Die manier waarop ons die Ou Testament lees en verstaan, loop hand aan hand met ons Skrifverstaan, of dan ons hermeneutiek. Skrifverstaan is in baie gevalle ’n persoonlike keuse.

Alhoewel ons in die Hervormde Kerk oor die algemeen ’n redelik kritiese Skrifbeskouing het en nog nooit daarvan weggeskram het om ’n teks deeglik te ondersoek nie, is daar maar altyd ’n geneigdheid om iewers ’n stuk naïwiteit te behou. Hierdie naïwiteit wissel tussen ’n fundamentalistiese, letterlike woord-vir-woord-verstaan van die Bybel, tot ’n allegoriese en/of tipologiese interpretasie, en staan teenoor ’n krities-reflektiewe lees van die teks. 

Die hermeneutiek van Ou-Testamentiese tekste het menige teoloog al voor ’n stopstraat te staan laat kom en sommige selfs verleë gelaat. Ons weet dat iemand soos Marcion byvoorbeeld so ongemaklik was met die Ou Testament, dat hy geglo het die God wat Jesus na die wêreld gestuur het, ’n ander, hoër godheid was as die Skeppergod van die Judaïsme, en dat hy probeer het om ’n “beter” Bybel op te stel. Kohlbrugge het weer geglo dat ons die Ou Testament slegs kan verstaan vanuit die Nuwe Testament. 

Ingesluit by die hermeneutiek is dan ook die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. Dit sluit vrae in soos: Is die Ou Testament ’n belofte wat in die Nuwe Testament vervul is; is die Ou Testament vervang deur die Nuwe Testament; of kan die Ou Testament op ’n gelyke vlak as die Nuwe Testament beskou word?

Hierdie debat is al vroeër in die gereformeerde kerke gevoer (sien TKK: Rapport van die Tussenkerklike Kommissie, 1989, in Rapport 9 & 10), daarom sal dit nie nodig wees om die hele debat te herhaal nie. Ek dink wel ons kan enkele van die aspekte asook die verskillende Skrifbeskouinge en die gevolge daarvan weer bekyk.

Beloftevervullingskema

Soos Kohlbrugge, is daar heelwat gelowiges wat glo dat die Ou Testament slegs vanuit die Nuwe Testament verstaan kan word. Hulle glo dat die Ou Testament in essensie messiaans of eskatologies verstaan moet word as ’n belofte van Jesus se koms. Hierdie uitgangspunt het sy ontstaan by die Nuwe Testament. Die Jode en die skrywers van die Nuwe Testament het die Ou Testament allegories en tipologies uitgelê. Die skrywers van die Nuwe Testament het die Ou Testament (die Griekse Septuaginta) aangehaal as “bewys” dat Jesus die messias is. Dit was nie alleen die gebruiklike Skrifuitleg van hul tyd nie, maar ook die enigste manier hoe hulle die lesers kon oortuig van hierdie nuwe godsdiens. 

Die Reformatore het hierdie selfde tradisie voortgesit omdat hulle oortuig was daarvan dat dit was hoe die Ou Testament verstaan moet word. Hierdie Christosentriese lees van die Ou Testament lyk vanuit ’n Christelike perspektief na ’n legitieme onderneming, maar die primêre probleem met so ’n benadering is die beperkte fokus. Die sensus literalis van baie van die Ou-Testamentiese tekste is nie messiaans in enige direkte sin nie. Indien die Nuwe Testament beskou word as ’n vervulling van die Ou Testament, het die Ou Testament tóg geen verdere waarde meer nie…

Die Ou Testament verkondig Jesus op geen direkte of indirekte manier nie. Die volk het wel vanweë die mislukking van hul konings en profete gehoop op ’n nuwe (politieke) leier wat hulle sou bevry, en in daardie opsig het Jesus die verwagting vervul, maar Hy het dit terselfdertyd oorspoel. Hy was baie meer en anders as wat hulle verwag het, en daarom is sy koms eintlik ’n weergalose gebeurtenis.

Fundamentalistiese lees van die Ou Testament

In sekere kringe is daar nog die idee dat die Bybel net soos wat ons dit ontvang het, die waarheid is, en dat dit as reëlboek vir ons lewens moet dien. Hierdie lees van die Bybel, en die Ou Testament spesifiek, kan ook lei tot ’n verleentheid waar daar ’n keuse gemaak moet word tussen watter gedeeltes in die Bybel dan nou “reg” is en watter “verkeerd”.

Gedeeltes soos 2 Samuel 24: 1 en 1 Kronieke 21: 1; Deuteronomium 23: 1-7 en Jesaja 56: 1-8; is enkele tekste waarin dit duidelik word dat daar tekste in die Ou Testament is wat mekaar weerspreek. Net so is dit opvallend dat Deuteronomium 23 asook Esra en Nehemia baie eksklusiewe taal gebruik en ander volke uitsluit, maar boeke soos Rut aanvaar Rut, die Moabiet, as grootmoeder van koning Dawid, sonder enige ophef of gedoente.

Die teenstrydighede in tekste, die verskillende invalshoeke en selfs verskillende teologieë wat ons in die Ou Testament aantref, maak dit duidelik dat daar nie “een” boodskap in die Bybel is nie en dat dit baie onverantwoordelik sou wees om alles in die Ou Testament klakkeloos oor te neem asof dit “wet” is. In hierdie opsig kan ’n mens maar dink aan die reinheidsreëls, offerpraktyke asook die praktyk van steniging. Dit is alles gebruike wat vandag vir ons ondenkend is om na te volg. Die wêreldbeeld van die Ou Testament was dat die aarde plat is en op pilare staan (Ps 104, 82, Job 38) – iets wat deur die natuurwetenskap verkeerd bewys is.

Indien ’n mens ’n fundamentalistiese lees van die Ou Testament wil voorstaan, beteken dit dat jy sal moet kies watter gedeeltes deel vorm van jou Bybel, en ook dat jy al die Bybelse voorskrifte tot op die letter moet navolg – iets wat nie moontlik is nie. Die verskillende kanons en die ontdekking van Qumran-tekste het dit duidelik gemaak dat enige meganiese Skrifbeskouing feitlik onmoontlik is.

Kritiese lees van die teks

’n Kritiese lees van die teks beteken nie dat alles bevraagteken word nie, maar dit beteken dat alles bestudeer word. Die konteks, die outeur, die teologie en/of ideologie van die tyd word beskou in ’n poging om die doel van die skrywe te verstaan. Tekste word bestudeer as literatuur, wat bestaan uit woorde wat binne konteks betekenis het. Woorde en verse kan dus nie buite konteks aangehaal word nie, want dan kry dit nuwe betekenis en verloor dit die bedoelde betekenis.

Dit is daarom baie belangrik om te onthou dat die Ou Testament in ’n spesifieke tyd vir ’n spesifieke gehoor geskryf is. Die skrywer se konteks en sy gehoor het hom gemotiveer om ’n bepaalde teks in ’n bepaalde tyd te skryf, met ’n bepaalde invalshoek, teologie en beklemtoning.

Dit beteken dat ons slegs ’n blik kan kry op die oorspronklike teks se bedoeling indien ons iets verstaan van die konteks waarvoor die teks geskryf is. Wanneer dit in ag geneem word en tekste binne hul kontekste bestudeer word, maak dit nie saak dat daar tekste is wat ander weerspreek nie, want dit was in ’n ander tyd vir ’n ander gehoor bedoel. 

Wanneer die Ou Testament bestudeer word as ’n teks wat vir ’n bepaalde gehoor bedoel was en die vraag gevra word wat dit vir daardie persone in daardie milieu beteken het, kan ’n universele boodskap soos dié van hoop, liefde of genade wat vir daardie gehoor bedoel was, nog vandag vir ons relevant wees. Losgemaak van polemiese gerigtheid en ideologie, as ’n teks wat getuig van God se verhouding met Israel, het die teks nog vandag vir ons waarde. Die Ou Testament is ’n getuienis van God se bemoeienis met die mens en kan verstaan word as mense se woorde oor hul verhouding met God, daarom sal dit verskil, want nie twee van ons het dieselfde verhouding met God nie, maar tog bly Hy getrou in sy liefde en sorg. 

Gevolgtrekking

Die groot misterie dat God, ten spyte van menslike pogings, met hierdie teks al duisende jare dit regkry om tot die mens te spreek, getuig ook van God se misterie en die werking van die Heilige Gees. Daarom kan ons soos Karl Barth sê dat die Bybel (Ou Testament) mensewoorde is, wat eers God se woorde word as die Gees dit vir ons preek…

Die eksegeet se Skrifbeskouing is ten nouste verbind aan sy of haar teologie. Daar is dus geen eenduidige verstaan nie, maar eerder ’n netwerk van verbande. Loader het al in 1987 daarop gewys dat selfs die Bybel nie die volle waarheid van God kan omsluit nie en alhoewel die mens God nie kan deurgrond nie, kan ons Hom deur die werking van die Heilige Gees ontmoet in ons worsteling en soeke. 

Die diversiteit van die Ou-Testamentiese tekste weerspieël die realiteit van die lewe soos deur mense in verskillende tye en kontekste betuig, maar ook hul getuienis van die verhouding tussen God en die mens. Die veelstemmigheid van die Ou Testament is ’n spieëlbeeld van die samelewing waarbinne ons lewe. Ou-Testamentiese tekste funksioneer naas mekaar en nie teenoor mekaar nie. Dit vra ’n soepelheid in denke om tekste wat verskillende oogmerke gehad het en daarom in verskillende kontekste relevant is en was, as sodanig te interpreteer. Dit is belangrik dat ons die dialektiese spanning tussen tekste handhaaf en die diversiteit koester in ’n en-en-verhouding eerder as ’n of-of-verhouding. 

Daar kan dus geen gearriveerdheid in ons Skrifbeskouing of eksegese wees nie, maar altyd ’n soeke. Die feit dat die Ou Testament oor God in verhouding met die mens handel, sluit ’n menslike aspek in, en juis dit maak dat daar in verskillende tye en kontekste anders in en oor die tekste gedink en besluit word. Dit bly dus noodsaaklik dat die tekste binne konteks gelees asook geïnterpreteer word, en dan in die huidige konteks vertaal word. Teksuitleg bly semper reformanda

(Prof Ananda Geyser-Fouché is medeprofessor aan UP se Departement Ou-Testamentiese Wetenskap)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap