Ek was tien jaar oud toe ek my eerste Bybel gekry het, dit was Kersfees 1976. My tweede oudste suster, Alta, het die Bybel vir my as Kersgeskenk gegee. Seker die beste geskenk wat ek as kind gekry het. Selfs beter as die leer-rugbybal en Luger-klapperpistool wat ek daardie jaar vir my tiende verjaardag gekry het. (Ek het nog al hierdie geskenke in my kantoor…)

Dit was ’n spesiale Bybel, ’n 1933-vertaling Naslaanbybel, luukse uitgawe. Saans het ek die voorreg gehad om voor bedtyd uit my Bybel vir ouma Frikkie de Vries te lees. Ek glo tog dat daardie Bybel en die Bybellees en bid saam met ouma Frikkie my gevorm het sodat ek uiteindelik as matriekseun my droom om ’n onderwyser te word verruil het vir die roeping om ’n dominee te wees.

Intussen het ek verskeie Bybels gekry en gekoop. Daar staan ’n hele ry verskillende vertalings op my rak. Ook die kleindruk volledige Bybel wat in die kantsak van my Weermagbroek kon pas in die agt jaar toe ek kapelaan in die Leër was. Vandag is daar ook verskeie vertalings op my slimfoon, ek gaan nou nêrens sonder dat ek ’n Bybel by my het nie.

Terwyl ek sit en hierdie redakteursbrief skryf, besef ek net weer hoe bevoorreg ek is om nie maar net een Bybel nie, maar sommer ’n klomp Bybels te kan hê.

’n Vriend hier op ons dorp wat jaarliks saam met die Bybelgenootskap se Bikers for Bibles deur die land reis en Bybels aan skoolkinders uitdeel, vertel hoe hy begin huil het toe hulle op ’n keer vir ’n tienerseun op ’n klein dorpie ’n Bybel gee en die seun in trane teen die muur gaan sit en begin lees, sy eerste Bybel…

Ek het self daardie trane-in-die-oog-hartseer en -vreugde beleef toe ons gemeente ’n tyd gelede Oudiobybels aangekoop en aan gesiggestremde lede van ons gemeente gegee het. Ek sal nooit die vreugde kan vergeet van ’n besonderse persoon wat as gesiggestremde as diaken dien en die lewe van baie so verander, en wat vir die eerste keer in baie jare weer die Bybel kon lees (hoor).

Volgende jaar vier die Bybelgenootskap van Suid-Afrika hul 200ste bestaansjaar. Met opgewondenheid gaan ons by Die Hervormer hierdie mylpaal saam met hulle vier. Ons bede is dat die twee miljoen Bybels wat hulle wil versprei, werklik mense se lewens sal verander. Ons wat Bybels het, moet dit nie net op die bedkassie of rak hou nie, maar lees en leef. ’n Kollega het eenmaal gesê ons moet onthou die mense daar buite lees nie altyd die Bybel nie, maar hulle lees ons wat onsself Christene, kinders van God, noem.

En dit bring my by die goeie artikel van prof Yolanda Dreyer onder die opskrif Vooronderstelling, vooroordeel en die evangelie waarin sy waarsku teen die ontmensliking van ander deur stereotipering, etikettering en vooroordeel. Sy waarsku dat sulke gedrag nie strook met die evangelie nie. Kinders van God mag hulle nie hieraan skuldig maak nie.

Op bladsy 3 deel Erna Möller die begeerte van lidmate met gestremdhede om te behoort, om as gewone mense aanvaar te word. Wanneer ’n mens die artikel lees, vra jy jouself onwillekeurig af of ons as gemeentes werklik mense met gestremdhede tuis laat voel. Is ons kerkgeboue werklik toeganklik vir mense met gestremdhede? Is daar byvoorbeeld ’n toilet vir hul gebruik? Kan iemand met ’n rolstoel of loopraampie oral op die terrein rondbeweeg?

’n Paar gelede het ons gemeente ’n skenking gekry vir die aankoop van kwaliteit gehoorapparate. Die Maandag skakel ’n tannie my en sê dankie, want sy het vir die laaste tien jaar kerk toe gekom om tussen medegelowiges te wees, en nou vir die eerste keer in ’n dekade kon sy hoor wat gesê word…

Maar soos Erna skryf, gaan dit nie net oor die fasiliteite wat toeganklik moet wees nie, maar ook oor ons houding en optrede teenoor mense met gestremdheid wat moet verander. Wat lees mense met gestremdheid wanneer hulle ons lees?

Jare terug storm ’n lidmaat een oggend voor kerk in die konsistorie in. Dominee, kom help, jy sal nie glo wat hier in die kerk aan die gebeur is nie. Ek is saam in die kerk in om te sien hoe ’n ouma haar gestremde kleinseun uit ’n bank moet ophelp om op ’n ander plek te gaan sit, want hulle twee het per ongeluk op “iemand se plek” gesit. Ons lag lekker saam met Oupa Stoep se skets oor die plekke waar ons in die kerk sit. Ons moet net onthou dat as iemand op jou “plek” sit, lees ander iets van jou verstaan van dit wat jy in die Bybel lees en leef in hoe jy optree…

Mag ons, wat leef as Christene, kinders van God, ons wat Bybels het en dit leef, se bede altyd wees dat wat ons sê en doen opbouend moet wees.

Lentegroete!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap