaas. Mense gaan moontlik soos ons grootouers ontdek dat ’n rustiger lewe ’n kwaliteitlewe is.
Wie weet, miskien was Covid-19 veel eerder ’n seën as ’n straf?
(Dr Barry Tolmay is leraar in die NG Gemeente Krantzkloof in Durban en ’n navorsingsgenoot van prof Jaco Beyers van UP)
